Akademia: “Ons gaan volstoom voort”

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging Foto: Reint Dykema, Solidariteit

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging Foto: Reint Dykema, Solidariteit

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het Sondag aan Maroela Media gesê hulle gaan volstoom voort met Akademia, ondanks minister Blade Nzimande se uitlatings aan Rapport.

Nzimande, minister van hoër onderwys, het aan die Sondagkoerant gesê hulle sal die privaat universiteit Akademia se registrasie te onttrek indien dit eksklusief Afrikaans gaan bly. Hy het gesê hy kan nie ʼn universiteit toelaat wat enige toegang aan enigiemand weier nie, selfs nie as dit op taal gebaseer is nie, het die koerant berig.

Buys het egter gesê hulle gaan volstoom voort met Akademia. “Ons voldoen volledig aan die Grondwet en het volle vertroue in Akademia se toekoms,” het hy gesê.

Akademia, deel van die Solidariteit Beweging, bied universiteitsopleiding aan studente wat in Afrikaans wil studeer.

“Ons droom is om Akademia tot ‘n Afrikaanse ‘Harvard’ uit te bou, wat self ‘n privaat universiteit is,” het Buys verduidelik. “Hoewel privaat universiteite in Suid-Afrika nog betreklik nuut is, lei hul in lande soos die VSA byna 75% van studente op. Die openbare universiteite kan nie aan die groeiende vraag na universiteitsopleiding voldoen nie, en daarom verwag ons dat Akademia vinnig verder gaan groei.”

Buys het daarop gewys dat hulle, soos met die tegniese kollege Sol-Tech, al aangebied het om instellings te help wat in ander inheemse tale hoër opleiding wil gee.

Marinus Wiegers, voormalige rektor van Unisa en lid van Akademia se adviesraad, meen as grondwetkenner dat Akademia ook ten volle aan die Grondwet voldoen.

Koos Malan, regsprofessor van Tukkies, het dit ook beaam. “Die Grondwet magtig die stigting van privaat onderwysinstellings op voorwaarde dat hulle nie op grond van ras diskrimineer nie; aan basiese standaarde voldoen en by die staat geregistreer is (in die geval van ’n hoër onderwysinstelling kragtens die Wet op Hoër Onderwys),” het Malan verduidelik. “Behalwe talle enkelmedium (spesifiek Afrikaanse) private oftewel onafhanklike skole, bestaan benewens Akademia reeds vir geruime tyd ook enkelmedium Afrikaanse hoër onderwysinstellings.”

Malan sê die uitbreiding van Akademia as so ’n instelling is derhalwe allermins ’n totaal nuwe proefneming. Dit is optrede kragtens die tersaaklike wetgewing en in ooreenstemming met die Grondwet en as deel van ’n reeds goed gevestigde praktyk.

“Hierdie instellings mag nie mense op grond van ras uitsluit nie en ek is ook nie bewus daarvan dat hulle dit doen nie. Dit gaan per slot van rekening oor taal en taalgrense en rassegrense val nie saam nie. Nog die minister van hoër onderwys, nog die DG van hoër onderwys (wat ook die registrateur van privaat hoër onderwysinstellings is), beskik oor die bevoegdheid om op grond daarvan dat die instellings in ’n enkele taal onderrig verleen te weier om sodanige instelling te registreer of dit te deregistreer,” het Malan bygevoeg. “As ek na die minister luister, lyk dit my dat hy homself by voorbaat aan vooroordeel uitlewer in plaas daarvan om hom van die regsposisie en sy bevoegdhede te vergewis.”

Malan meen in werklikheid behoort die minister die stigting van private onderwysinstellings, insluitende Afrikaanse instellings te verwelkom en aan te moedig omdat dit die uitbreiding van hoër onderwys bevorder wat nie net tot die voordeel strek van die taalgroep in wie se taal die onderwys verskaf word nie, maar die algemene belang bevorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Sarie ·

Dit wil my voorkom daar is ‘n vrees dat so ‘n universiteit die ander getransformeerde universiteite sleg sal laat afsteek. Soos reeds met Sol-tech as tegniese kollege gebeur.

SA BURGER ·

Afrikaans is die 2de mees gesproke taal in SA asook Namibie so hoekom nie?

Henkst ·

Blade Nzimande is nie vertroud met die UVMR nie!
Wat sê die Universele Verklaring?
Oor Gelykheid
Die Verklaring begin met die neerlegging van sy basiese stelling dat “Alle menslike wesens vry, met gelyke waardigheid en regte, gebore word.” Die Verklaring gaan dan voort om inhoud te gee aan sy verstaan van gelykheid, naamlik deur enige onderskeid in die genot van menseregte op grond van ras, kleur, geslag, taal, geloof, politieke of ander sienings van nasionale of sosiale oorsprong, eiendom, geboorte of ander status, te belet.

