Akademia en eNuus stel R1 miljoen se studiebeurse bekend

akademiaAkademia het saam met eNuus as mediavennoot, in wat as nog ʼn eerste in die privaat hoëronderwysindustrie beskou kan word, vyf Elite-beurse ter waarde van meer as R1 miljoen bekend gestel.

Die beurse is tydens ʼn funksie by Hoërskool Waterkloof aangekondig, met verskeie ander prominente skole in Pretoria wat die geleentheid bygewoon het.

Presterende skoolverlaters wat belangstel in BCom Ondernemingsbestuur-graadstudies by Akademia in 2015, kan vir hierdie Elite-beurse aansoek doen. Die Elite-beurse dek alle studiekoste en studente word tydens hul studies in verskeie werksomgewings geplaas om sodoende noodsaaklike werkervaring op te doen. Beurshouers neem ook tydens hul studies aan mentorskap- en persoonlike ontwikkelingsprogramme deel en na die suksesvolle voltooiing van hul graad kry hul die geleentheid om op ʼn studietoer na die buiteland te gaan.

Volgens Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, is dit in die moderne kennisekonomie nodig om goed gebalanseerde studente aan die werkplek te lewer. “ʼn Mens hoor toenemend dat werkgewers kla oor pas afgestudeerde studente se onvermoë om ʼn verskil in die werkplek te maak,” het Visser gesê. “Studente wat hierdie beurs hou, sal by uitstek gereed wees om waarde toe te voeg waar hul ook al gaan beweeg.”

Studente kan op Akademia se webblad www.akademia.ac.za aansoek doen en hul beursprogram-aansoeke tot en met 20 November aanlyn indien. Suksesvolle aansoekers word op 2 Desember aangekondig. Registrasie vir studies by Akademia sluit op 4 Desember 2014.

Hierdie beursprogram bied verder aan belangstellendes uit die gemeenskap en industrie die geleentheid om aan Afrikaanse kinders indiensopleiding te bied, terwyl hul studeer. Vir enige navrae in die verband, skakel Akademia by 0861 222 888.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.