Akademia ken sy eerste grade toe

akademia-gradeplegtigheid-2017-04-07

Van die studente wat vandag van Akademia se eerste grade ontvang het. Foto: Jhua-nine Wyrley-Brich/Forumnuus.co.za.

Akademia het vandag by sy vyfde jaarlikse plegtigheid waartydens akademiese kwalifikasies toegeken word vir die eerste keer grade toegeken. Dertien studente wat in 2014 ingeskryf het vir die graad BCom Ondernemingsbestuur en dit einde verlede jaar voltooi het, het hul grade ontvang.

Altesaam 76 studente van regoor die land, asook ʼn student in Nieu-Seeland, het by dié geleentheid erkenning vir hul voltooide studie ontvang. Sowat 400 mense het die geleentheid in die Atterbury-teater in Pretoria bygewoon waar prof. Danie Goosen die geleentheidspreker was.

Piet le Roux, akademiese hoof van Akademia, het gesê dié instelling is trots op hierdie mylpaal: “Akademia het die afgelope vyf jaar gehalte-universiteitsvlakkwalifikasies soos nooit tevore nie binne die bereik van Afrikaanse studente geplaas. In 2012 het ons met hoër sertifikate begin. In 2017 ken ons die eerste grade toe. Intussen is 750 ander studente reeds druk aan die werk in vier graadprogramme en verskeie ander kwalifikasies.”

“Ons wens die studente geluk en bedank daarby ons ondersteunersgemeenskap wat hierdie droom gedeel het en die verwesenliking daarvan moontlik maak,” het Le Roux gesê.

Benewens die toekenning van 13 BCom Ondernemingsbestuur-grade, is 14 Gevorderde Diplomas in Projekbestuur, drie Diplomas in Kleinsakebestuur, een Diploma in Bemarking, 19 Hoër Sertifikate in Kantooradministrasie en 26 Hoër Sertifikate in Rekeningkunde toegeken.

Le Roux het gesê dit is vir Akademia ʼn eer om Goosen as geleentheidspreker te kon hê: “Prof. Danie Goosen het ʼn onvermoeide ywer vir die universitêre gedagte. In sy boodskap as een van ons voorste openbare intellektuele, herinner hy ons voortdurende aan die Westerse tradisie en ons Christelike etos, aan die belang van gemeenskap en plek, en tegelykertyd die aanlê van ʼn veelheid van verbande na ander gemeenskappe en plekke. In ʼn tyd waarin universiteite dikwels van hul gemeenskappe afskeid neem in ʼn hoop om daardeur internasionaal te wees, wys prof. Goosen ons op die gevare daarvan en op gebalanseerde alternatiewe. Ons is bevoorreg om hom as lid van ons adviesraad te hê en bedank hom vir sy boodskap.”

Die gradeplegtigheid het die oorhandiging van spesiale toekennings aan top-presteerders ingesluit. Elsie Elizabeth Bakker is as top-presteerder in die BCom Ondernemingsbestuur-program aangewys en Suerica Pietersen het met die louere weggestap in die Gevorderde Diploma in Projekbestuur. Anika Miske het die beste punte in die Diploma in Bemarking behaal het. Anéll de Beer beklee die top-posisie in die Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie en Dawie Oosthuysen dié in die Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Helena ·

Dit gee hoop aan ons wat ouers van klein kindertjies is. Nie alle universiteite brand nie!

JC ·

Geluk julle. Dit is die begin van groot dinge vir Afrikaanse privaat tersiere onderrig!
Afrikaners bou op Rots:)

jaco ·

Behalwe vir die student uit Nieu-Seeland, wonder ek waar gaan al hierdie gegradueerdes met hulle WIT velkleur werk kry? Onthou regstellende aksie EN ‘n krimpende ekonomie weens rommelstatus. MOENIE sê hulle kry werk oorsee in wit lande nie. Dis onmoontlik dat hulle ALMAL kan bekostig om die land te verlaat. Europa en Amerika se ekonomieë kan ook nie onbepaald net mense inneem en inneem nie. Na 1 jaar werkloos het ek alle aanduidings dat ek 2 universiteitsgrade het, verwyder vanaf my CV. Dit was al manier wat ek weer ordentlike werk kon kry.

