Akademia bied eerste graad in geesteswetenskappe

akademia-geesteswetenskappe-saretha-brussow-en-marthinus-visser

Saretha Brüssow, dekaan, en Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia klink ʼn glasie op ons nuwe graad, BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie). Foto: Lizán Maree/Verskaf.

Die Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia het Vrydag ʼn eerste kwalifikasie in geesteswetenskappe bekendgestel tydens ʼn byeenkoms in Centurion.

Hierdie kwalifikasie – BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie) – sal vanaf 2019 by Akademia se dertien studiesentrums aangebied word.

Die toetrede tot ʼn geesteswetenskaplike rigting is ʼn besonderse prestasie vir Akademia, aangesien dit deel van vorm van die instelling se toekomsplanne om na meer studierigtings uit te brei wat beide die toegepaste en die geesteswetenskappe insluit.

“Akademia is nou maar eers sewe jaar oud, maar ons streef nog altyd daarna om die beste van Afrikaans na die wêreld te neem en die beste van die wêreld na Afrikaans te bring.

“As ons instelling se planne mooi uitwerk en ons genade ontvang, sal hierdie graad dan ook deel vorm van ons planne om ʼn kleiner aanbod van kontakklasse vir studente by Akademia se nuwe kampus in Gerhardstraat, Centurion, aan te bied. Die aanbod sal agt kwalifikasies insluit in die bestuur-, natuur- en geesteswetenskappe,” het Marthinus Visser, uitvoerende hoof van Akademia gesê.

Volgens Visser is die groter toekomsdroom tans om teen 2023 soveel as 40 kwalifikasies deur sewe fakulteite by die kampus aan te bied vir sowat 6 000 studente met koshuisgeriewe.

“Akademia gaan ʼn akademiese tuiste vir studente en dosente skep en die instelling wil dit toespits op die rol wat ʼn moderne universiteit moet vervul. Elke gemeenskap het ʼn universiteit nodig,” het hy bygevoeg.

Prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, het tydens die bekendstelling gesê met die nuwe graad sprei Akademia sy vlerke sodat dit nou selfs nog hoër kan vlieg.

Hy het aangevoer ʼn graad in die geesteswetenskappe help om studente voor te brei om hulle verbeelding te gebruik en met innovasie te kan dink. Boonop verskaf dit studente ʼn begrip en waardering om met die nodige geskiedkundige agtergrond en ʼn geheelbeeld na die ekonomie en politiek te kyk.

“Akademia as relatiewe jong hoëronderwysinstelling poog om aan die voorpunt van bedryfsrelevante kwalifikasie-ontwikkeling te wees; om studente vir ʼn snel veranderende en komplekse werksplek voor te berei,” het dr. Saretha Brüssow, dekaan van die instelling, verduidelik.

Die samesnoering van vakdissiplines soos politiek, filosofie en ekonomie het reeds oor die afgelope honderd jaar op internasionale vlak gewild geraak.

“Waar ons programaanbod voorheen net op die ekonomiese wetenskappe gefokus het, dui die toetrede tot die geesteswetenskaplike veld op ʼn begrip van die sosiale aspekte van die werklikheid,” sê Brüssow.

Die uniekheid van die BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie), is dat dit ʼn kombinasie van drie selfstandige studierigtings in een kwalifikasie daarstel.

In die voltooiing van hierdie kwalifikasie leer studente dat politiek, filosofie en ekonomie met mekaar vervleg is. Hierdie geïntegreerde benadering skep ʼn breër basis en ʼn hoër plafon betreffende professionele aanpasbaarheid en werksmoontlikhede.

“Alhoewel ekonomie as dissipline bedryfsrelevant is en besigheidspersone vir die werksplek voorberei, is daar ʼn tendens om werknemers in diens te stel met ’n filosofiese en politiese agtergrond, aangesien die multidissiplinêre benadering kritiese denke ontsluit,” meen Brüssow.

Die veelsydigheid van hierdie graad skep geleentheid vir die afgestudeerde student om ʼn keuse van beroepswêrelde oor verskeie velde te betree, insluitende politiek, joernalistiek en die bankwese.

Studente wat hierdie kwalifikasie voltooi stap weg met ʼn breë begrip van die wêreld waarin hulle leef, en sal oor die nodige kennis en vaardighede beskik om uitdagings van die moderne besigheidswêreld vierkantig in die oë te staar.

  • Besoek Akademia se webwerf vir meer inligting oor hierdie nuutste kwalifikasie, BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Eish ·

Gee kans, dis n lang bouproses.
Ek sien uit na beroepstigtings soos Geoktroieeëde rekenmeesters, medies, ingenieurswese ens.
Dan natuurlik, vanweë moedertaalonderrig gaan hul, hul eweknieë in die geafrikaniseerde universiteite loshande om die eerste draai los.

John ·

As Akademia hoog wil vlieg het dit bekwame en ervare loodse nodig met kwalifikasies nie net ooms en tannies nie… hoeveel deernis hulle ookal het. Ek kan ok probeer om ‘n paar goed aan te bied… maar my waghond waarborg nie die uitkoms nie…

Theo ·

Weereens laat niks ons Afrikaners onder kry nie, die eienskap loop al vandat ons voet aanwal hier in die suid punt van Afrika gesit het. Ons Handhaaf en bou n toekoms vir ons kinders. Dankie Akademia.

