Aksie eerder as woorde, vra opposisieleiers van Ramaphosa

LP’s tydens ‘n parlementsitting. (Foto: GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa moet wegbeweeg van leë beloftes en retoriek want Suid-Afrika het daadwerklike oplossings en antwoorde nodig oor die kwessies wat almal saamstem die land in die gesig staar, het opposisieleiers aan die vooraand van die staatsrede gesê.

John Steenhuisen, DA-leier, het in ‘n toespraak wat volgens sy party die “alternatiewe staatsrede” is, aan sy gehoor op ‘n snikhete Kaapse middag voorspel daar gaan baie verwysings na ‘n kapabele staat in Suid-Afrika wees.

“Ek nooi u trouens uit om te tel hoeveel keer die term ‘capable state’ in die president se toespraak voorkom. Die waarheid is egter dat mnr. Ramaphosa ‘n onkapabele leier van ‘n onkapabele regering is,” het Steenhuisen aangevoer.

Hy het bygevoeg dat Suid-Afrikaners oorleef ten spyte van die regering eerder as danksy die regering, en dat die 17 miljoen staatstoelaes wat aan die bevolking uitbetaal word, nie ‘n bron van trots is nie – dis ʼn skande.

Steenhuisen het bygevoeg as Ramaphosa ‘n werklike verskil wil maak moet hy aankondig dat die regering wegbeweeg van kaderontplooiing, nasionale gesondheidsorg en onteiening sonder vergoeding, en eerder moet fokus op wat mense bymekaarbring.

Die EFF het in ‘n verklaring gesê dat hulle niks goeds van Ramaphosa verwag nie omdat hy in elk geval in alles misluk. Hulle het ‘n sterk aanduiding gegee dat hulle die staatsrede gaan ontwrig omdat Ramaphosa nie vir Pravin Gordhan afgedank het as minister van openbare ondernemings nie.

Volgens Narend Singh, IVP-hoofsweep, wag ‘n reusetaak op Ramaphosa. Die IVP verlang groter klem op die kleinsakesektor, inklusiewe groeiplanne met ‘n sektorale fokus vir spesifiek die landbou, toerisme, mynbou, die vervaardigingsektor en infrastruktuurontwikkeling. Voorts wil die IVP hoor hoe Ramaphosa gaan toeslaan op korrupsie, spesifiek wat staatstenders betref.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gesê die tyd vir praat is verby. Dit kan die land nie meer red nie. Die mense van Suid-Afrika soek antwoorde en het groot verwagtinge van die staatsrede. Veral wil die VF Plus nie hoor van nog berade en kommissies nie.

“Dit is ook vermetel om te sê amptenare hoef nie bekommerd te wees oor hul pensioen nie, aangesien die staat sal waarborg dat hul fondse veilig is. Indien die geld dan wel beskikbaar is om dit te waarborg, waarom moet die staatsdiens se pensioenfonds in die eerste plek gebruik word om die sukkelende ondernemings te finansier? Dit is totaal onaanvaarbaar,” aldus Groenewald.

Eerw. Kenneth Meshoe van die ACDP meen die belangrikste prioriteit is om beleggers terug te lok. Daarvoor is beleidsekerheid, asook behoorlike terugvoer oor wat geword het van al die projekte wat by die president se beleggingskonferensies aangekondig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Snowball ·

Tel hoeveel keer hy die woord “ENSURE” of die frase “WE WILL MAKE SURE” gebruik. Dis hoe alles belowe word sonder enige aksie gekoppel daaraan.

Sarel ·

Voorspelling: Populistiese uitsprake tot voordeel van ANC nie SA nie. Grondonteiening en bovordering van Sosialistiese en Kommunistiese beleid.
Geen niks i.v.m. sterwende ekonomie, werkloosheid en misdaad nie

johan ·

net een woord “onbevoeg”, wil nie meer luister na al die twak nie, wil iets sien gebeur..

Jakes ·

Asb, ek dink dat n kind in graad 10 sal kan voorspel dat die agbare staatspresident gaan probeer om almal heuning om die mond te smeer. CR gaan moet se wat sy maters soos ACE en kie aan hom gaan voorskryf. Ek het beter dinge om te doen as om so vroeg in die aand kwaad te word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.