Aksieplan vir die bekamping van plaasmoorde

plaasmoordeAfriForum het Dinsdag ʼn reeks met tien praktiese voorstelle van maniere hoe plaasmoorde in die praktyk bekamp kan word aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) voorgelê. Dié aksieplan vorm deel van ’n verslag wat AfriForum aan die SAMRK voorgelê het by die kommissie se openbare verhoor oor plaasmoorde wat op 15 en 16 September in Johannesburg plaasvind.

Die volgende punte word breedvoerig in AfriForum se voorlegging aan die SAMRK verduidelik:

  • Plaasmoorde is ’n unieke misdryf om verskeie redes. Dié uniekheid regverdig ’n unieke teenstrategie.
  • Terwyl die publiek se wekroep vir ingryping by plaasmoorde in die afgelope jare toegeneem het, het die regering se reaksie op hierdie misdaadverskynsel in die praktyk afgeneem.
  • Die regering en die departement van polisie in besonder het ʼn traak-my-nieagtige houding teenoor plaasmoorde, die slagoffers daarvan en diegene wat vir die prioritisering daarvan vra.
  • Die plofbare politieke klimaat is ʼn faktor wat tot die probleem bydra. Suid-Afrikaanse boere word as slaansakke gebruik en geweld teen boere word dikwels geromantiseer.
  • Sekere struikelblokke in die stryd teen plaasmoorde is geïdentifiseer.
  • Verskeie gevallestudies is by die verslag ingesluit.
  • ’n Reeks van tien voorstelle vir die daadwerklike bekamping van plaasmoorde is aan die kommissie voorgelê.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het verduidelik dat die stryd teen plaasmoorde een van AfriForum se kernveldtogte is en dat die regering se versuim om teen hierdie misdaad op te tree op aandadigheid tot die probleem neerkom. Die verhoor vind plaas in reaksie op ʼn formele versoek deur AfriForum.

Die verslag bestaan uit 42 bladsye en die bylae van die verslag bestaan uit 184 bladsye. Die voorstelle ten opsigte van die bekamping van plaasmoorde kan soos volg opgesom word:

  1. Die bestaan van die krisis moet deur die regering erken word;
  2. Plaasmoorde moet as prioriteitsmisdaad behandel word;
  3. Deursigtigheid met betrekking tot statistieke is ’n vereiste;
  4. ’n Struktuur moet ingestel word om die destydse kommandostelsel te vervang;
  5. Politici wat geweld romantiseer of rassespanning aanhits moet tot orde geroep word;
  6. Die landelike veiligheidsplan moet aangepas en geïmplementeer word;
  7. Slagoffers moet beter ondersteun word en die skending van slagoffers se regte moet aangespreek word;
  8. Spesialiseenhede vir landelike veiligheid moet geskep word;
  9. Beter bystand moet aan gemeenskapsveiligheidsnetwerke verleen word;
  10. Nalatigheid van polisiebeamptes en aanklaers moet dringend aangespreek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

HEVW ·

Dankie vir iets positief. Daar skyn darem n lig, maar baie dof. Om die regering te betrek is die korrekte weg maar dat daarvan iets gaan kom is wensdenkery. Moet nie te veel van die regering verwag nie. Daar sal private inisiatiewe wat binne die reg val, moet kom. Niemand kan jou verbied om jouself te beskerm nie en paraat te maak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.