Henk Celliers ·

Is dit moontlik,dat na 22jr van mags,politieke en getalle oornaame,n handtjie vol Afrikaanse blankes,nogsteeds n bedreiging in hou vir die mense”You can’t keep a good man down”. Na wetgewings ens,word hul al sterker en sterker,daar moet iets dinamies in hul wees,sterkte

Chris Joubert ·

Blade sit met ‘n tameletjie. Gaan hy ook al die privaatkolleges toemaak wat slegs opleiding in Engels aanbied? Die land is vervuil daarvan. Vra vir Intec, Damelin, en vele ander, hoeveel kursusse bied hulle aan in tale anders as Engels. Ek het ook pas gekyk na Monash se webblad en hulle verklaar: English is the language of instruction and assessment at Monash South Africa.”

Ek dink hy het reeds die saak verloor.

Chris Joubert ·

O- ja, en hoeveel klasse word in Afrikaans aangebied by Ikeys, Durban en ander universiteite buiten Noordwes, Vrystaat en Stellenbosch? Hy sal die lot moet toemaak.

Etienne Ernst (Snr) ·

Ek het die minister se braaksel in Rapport gelees en by dieselfde antwoord as Flip Buys uitgekom. Die minister stel Afrikaans (‘n taal) gelyk (sinoniem) aan rasisme (‘n gedragspstroon). Dis net hier waar hy die pot mis sit. As sy argument korrek is dan is elke taal van ons land ‘n sinoniem vir rasisme. Dan sou dit rasisties wees as ‘n Xhosa ‘n Zoeloe inisiasieskool wou bywoon wat net Zoeloe as onderrigtaal taal gebruik.

‘n Onderwysinstelling wat in een taal doseer is nie rasisties nie omdat rasisme nie in die onderrigtaal gediagnoseer kan word nie. Rasisme kom wel ter spake as die onderwys instelling leerders wat in Afrikaans onderrig wil ontvang verbied om dit te doen.

Kobus ·

Hoe feller die stryd raak, hoe meer sien mens die regering en Blade vir wat hulle werklik is. Die teiken is Afrikaans wat hulle veg. As mens so na die berigte in Netwerk24 kyk, dan is daar oorlog op pad, dis asof Blade ‘n rooi doek gesien het. Waarom dan die mes so vir Afrikaans in het?

Kobus ·

Ek moes bygese het, die verskoning is omdat dit kamma nie inklusief van die ander rasgroepe is nie, dus omdat dit rassisties is. Nou wie sien nou die rassis agter elke bos. Dit is soos ‘n fobie by hom. Dit gaan eerder daaroor om Afrikaans dood te wurg en te keer dat Afrikaans nooit weer ‘n vastrapplek in die ekonomie en werksplek sal hê nie. Dit is dan maar deel van die totale strategie om Afrikaans tot ‘n mindere taal te reduseer.

Henneman ·

Blade sien Akademia se sukses as ‘n bedreiging vir die ANC se strategie van mislukking!

anet ·

Dankie Mnr.Flip Buys. Dankie dat julle alles doen om Afrikaans te bewaar. Alle sukses met die opening van Akademia, ek glo julle kan ‘n verskil maak vir ons Afrikaanse Studente

Thomas ·

Ou Blade wys baie duidelik sy vooroordele. As jy Akademia moet sluit sal jy maar net nog belastingbetalers se geld mors om ‘n pakslae in die hof te kry. Gelukkig maak sy uitspraak duidelik hy target die instelling en gaan nie een of ander tegniese rede kan gebruik vir die sluiting sonder dat almal deur hom sien nie.

Ansobet Guy ·

Ek as onderwyseres EN ma is baie dankbaar dat daar vir my kinders in die toekoms ‘n Afrikaanse universiteit daar sal wees om in hul eie taal opgelei te word!!!!! Ons is trots op ons taal en Akademia!!!!

Helesti ·

Stem saam met Ansobet – bitter bly ons kinders gaan die geleentheid he om by ‘n Afrikaanse universiteit te kan studeer!!

pop ·

Klip in die bos. As die Afrikaanse gegradueerdes nou werk soek. Waarheen dan. Hiers nie n toekoms in die land vir ons jongmense nie. Doen die kinders n guns en jaag hulle oorsee.

Willem ·

Wat laat Blade dink dat onderrig in Afrikaans ander gaan uitsluit? Sover ek weet word daar nie gestipuleer dat diegene wie se huistaal nie Afrikaans is onwelkom by Akademia is nie. Blade en sy mense hou nie van Afrikaans nie en daarom is hy teen ‘n Afrikaanse universiteit. Blade-hulle is soos bedorwe kinders; húlle moet gepamperlang word. Ongelukkig is dit wat die meeste mense, weens ‘n beheptheid met politieke korrektheid, doen en op die manier vir Blade-hulle nog verder sterk in hulle kwaad.
Antwoord op pop hierbo se vraag: Presies waar hulle sou werk soek as hulle by enige ander universiteit gegradueer het (of dink pop almal wat vandag in SA werk was by Engelse skole of universiteite?).

Lizette le Roux ·

hoeveel van die ander universiteite wys briljante, blanke kinders weg bloot omdat hulle blank is? Watter opsie is daar anders om vir hierdie kinders ook ‘n plekkie in die son te gun?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.