Akademia: ‘ʼn Verbintenis met die gemeenskap’

Marthinus Visser van Akademia. Foto: Cyril Blackburn

Marthinus Visser van Akademia. Foto: Cyril Blackburn

Akademia se amptelike bekendstelling van sy nuwe perseel in Centurion is beskryf as die begin van groot dinge vir dié hoëronderwysinstelling, gemeenskapsuniversiteite en Afrikaans.

“Alle universiteite het klein begin, met hul eerste gebou en was een keer vyf jaar oud. Ons klink die glasie op meer as ʼn perseel, maar op ʼn fondament waarop ons ʼn toekoms wil bou. Ons beskou onsself as deel van ʼn groter geheel,” het Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, gesê.

Piet le Roux, akademiese hoof van Akademia, het Vrydag tydens die bekendstelling gesê dié instelling leen hom tot ʼn verbintenis met die gemeenskap en ʼn oopheid om aktief aanknopingspunte in die internasionale kennisgemeenskap te vind.

Le Roux het gesê dít is die belangrike elemente waarop die universiteit gaan fokus, maar met die erkentlikheid aan sy eie lewensbeskoulike vertrekpunte.

“Henk Schalekamp, voorsitter van die direksie, sê ons is Afrikaans in ʼn oop, Christelike tradisie. Ons wil graag aktief aanknopingspunte in die internasionale kennisgemeenskap vind en beskou onsself as deel van ʼn groter geheel, maar sonder om onsself in die proses te ontken. Ons wil by Akademia deel van ʼn groter internasionale kennisgemeenskap wees, maar met erkenning aan wie ons is,” het Le Roux gesê.

Hy het vertel die universiteit is eintlik ʼn omgekeerde weergawe van baie hoër instellings in Suid-Afrika. “Daar is internasionale vrae oor die aard en wese van die universiteit. Akademia is in ʼn sekere sin nie tradisioneel nie, want ons gebruik die nuutste tegnologie, soos optiese vesel en videokonferensies. Maar die universiteit wil tradisioneel wees in sy idees, sy verhouding met die gemeenskap en die res van die wêreld. In ʼn sekere opsig is ons die teenoorgestelde van baie ander instellings waar daar tradisionele geboue is, maar weggedoen is met die tradisionele idee dat die gemeenskap belangrik is.”

Tydens die bekendstelling van die nuwe perseel is ʼn hoeksteenlegging gehou ter ondersteuning van die oprigting van die nuwe universiteit deur die Solidariteit Beweging, Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, FAK, ATKV, SAOU en die Afrikaanse Taalraad.

Buys het tydens sy toespraak die oprig van ʼn privaatinstelling vergelyk met ʼn resep. “Neem een groot krisis. Pak dit met leierskap en visie. Voeg ʼn paar stewige skote wilskrag by. Versterk die mengsel met kinderlike geloof. Verdun dit met helpmekaar-energie. Klits hope harde werk by. Versoet met ʼn strewe na uitnemendheid. Bak dit in ʼn groot bak vir sowat ʼn dekade met volharding,” het hy verduidelik.

Hy het gesê dié resep is een van sukses wat die projek tot dusver soveel laat bereik het. “Die omstandighede kan mens verlam met magteloosheid, of dit kan gebruik word om oplossings te skep. Ons voorouers was gewone mense wat in ongewone omstandighede buitengewone dinge gedoen het. Van ons grootste prestasies was in tye waar ons nie politieke mag gehad het nie, maar gemeenskapskrag. Jy kan met gemeenskapsenergie baie bereik. Ons as gemeenskap kan dit doen – ons het dit al voorheen gedoen en ons kan dit weer doen.”

Akademia het tans sewe studiesentrums en meer as 400 studente in twee graad- en etlike diploma- en sertifikaatprogramme dwarsdeur die land. Die Virseker Trust het tydens die bekendstelling van die perseel ʼn tjek ter waarde van R9.3 miljoen aan Akademia geskenk vir verdere uitbreiding en opleiding.

Lees ook oor die nuwe kursusse wat Akademia aanbied.

Besoek Akademia se webwerf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

TDW ·

Sjoe maar ek is trots! Ek hoop die regering kan nou leer hoe mens iets bou en behou!

Hermann Grobler ·

Baie geluk met julle nuwe geboue en ons is trots op julle!!!!

DPJ ·

Mooi so knap gedaan. Opreg tros Afikaans.
Wys jou wat kan saamstasn nie alles vermag!

DPJ ·

Mooi so opreg tros op Afikaan. Wys jou wat saanstaan in die geloof nie alles kan vermag.

dries ·

Mooi so mense, as ons saam staan gaan ons wen. Ek voel sommer nou om nooit uit hierdie land te trek, en sommer bly ek is n afrikaner, murg en been.

Oom Boer ·

Gebed en Geloof verander sake. Is dit darem nou nie ‘n groot oomblik in die geskiedenis asook ‘n gevoel van opgewondenheid asook om waardig trots te kan wees op al hierdie instansies wat hande neem en ‘n behoefte bepaling kon doen en die Opleidings strukture daar te stel vir die jonger generasies om deurgaans en opbouend hul kennisse te kan verbreed en positiewe bydrae tot die gemeenskappe te kan lewer. Baie geluk en ‘n groot dank gaan aan elke instansie en persoon wat dit moontlik gemaak het, dit is waarlik ‘n trotse oomblik. Mag jul en hierdie fasiliteite vir altyd en ewig net geseënd wees met ons “Hoër Hand in Jesus Christus.

Michael ·

Goeie dag vir Afrikaans sprekende studente hou asb die rooi beret anargiste uit

Ernest ·

My sewentigjarige hart is trots op almal wat hard gewerk het aan hierdie doelwit wat vd Afrikaner. Ek is TROTS op my Volk, want ek weet dat ons nooit verslaan kan word nie…!!! Hou so vol my Volk, voor in die wapad brand ‘n lig..!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.