Akademia gaan volstoom voort

Akademia-01

Akademia se nuwe kampuskompleks in Centurion, Pretoria. Foto: Verskaf.

Met die bekendmaking vandag dat ’n kampuskompleks in Centurion aangekoop is, het Solidariteit ’n groot stap vorentoe geneem met die uitbouing van Akademia tot ’n volwaardige Afrikaanse universiteit. Die uitbreiding van Akademia het hierdie stap genoodsaak omdat die aanbieding van drie nuwe grade en verskeie ander kursusse vir 2016 beplan word. Dit sluit opleiding in drie nuwe studierigtings in, naamlik Verpleegkunde, BCom Ekonomie en Regte, asook BCom Finansiële Beplanning. Na verwagting sal Akademia in 2016 sowat 500 studente l hê wat geregistreer sal wees vir een van agt kwalifikasies, waarvan vyf grade, twee hoër sertifikate en een ’n gevorderde diploma is.

Die voorsitter van die Solidariteit Beweging, Flip Buys, het by die geleentheid gesê dat daar volstoom voortgegaan word om Akademia uit te bou en dat die Beweging nie afgeskrik word deur hol dreigemente van randgroepe soos die sogenaamde “Higher Education Transformation Network” (HETN) nie. Die HETN het gister gedreig dat hulle Akademia by die departement van hoër onderwys wil verkla omdat dié instelling kwansuis op rassegronde teen studente sou diskrimineer.

“Akademia is ten volle geakkrediteer en by die departement van hoër onderwys geregistreer. Die departement en die Raad op Hoër Onderwys is nog elke jaar tevrede dat Akademia volledig voldoen aan die tersaaklike regulatoriese vereistes,” het Buys gesê. “Akademia is oop vir almal wat universiteitstoelating verwerf het en wat in Afrikaans wil studeer. Daar word nie op enige grond teen studente gediskrimineer nie.” In beginsel is daar geen verskil tussen Akademia se Afrikaanse voertaalbeleid en ander universiteite wat in Engels klasgee nie. Die Grondwet maak in artikel 29 uitdruklik voorsiening vir privaat hoër instellings wat in enige landstaal klasgee. Die verengelsing van byna al die histories Afrikaanse universiteite het dit noodsaaklik gemaak dat privaat instellings soos Akademia vinniger uitgebou moet word. “Dít is nodig sodat Afrikaanse studente hul reg op moedertaalonderrig kan uitleef én toegang kan hê tot gehalte-opleiding op universiteitsvlak by ’n instelling waar hulle tuis en veilig voel,” het Buys gesê.

Regstelling en insluiting

Afrikaanssprekendes maak sowat 15% van alle jongmense met matriekvrystelling uit, terwyl daar vir minder as 5% van hulle ruimte is om in Afrikaans te studeer. “Dit beteken dat die studieruimte vir Afrikaanse studente nie verteenwoordigend is van die nasionale demografie nie”. Buys sê Akademia se doel is om hierdie tekort reg te stel deur te sorg dat die toenemende uitsluiting van Afrikaanse studente op grond van taal en ras gestop word deur voorsiening te maak dat hulle ingesluit word by studiegeleenthede. Suid-Afrika, met minder as 10% privaat studente, is ver agter die res van die wêreld as dit kom by privaat universiteitsopleiding, waar meer as 70% van studente in lande soos die VSA byvoorbeeld aan privaat universiteite studeer. “Die tekort aan universiteite noodsaak die totstandkoming van meer privaat universiteite as deel van die oplossing vir die land se vaardigheidstekort. Daarom is Akademia bereid om ander taalgroepe by te staan met die oprigting van privaat “susterinstellings”, juis omdat moedertaalonderrig ’n bewese suksesresep is,” het Buys gesê.

HETN

Die HETN is ’n omstrede randeiergroep wat aanhoudend ondeurdagte hofsake aanhangig maak en dit aanhoudend verloor. Terwyl die HETN hoogheilig uitsprake maak teen sogenaamde rassistiese praktyke by Akademia, rep hulle nie ’n woord oor die rassistiese uitsluiting van wit studente by talle opleidingsinstellings in die land of wanneer selfs die armste wit student vanweë ras nie toegang tot studiebeurse kan kry nie. Solidariteit verwerp die selektiewe rassisme van skynheilige mikro-organisasies soos die HETN. “Hierdie rassisme onderstreep die noodsaaklikheid dat Afrikaanssprekendes al meer self voorsiening sal moet maak vir studiegeleenthede en studiefondse vir alle Afrikaanse en wit studente wat vanweë hul taal en ras nie toegang daartoe kan kry nie,” het Buys gesê.

In eNuus se insetsel word daar verwys na die uitsprake wat deur dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, gemaak is oor Akademia. Lees gerus wat Buys destyds hieroor gesê het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Debs ·

Baie geluk aan julle. Ek bid vir julle alle voorspoed en sukses toe. Asook dat die studente ‘n groot sukses sal maak hiervan, want Solidariteit stel sy mense eerste.

Saam sal ons ondersteun.

Anita ·

Hoe moet ons kinders konsentreer op hulle studies met al die politiek en bekommernis oor hulle veiligheid by die huidige universiteite?

Dankie Solidariteit, vir Akademia.

Hansie ·

Baie dankie vir volgehoue moeite om regverdigheid te bewerkstellig. Ek is oortuig die uitslae gaan vir hulle ‘n groot verleentheid wees. Dit gaan nie oor Afrikaans vir hulle nie. Dis die punte wat tel….

