‘Aksie! Aksie! Aksie!’ beloof Cele tydens polisie se begrotingsrede  

Minister Bheki Cele (Foto: Fikile Marakalla/GCIS)

Die polisie se begroting vir die 2023-’24-boekjaar is ʼn beslissende reaksie op die voortdurende uitroepe en klagtes van Suid-Afrikaners oor die stand van misdaad in die land.

Só het Bheki Cele, minister van polisie, Dinsdag tydens sy begrotingsrede gesê. Cele het die polisie se begroting van R102,1 miljard vir 2023-’24 ter tafel gelê, sowel as dié van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat van R375 miljoen en die siviele sekretariaat van die polisie van R150,4 miljoen.

Cele het ʼn beroep op gemeenskappe gedoen om hul volle gewig agter die polisie in te gooi ten einde die gety van misdaad te keer en veiliger gemeenskappe te skep. R70 miljoen is aan provinsies toegeken om gemeenskapspolisiëringsforums te ondersteun met hulpbronne soos voertuie, skootrekenaars, flitsligte, reflektiewe baadjies en ander toerusting.

Meer as R1 miljard word vir die bou en opgradering van polisiestasies bewillig. Daarby word R25 miljoen ook aan die provinsies toegeken vir verbeterings om polisiestasies te beveilig. Meer as R1,8 miljard is bewillig vir die verkryging van voertuie, vragmotors en busse vir die polisie. ʼn Bykomende 30 000 rekrute sal vanjaar en oor die volgende twee boekjare opgelei word.

Volgens Cele is die DNS-agterstand van 241 152 sake in die eerste kwartaal van die 2021-’22-boekjaar tot 636 sake tans verminder. Die SAPD implementeer ook soortgelyke maatreëls en omkeerstrategieë om vertragings in die verwerking van ballistiese en chemiemonsters te pak.

Cele gekap oor misdaadsituasie

Opposisie-LP’s het Cele tydens die debat oor die polisie se begrotingsrede gekap oor die land se stygende misdaadvlakke en die verhoogde besteding op BBP-beskerming.

Andrew Whitfield, DA-LP, het gesê die tydperk sedert Cele se aanstelling in 2018 is gekenmerk deur leë beloftes en hoër vlakke van geweldsmisdaad.

“Minister, toe u in 2018 aangestel is, het die president belowe om geweldsmisdaad te halveer in die volgende dekade. Halfpad deur daardie dekade is geweldsmisdaad aan die toeneem en het moorde sedert 2018 met 20% toegeneem.”

Rakende die bykomende R1,9 miljard vir BBP-beskermingsdienste, het Okkie Terblanche, DA-LP, gesê dit wek ernstige vrae oor die SAPD se onvermoë om te prioritiseer.

“Die beskerming van BBP’s kan nooit as belangriker beskou word as om die publiek te dien en te beskerm nie.”

Eerw. Kenneth Meshoe, leier van die ACDP, het ook sy party se teenkanting hieroor uitgespreek.

“Eerder as om geld te mors om BBP-beskerming ʼn hupstoot te gee, doen die ACDP ʼn beroep op die regering om die lewens van alle burgers te waardeer en te verseker dat hulle teen leed en misdadigers beskerm word.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Pieter ·

ja kyk, as jy geld het is alle probleme mos weg… Wie is bekwaam om waarde vir daardie geld te wys?

Pieter ·

Bou ‘n sentrale kommunikasie netwerk (met databasis) waar verskillende provinsies as ook Metro / Pol met mekaar kan kommunikeer sonder om 10 000 vorms en sisteme en mense en baie tyd te mors. Bou ook realtime monitoring en nommerplaat skandering sisteem waar ons op straat veilig kan wees. Ge almal sommer ook body cams. Hou stede se ligte aan in die aand… Stel die regte mense aan in die pos wat will werk en mense dien… Hou op om van normale mense op straat te verwag om julle werk te doen. Ons het nie die MAG nie en is reeds besig om te probeer oorleef. Mens hoef elkegeval nie eers te soek vir kriminele aktiwiteite nie, jy kan net jou voet in die straat sit en jou oe gebruik. As jy op straat pee bv…

Dis waar julle moet begin…

Annelize ·

Kerkorrel se liriek “Sit dit af, Sit dit af!” het vanmore by my opgekom.

Manie ·

Die regering het die man selfs nog meer mag gegee met die goedkeuring van die “grabber”sisteme waar die polisie nou op mense se selfone kan inluister.

mattk ·

In die “apartheids jare” het die ministers, en selfs die eerste minister en staatspresident ‘n voertuig bestuurder en maksimum twee lyfwagte gehad wat altyd in die agtergrond was, jy het nie eens van hulle geweet nie. Huidiglik het elke parlementslid vyf tot tien lyfwagte (Cele het, as mens na die Tv kyk, alewig ten minste 5 generaals wat direk langs hom staan en ‘n horde ander rondom hom). Alle munisipale ANC raadslede het lyfwagte en al hierdie kostes word van Jan Alleman verhaal. Cele weet nie wat aksie beteken nie en nou, met die verkiesing op hande, sal alles moontlik dalk gedoen word om geboue op te gradeer, Polisie stasies te beveilig (deur private sekuriteit aan te stel LOL) en misdaad te bekamp.

JohanEtz ·

Ek wonder of jy weet waarvan jy praat.
Was dit nie vir ons plaaslike GPF nie, sou ons area ñ misdaadnes gewees het.
R70mil is ñ druppel aan die emmer.
Mense kan vreesloos op die strande en strate loop.
Dankie KZN Suidkus CPF!!

Manie ·

Die GPF’s doen baie beter werk as die polisie self. Die polisie behoort ten minste 10% van hulle totale begroting aan GPF’s toe te ken.

tweeling ·

Die enigste aksie van jou kant af sal die verskyning met ‘n ander hoed wees

Chris ·

Solank hulle ons net vroegtydig waarsku van die aksie. Vroeêr jare het wagter in die vangwa gesit en sersant het uitgeklim om ondersoek in te stel. Deesdae klim wagter uit.

Morné ·

Fondse beskikbaar, Cele….aksie aksie aksie…..publiek….Cele waar is die fondse….Cele shhhharuuup shhhhhaaaruuuup!!

Marius ·

Ek wonder wie se geheime steek hy onder sy hoed weg. Daar is nie ‘n manier wat ‘n nigterdenkende persoon hom nog in sy pos kan hou nie.

John ·

Kan nie glo hy het nog nie nasionale kleure gekry vir al sy leuns nie…..

Danie ·

ja nee kyk hy het ons gewys hoeveel aksie hy tot in staat is toe sy eie polisie lede deel was van die plundering reg oor die land 2 jaar gelede. Al aksie wat daar was die afbrand, afbreek en plundering!

Nico ·

Geen mens kan die polisie glo nie, geen voertuie nie, kyk, hoe staan die voertuie wat af geskryf is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.