Kundiges ·

Daar is baie kundige professionele persone, dosente en afgetrede kundiges wat met graagte sal help om kursusmateriaal te ontwikkel, julle kan dit selfs ‘n crowdsourcingprojek maak.

Eddie ·

Geluk Akademia !!!
Wil julle nie ook Kampusse na die platteland bring nie ? Baie ruimte teen goedkoop tariewe beskikbaar ! Noord Natal sal julle graag wil akkomodeer !

Anton ·

Veels geluk Akademia. Ek hoop meer tegniese rigtings soos ingenieurswese volg binnekort.

Wiki ·

Kan nie wag dat julle M Psych aanbied nie. Ons ou pienkes is vasgevang in ons velle en agv equity is dit baie moeilik om keuring te kry. Kan partykeer hande saam slaan vir die wat keuring kry en ek dink met trane in my oë aan die arme pasiënte… Asb gou voor ek te oud is….

Conrad ·

Saretha, is daar één enkele werksplek met ‘n fokus op wit Afrikaners wat deel vorm van hierdie ‘tendens om werknemers in diens te stel met ‘n filosofiese en politiese agtergrond’? Noem asseblief daardie instelling of organisasie? Enige advertensies waarna jy kan verwys? Waar is die poste geadverteer? Indien jy verwys na BBBEE dan is jy reg – maar dis seker nie jou motivering nie?

Jan Brandt ·

Afrikaanses kan mik vir Henneman se koöperasie – dalk het Carnavon nog ‘n hand sentrale?

koos ·

gaan mense wat hierdie graad in geesteswetenskappe verwerf, hoegenaamd werk kry? Ek het so n graad, en behalwe dat my “verkeerde” ras my keer op keer gekeer het om werk te kry, moes ek ook hoor my geesteswetenskaplike graad is “just a glorified matric” (my hoofvakke was geskiedenis en geografie) en ek moes hoor “does BA mean business administration?”. Dis toe dat ek besef het my graad is ‘n meulsteen om my nek en dat dit keer dat ek ordentlike werk kan kry.
Ek het die graad verwyder vanaf my CV, bloot daardie drie jaar beskryf as “studied at university”. Ek het nooit meer na my graad verwys nie maar matriek as my hoogste kwalifikasie aangedui. NIEMAND het my ooit in werksonderhoude gevra wat ek op universiteit studeer het en of ek n graad behaal het nie. Uiteindelik het ek selfs weer ordentlike werk gekry.
Ek het wel n agterstand, want die aantal jare van “mediocre” waartydens ek gedink het “eendag” sal ek ordentlike werk kry want “ek is mos gegradueerd”, het skuld laat ophoop en baie ander finansiële probleme geskep.
My raad aan enige wit mens wat in geesteswenteskappe wil studeer is, dink BAIE GOED of jou graad gaan help om te verseker dat jy gaan werk kry daarmee. Onthou ook maar realiteite soos regstellende aksie en BEE.

jaco ·

hoe gaan academia by regstellende aksie en BEE verbykom? as hulle aantal personeel n sekere getal oorskry en/of as hulle finansiële omset ‘n sekere bedrag oorskry, MOET hulle begin voldoen aan die vereistes van regstellende aksie en BEE. Om hulle personeel met Afrikaanssprekende Kleurlinge te laai, gaan net tot op ‘n punt help en dan nie meer nie, veral om die volgende redes:

1. Akademia se hoofkantoor is nie in die Wes-Kaap nie. Kleurlinge is ‘n meerderheid slegs in die Wes-Kaap
2. Selfs in die Wes-Kaap word reeds vir Kleurlinge wat werk soek gesê “sorry but you are not black enough”
3. So n gelaaiery met mense van ‘n spesifieke ras staan bekend as “window dressing”. Owerhede wat regstellende aksie en BEE monitor is deeglik bewus daarvan en boetes daarvoor is groot.

En dan is daar ook nog die feit dat meeste van Akademia se wit en kleurling gegradueerdes bitter moeilik gaan werk kry NET omdat hulle nie begunstigdes is van regstellende aksie en BEE nie. So sonder werk, HOE gaan hulle hulle studiegeld terugbetaal?

Ian Raper ·

Baie geluk, Akademia. Onthou, ‘n taal se literatuur is sy wese. Ek sien uit na die dag dat ons Afrikaans as hoofvak aanbied. Almal besef watter waarde daar is, wat steeds aangevul word.

HMV ·

Geluk Akademia en dankie vir dit wat julle tot stand bring! Julle maak my trots en hoopvol!! My kindertjies is nog klein, maar ek weet waar hulle gaan studeer! (DV)

Pieter Loubser ·

Veels geluk. Wanneer julle filosofie en etiek per se as graad aanbied, skryf ek in al is ek oor die sewentig jaar oud. Mooi so Akademia.

Andre ·

Ek kan met trots se dat ek al jare lank Solidariteit se “Boufonds” steun en nou die vrugte daarvan kan sien. Steun die die Boufonds eerder as die kritiek op die uitnemende resultate.
Privaat Afrikaanse onderrig instellings is die pad om te gaan. As ek voorstelle kan maak moet dit oop vir almal wees (natuurlik net in Afrikaans) en as verder vereiste moet die student n betalende Solidariteit en Afriforum lid wees. Hoe langer jy n lid is hoe meer voorkeur met keuring. Dit sal baie help as chaos filter.
Lank leef die Afrikaner, Afrikaans en Akademia.

Andre

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.