Akademia sprei sy vlerke na buurland

akademia-gradeplegtigheid-2017-04-07

Van die studente wat in April vanjaar van Akadmia se eerste grade ontvang het. Foto: Jhua-nine Wyrley-Brich/Forumnuus

Afrikaanssprekende studente van Namibië wat graag in 2018 veral ʼn BCom-rigting in hulle moedertaal wil studeer, kan nou reeds aansoek doen om volgende jaar by Akademia se eerste studiesentrum in dié land hulle studies te voltooi.

Paul Vogel, Akademia se operasionele bestuurder, verduidelik dat daar versoeke vanuit Namibië se Afrikaanssprekende geledere gekom het om ’n studiesentrum in die buurland te open. “Die Namibiese Afrikaanse Privaatskole Organisasie (Napso) het Akademia besoek om die voorstel te bespreek, waarna ons goedkeuring van die Namibiese regering gekry het. Nou het voornemende studente in Namibië die geleentheid om hul kwalifikasies teen ʼn bekostigbare prys plaaslik te verwerf, in plaas daarvan om die groot onkoste van studies in Suid-Afrika aan te gaan.”

Dié eerste studiesentrum in Namibië sal op presies dieselfde wyse as sy Suid-Afrikaanse eweknie funksioneer, met studente wat verpligte na-uurse klasse by die interaktiewe studiesentrum bywoon. Die sentrum is met moderne videokonferensie-tegnologie toegerus en gratis internettoegang is beskikbaar om studente toegang tot die Spens, Akademia se unieke aanlyn ondersteuningstelsel en biblioteek, te gee.

Dié hoëronderwysinstelling is reeds in sy sesde akademiese jaar. Akademia staan vir die idee van ʼn Afrikaanse universiteitswese: dat die Afrikaanse student in Afrikaans die geleentheid van eersteklas hoër opleiding en opvoeding moet kry om so ʼn bydra tot die gemeenskap en die wêreld te maak.

Watter kwalifikasies word aangebied?

Akademia fokus op toeganklike en bekostigbare moedertaalonderrig wat plaaslik en internasionaal relevant is. Die geakkrediteerde programaanbod en praktiese, beroepsgerigte kwalifikasies bied aan studente die geleentheid om eersteklas hoër opleiding en opvoeding te ontvang, om daardeur ʼn bydrae in sowel die gemeenskap as die wêreld te lewer.

Studente kan tans vir BCom-grade in ondernemingsbestuur, bestuursrekeningkunde, ekonomie en regte, en finansiële beplanning inskryf. Hoër sertifikate in rekeningkunde en kantooradministrasie word ook aangebied, asook ʼn gevorderde diploma in projekbestuur. Intussen word kwalifikasies op die gebied van regsgeleerdheid, rekeningkunde, verpleegkunde en sosiale wetenskappe ook ontwikkel.

Hoe werk die onderrigmodel?

Akademia se onderrigmodel kombineer ’n klaservaring met afstandsonderrig. Alle klasse is regstreeks met mekaar, sowel as met een van vier professionele ateljees by Akademia se hoofgebou waar die dosent gesetel is, in verbinding. Studente sien op een groot skerm die klasnotas en op ’n tweede skerm word die dosent lewensgroot vertoon.

Kontaksessies duur ongeveer 50 minute en studente kan aan die klas deelneem deur eenvoudig ’n hand op te steek en ’n vraag te vra. Sagteware bring outomaties so ’n student na die voorgrond van die videovoer in ander klasse, byna asof die vraag in dieselfde lokaal gevra is. Op soortgelyke wyse kan die dosent studente vrae aan enige student in enige van die klasse rig en word die bespreking regstreeks oor studiesentrums heen gedeel en ervaar.

Die ateljees vanwaar die dosente klasse aanbied is met gevorderde tegnologie ingerig. Voor dosente verskyn al die verskillende klasse op groot televisieskerms, waar dosente studente kan identifiseer vir vrae en opdragte. Digitale penne dra wat dosente ook al op die papier voor hulle skryf oor na die skerms in studiesentrums. Terselfdertyd is klank- en video-ingenieurs deurentyd in die beheerkamer besig om klank, video en ander tegnologiese aspekte te monitor en optimaliseer.

Ná klasse word die opnames geredigeer en binne enkele dae op Akademia se digitale leerruimte, die Spens, vir studente beskikbaar gemaak. Hier kan studente video-opnames van die klasse aflaai, argiefmateriaal bestudeer, of selfs net die klankbaan op hul selfone laai om later weer as ’n potgooi te luister.

  • Die Windhoek-sentrum is op die hoek van Bismarck- en Blohmstraat geleë, in die pragtige fasiliteite van die Erfdeel-kultuursentrum.
  • Aansoeke vir studies in 2018 by dié sentrum kan nou gedoen word. Besoek Akademia.ac.za vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

17 Kommentare

Piet Snot ·

Netjies manne, netjies.
Maak my trots om ‘n Afrikaner te wees.