Piet ·

Hi Jaco,dit is nie so dat hierdie mense nie maklik oorsee sal kan gaan met hulle grade nie. As jy nog jonk is en bereid is HEEL onder begin vat hulle jou maklik. Jy moet jouself dan maar gaan opwerk van onder af. In Amerika is daar baie werk vir die wat wil werk, want glo my daar is ook n groot segment wat eerder sit en teer op die regering as om self te werk. Hulle skrik hulle dood as ons daar aan kom en werk soos net ons kan werk- ek was self daar.

AN ·

Ag nee Piet, dis darem nie waar nie. Dis baie moeilik om oorsee in te kom, veral in sekere lande. Almal weet jy klim nie sommer op ‘n vliegtuig en soek dan werk nie, veral nie in Amerika nie.

Jaco Grobler ·

Baie maklik, hulle het BCom Ondernemingsbestuur geswot, hulle begin ondernemings en word werkskeppers eerder as werknemers, as jy in SA bly en jy maak jou kind groot om net nog ‘n werkNEMER te word, het ek nuus vir jou…

japie ·

Baie geluk julle! Dis goeie nuus vir Afrikaans en ondernemingsgees! Voortreflike onderrig in Afrikaans moet ‘n prioriteit wees!

Johan Neuteman ·

Inligtingsvraag, nie noodwendig kritiek nie: waaraan ontleed Akademia die gehalte en relevansie van sy opleiding, of anders gestel, waaraan word dit gemeet wat die kwalifikasies werd is? Wie is die leermeester(s), die gerekende akademici aan wie se voete die studente spreekwoordelik leer en op wie se reputasie die mark daarbuite dan kan staatmaak dat hierdie studente ‘n sekere minimumvlak en ‘n bepaalde tipe opleiding het?

Mariet ·

Ek wonder maar ook oor hierdie grade. My dogter so pas haar Onderwys graad aan Unisa voltooi. Vier harde jare verder terwyl sy studeer het met ‘n voltydse werk en ‘n gesin met drie kinders, wag sy nog steeds op ‘n datum vir haar grade plegtigheid. Om enige inligting uit Unisa te kry is onmoontlik. Hulle antwoord nie hulle fone nie, is traag om op enige e-posse te antwoord. Nou vind ons ook uit dat ‘n Unisa graad nie oral oorsee aanvaar word nie omdat dit langafstand onderrig is. Ek hou styf duime vas dat Akademia wel ‘n sukses sal wees en sodoende vir ons kinders ‘n kans kan gee vir ‘n goeie toekoms. Maar Unisa is, volgens my mening, besig om ‘n slegte naam te ontwikkel onder die studente.

Fanie ·

Ek het een van my grade gedurende Mei by UNISA ontvang. Ek sou nie te gou opgewonde raak nie wees geduldig.

CHRISTA ·

Hoe kon hulle in 2014 hulle ingeskryf het en 2 jaar later (2016) hulle graad ontvang het?

Oosie ·

Ai tog Christa. Begin 2014, 2015 en einde 2016 = 3 jaar. (Jy bietjie verroes geraak?)

André Badenhorst ·

Baie geluk aan almal by Akademia (studente, dosente en ondersteuners) met die groot mylpaal na ‘n blink toekoms.

” ‘n Reis van ‘n duisend myl begin met die eerste tree…”

Sonja ·

3jaar, harde werk dit het ek gesien weekliks met my skoonsus wat in die artikel genoem word, 3 kinders wat almal studeer, sy het voltyds gewerk en haar gesin ondersteun en nog met lof geslaag

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.