Gwen ·

Ek hoop van harte dat hierdie inisiatief sy volle potensiaal bereik. Waar moontlik sal ek op welke terrein ook al ’n bydrae lewer.

Leeutjie ·

Weereens stem ek saam Peet! Hoe lank voordat die kwansuise “minderbevoorregtes” weer beswaard gaan raak, en bande brand, geboue afbreek en danse uitvoer waar alles wip en skud!!

Peet Schabort ·

Leeutjie, ek té na aan die waarheid en die kommentaar sneuwel toe . . .

Leeutjie wat kan spel ·

Ja Peet, ek ondervind dit ook! Dis snaaks myne het nie ook gesneuwel nie!!

Johan 2 ·

Wel, ons kan nie sit en toekyk nie, ons moet iets probeer en ek glo dit sal werk.

Nita ·

Wat van mediese grade. Ons kinders smag om mediese dokters te wees. Vergeefs ……

Harry ·

Baie geluk met nog `n mylpaal op die pad na Afrikaans-selfstandigheid. 3 van ons kleinseuns studeer tans in Engeland en Tjeggie. 2 is meermale met feitlik slegs A- en A-plus simbole op “A-level” dws die 13e jaar in die VK verwerf, weggewys by Universiteit Stellenbosch. 2 studeer tans medies en tandheelkunde en die derde ruimte-ingenieurswese by Cambridge. Hulle praat net Afrikaans by die huis. Jammer dat Akademia nie reeds in 1994 gestig is nie. Wat van `n sattelietkampus op Orania? Weg van die bedwelmde skare.

Johan 2 ·

Dankie Harry, ek sal graag my dogter (sy is 3) na Orania stuur om te leer! Droom al lank oor n hoër onderwys instelling in Orania, ek dink dit sal puik wees, en wie weet dan kan ek dalk ook eendag daar gaan bly.

Elsa Kleynhans ·

Akademia doen so voort. Te veel kinders gaan gebuk onder BEE na 21 jaar van demokrasie.

Bert ·

Begin ‘n Akademia fonds bykomend tot bestaande finansiering bronne. Sal graag ekstra wil bydrae. Julle is pioniers. Kom ons bou dit so vinnig as moontlik uit.

George ·

Weereens baie dankie Solidariteit vir wat julle vir ons mense doen. Moet asb nie van koers verander nie of julle laat afdreig. Steur julle asb nie aan die beswaardes nie, hulle het in elkgeval geen bydrae gelewer en soek maar net ‘n geleentheid om gratis saam te ry.

Don du Toit ·

As oud Matie dosent wil ek graag Solidariteit gelukwens met die buitengewone en insiggewende inisiatief om Afrikaans as leertaal te bevorder sovel as moedertaalonderrig te steun.

Vixie ·

Baie dankie dat daar weer ‘n sprankie hoop in my kon opvlam oor die toekoms van Afrikaans. Ek is so siek en sat vir al die aanslae teen ons taal, veral gemik op Afrikaans-medium skole. Ek het al die vraag gevra of die Duitse skool in die Ooste van Pretoria ook dieselfde druk ervaar om hulle beleid te verander om “almal in te sluit”. En wat Akademia aanbetref; kyk maar net na TUT (Tswane University of Technology) om te sien wat gebeur as sekere elemente toegelaat word om hul gang te gaan. Doen so voort Solidariteit en Akademia!

SI ·

Wel gedaan! My kind pas graad ontvang by Noordwes Universiteit …. nou weet ons dat daar nog ‘n heenkome is vir ons Afrikaanssprekendes. Mag julle elke jaar net nog verder groei en dankie vir alles wat julle vir ons mense doen!

Breytie ·

Ek onthou toe ek begin skoolhou het in die sestigerjare is daar by al die Afrikaanse skole fondse ingesamel om te help betaal vir die bou van die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU). Nou is dit ‘n Engelse universiteit reg langs die Engelse Wits universiteit, maar dis Afrikanergeld wat daardie groot indrukwekkende gebou daargestel het. Vandag kan ons dit weer doen! Ons kan op allerlei wyses geld insamel deur kleuterskole, laerskole en hoërskole te betrek om muntleggings, koekverkopings en wat nie alles nie te reël en aan te hou tot Akademia al die nodige grade kan voorsien. Ek is bereid om die eerste R1000-00 te skenk vir enige groep jongelinge wat kans sien om te begin pannekoeke bak en verkoop by rugbywedstryde of konserte of veilings of waar ookal. Dis my uitdaging aan almal wat eendag by julle eie universiteit wil studeer. Wie gaan dit aanvaar?

Johan 2 ·

Medies, medies , medies…begin sommer by oogkunde kofsies val uitmekaar oor rasse twak.

Lex ·

Eks gek oor Afrikaans, by verre die mooiste taal ter wêreld, so ook ondersteunend tot enige initiatief wat dit bevorder. So geluk aan Akademia. My vraag net (en sien dit asb in die lig van konteks): 1. Wat word gedoen rondom die beskikbaarheid/gebrek van handboeke in Afrikaans wat die leerder voorberei vir die internasionaal blootgestelde wêreld van werk; 2. Word die leerders ook geleer om hulself korrek uit te druk in engels, wat die mees algemene (internasionaal) taal in besigheid is (ons werksplekke is divers veral wat taal betref, mens mag nie verby dit kyk nie, sal onbillik tot enige leerder wees).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.