Akademia bied eerste Afrikaanse private BCom spesialiskwalifikasie

Argieffoto

Argieffoto

Akademia het vandag sy eerste ten volle Afrikaanse spesialisgraadkwalifikasie, ʼn BCom-graad in bestuursrekeningkunde, aangekondig.

Hierdie kwalifikasie is belyn met die inhoud van die internasionale CIMA- (Chartered Institute of Management Accountants) program. CIMA is die grootste professionele liggaam vir bestuursrekenmeesters in die wêreld. Volgens Appie Pienaar, lid van CIMA se Afrika-streeksraad, verdien lede van CIMA uiters mededingende salarisse en geniet hulle internasionaal erkenning as geoktrooieerde bestuursrekenmeesters. Erkenning van Akademia se nuwe graad deur CIMA sal die roete na die volwaardige CIMA-kwalifikasie aansienlik vergemaklik en verkort.

“In vergelyking met die meeste ander rekeningkundekwalifikasies waar mense opgelei word met die oog op die omgewing van privaat praktyk, en waar die fokus val op eksterne oudit en belastingkwessies, berei CIMA mense voor vir ʼn loopbaan in besigheid,” het Pienaar gesê. “Dit fokus op vaardighede soos strategiese advies, risikobestuur en finansiële besluitneming, en kombineer dus die wêreld van rekeningkunde, finansies en bestuur.”

Pligte eie aan ʼn geoktrooieerde bestuursrekenmeester sluit in advies aan bestuur oor die finansiële implikasies van projekte; die formulering van besigheidstrategie; begrotingsbestuur; interne beheer; en die organisasie se plek binne die breë sakewêreld. Op dié manier help die bestuursrekenmeester om ʼn klimaat van integriteit en professionaliteit binne die organisasie te skep. Hierdie is die tweede geakkrediteerde BCom-graadkursus wat Akademia ten volle in Afrikaans aanbied. Akademia se BCom-graad in ondernemingsbestuur, wat vanaf die begin van 2014 aangebied word, was die eerste.

Volgens Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, dui die sterk belangstelling in die eerste BCom-graad, veral deur skoolverlaters, op ʼn groot aanvraag in die mark na universiteitsonderrig in Afrikaans, en dit te midde van groot polemiek wat rondom openbare universiteite heers.

Akademia beskik reeds oor vyf bestaande studiesentrums in Gauteng en twee in die Wes-Kaap waar studente hul studies nauurs kan doen, terwyl hulle voltyds werk. Voornemende studente kan nog tot 11 Desember aanlyn vir nauurse studies by Akademia registreer op die Akademia-webblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ant ·

Mooi so, ons boer nou goed vooruit. Kry asb die mediese en ingenieurs studie rigtings ook in plek, ons kan nie wag nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.