HEVW ·

Dit is byna ongelooflike groot en blye nuus vir ons hier in SWA. Nou kan ons kinders selfs in ons klein dorpies en op plase studeer. En dit nog in AFRIKAANS, ons moedertaal. Baie dankie, met die laer koste is dit vir ons midde ekonomiese druk baie welkom. Alle sukses word toegewens.

Lollie ·

Fantastiese nuus! Al trek ek nie direk voordeel daaruit nie want ek is verby die leer en boeke stadium. Dit laat my baie trots voel om te dink daar is so baie wat vir afrikaans baklei, in afrikaans wil leer en afrikaans nog as ń belangrike taal ag. Ek hoop van harte dat Akademia nog baie sulke plekke kan oprig in die toekoms. LANK LEWE AFRIKAANS!!!

Jakoba ·

Baie geluk Akademia. Ek wens hulle wil ‘n Diploma/Graad in Natuurbewaring aanbied ook. Ons kinders wat dit in Afrikaans wil studeer kan dit nie doen nie en moet maar Namibia University of Science and Technology toe gaan of UNAM

Geelonger ·

n volwaardige Afrikaanse Universiteit in Namibia is dalk Die antwoord . Meeste Namibiers praat Afr en Afr word nie aldaar stief behandel nie

botha ·

Alhoewel ek baie trots is op my taal ens, Wat help dit die kinders gaan studeer in Afrikaans, maar die besigheids wereld is engels? Weet julle hoeveel mense het ons in die banke gekry wat grade het, Maar sukkel om ordentlik engels te praat. En dan word hulle net junoir poste aan gebied. Ek dink persoonlik dit help niks om in Afrikaans te studeer nie. (Net my Opinie)

JC ·

Geradbraakte Suid-Afrikaanse Engels help niemand nie Botha, dit is hoogstens ‘n gebrekkige lingua franca. Afrikaans het die werk baie beter gedoen!! Om in jou moedertaal te swot, skep hope menswaardigheid en selfvertroue. Verbeel jou nou die Afrikaanse studente moes in Engels studeer LOL, LOL! dit sal ‘n fiasko wees! Afrikaans Leef!
Jou kommentaar gaan op die ou einde van die dag tot die kern van ‘n saak wat Afrikaners baie na aan die hart le(en wat NOOIT sal gebeur nie): eenvoudig gestel, indien jou kommentaar tot sy logiese gevolgtrekking geneem moet word; moet Afrikaners nou verengels? Nooit sal dit gebeur nie, slegs ten minste indien dit verpligtend was, en dan sou dit tot 2 generasies neem om behoorlike Engelse en Engelssprekende mense van ons te maak. Nee wat, se “dinges: met dit, ons is Afrikaners EN AFRIKAANS!

Eish ·

As an Afrikaansspeaking person, my verbosity intoxicate first language English speakers to such an extend that they can’t utter a single word. Née jong, hul moet maar werk daaraan. Minstens verstaan hul die konsepte na behore. Laat hul Engelse klasse loop.

Adam ·

Botha, ek dink jy dwaal in jou beoordeling van die kwessie. In die regsberoep het ek van die keurigste Engels uit die monde van Afrikaanse regslui gehoor. Die feit dat jy in jou eerste taal studeer het niks te doen met jou tweede taal vaardighede nie. Trotse Afrikaners wie Engels goed magtig is, dwing enorme respek in die sakewereld af en bereik groot hoogtes, selfs vandag nog ten spyte van EE ens. Akademia is en bly ‘n goeie inisiatief en sal van krag tot krag gaan. Indien mense luister na Warren Buffet en Bill Gates, sal hulle meer lees, meer kennis opdoen en meer taalvaardig word. Die twee is nie verniet deurentyd onder die drie rykste mense op die planeet nie.

Bertie Hanekom ·

Eks van upington in die noord kaap, ons provinsie se enigste universiteit is 500km vanaf Upington in Kimberley en ongeveer 200km vanaf Bloemfontein. Kan ons nie n Akademia kampus kry nie want Namibie se grens is 150km vanaf ons. Kan iemand ons nie help nie?

SARIE VAN HEERDEN ·

BOTHA, ek stem nie saam met jou kommentaar nie. Al die jare het ons mense met uiters goeie resultate aan Afrikaanse universiteite gestudeer en altyd die Rooitaal onder die knie gekry. Waarom moet ons nou Engels studeer? Die mense wat so ver kom is begaafdes en nie som nie.

SARIE VAN HEERDEN ·

REGSTELLING: tweede laaste woord van kommentaar moet lees: DOM en nie som nie.

Mariette ·

As ‘n mens na bekomming van jou kwalifikasie steeds so swak in Engels is dat hulle slegs jnr poste kan kry, dink net hoe sou hulle gesukkel het om hulle kwalifikasie in Engels suksesvol te voltooi. Ten minste het hulle nou ‘n werk en is hulle volgende verantwoordelikheid om op hulle kwalifikasie te bou, hul Engels te verbeter en hulself op te werk na meer senior posisies. Om slegs in Engels klas te mag loop, ontneem baie plattelandse Afrikaners, veral uit benadeelde skole, van geleenthede. Doen so voort Solidariteit en Afriforum!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.