Aksieplan vir VSA se staal- en aluminiumtariewe

Argieffoto (Foto: MEIBC, Facebook)

Die vakbond Solidariteit het vandag sy aksieplan bekend gemaak in reaksie op die besluit deur Amerikaanse owerhede om nie die Suid-Afrikaanse staal- en aluminiumbedryf vry te stel van invoertariewe op staal en aluminium nie.

Dit volg ná die Trump-administrasie op 8 Maart 2018 bekend gemaak het dat die VSA, in belang van die nasionale sekuriteit van die VSA, invoertariewe gaan instel op alle invoere van staal en aluminium na dié land.

Volgens Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit se metaal- en ingenieursbedryf, het die invoertariewe van 25% op staal en 10% op aluminium op 23 Maart 2018 in werking getree. Kanada, Mexiko, Argentinië, Australië, Brasilië, die Europese Unie en Suid-Korea het vrystelling van die tariewe gekry, met voorwaardes.

Croucamp sê voorts dat daar groot kommer heers oor die impak wat die tariewe op die Suid-Afrikaanse staal- en aluminiumbedryf gaan hê. “Ons is bekommerd dat die nuwe tariewe baie werksverliese in die plaaslike bedryf tot gevolg kan hê. Die Suid-Afrikaanse staal- en aluminiumbedryf is al etlike jare lank onder druk as gevolg van internasionale en plaaslike marktoestande asook die storting van staal.”

Plaaslike vervaardigers wat deur die nuwe tariewe geraak word, sluit in ArcelorMittal, South32, Hulamin, Duferco, Cisco en Columbus Stainless. Volgens Croucamp kon die Suid-Afrikaanse regering nie daarin slaag om die Amerikaanse owerhede te oortuig om die plaaslike industrie vry te stel van die invoertariewe nie. “Dit veroorsaak dat plaaslike maatskappye wat staal en aluminium na die VSA uitvoer, se produkte nou baie duurder geword het in die VSA, en dit sal veroorsaak dat maatskappye in die VSA noodgedwonge na goedkoper alternatiewe verskaffers sal soek. Een van die gevolge van die tariewe is dat voorraadvlakke op die wêreldmark verder gestyg het nadat daar alreeds ʼn oormaat voorraad was,” het Croucamp bygevoeg.

Hy voer aan dat alhoewel dit lyk of China die teiken van die VSA se invoertariewe is, kom Suid-Afrika nou ook in die spervuur. “Suid-Afrikaanse maatskappye maak hulle nie skuldig aan stortingspraktyke in die VSA nie,” het Croucamp benadruk. Daar bestaan die moontlikheid dat die optrede van die Suid-Afrikaanse regering by die Verenigde Nasies moontlik ʼn rol gespeel het in die VSA se besluit. In ʼn onlangse verslag deur die VSA se Department of State getiteld Voting Practices in the United Nations 2017 is Suid-Afrika uitgewys as een van die lidlande wat die minste saam met die VSA stem in die VN. Suid-Afrika het ook noue handelsbetrekkinge met China as deel van die BRICS-lande.

Solidariteit se aksieplan sien soos volg daaruit:

1. Solidariteit se skakeling met die Suid-Afrikaanse regering en rolspelers in die bedryf word voortgesit ter ondersteuning van die Suid-Afrikaanse staal- en aluminiumbedryf om die volhoubaarheid van die bedryf te help verseker en só werksgeleenthede en werkers te beskerm. Solidariteit se “SOS-”veldtog (Steun Ons Staal) wat in 2017 van stapel gestuur is, dien as voertuig vir die voorgesette skakeling.

2. Solidariteit gaan ondersteuning bied aan en saamwerk met die departement van handel en nywerheid in verdere pogings om die owerhede in die VSA te oortuig om die Suid-Afrikaanse staal- en aluminiumbedryf van die tariewe vry te stel.

3. Solidariteit gaan plaaslike en Amerikaanse staal- en aluminiummaatskappye wat betrokke is by uitvoertransaksies na die VSA en wat vrystellingsaansoeke aan die owerhede in die VSA voorlê, in die verband bystaan.

4. Solidariteit skakel met verteenwoordigers van die Amerikaanse owerhede in Suid-Afrika met die doel om ʼn beter begrip te kry oor die beweegredes vir die besluit om nie die Suid-Afrikaanse staal- en aluminiumbedryf van tariewe vry te stel nie. Dit is noodsaaklik vir Solidariteit om ook sy invloed uit te oefen in ʼn poging om die Amerikaanse owerhede te oortuig om die besluit oor tariewe te hersien. Solidariteit wil voorts bande bou en verhoudinge versterk.

5. Solidariteit beoog om ʼn versoekskrif aan die Trump-administrasie te rig waarin versoek word dat die VSA se besluit om nie vrystelling die Suid-Afrikaanse staal- en aluminiumbedryf van die invoertariewe op staal- en aluminium te gee nie, hersien word en dat so ʼn versoek in ʼn gunstige lig beskou sal word.

6. Solidariteit gaan met verskeie sleutelorganisasies in die staal- en aluminium bedryf in die VSA wat betrokke was by die 232 ondersoeke skakel met die doel om die saak vir vrystelling van die invoertariewe vir die Suid-Afrikaanse staal- en aluminiumbedryf te bevorder.

7. Solidariteit is besig om ʼn gebeurlikheidsplan op te stel vir gevalle waar die heffing van staal- en aluminiumtariewe werksverliese in Suid-Afrika gaan meebring. Die gebeurlikheidsplan sal uiteensit hoe ondersteuning aan lede en werknemers wat geraak word, gebied sal word.

Solidariteit en belangrike rolspelers in die bedryf het verlede week met die minister van handel en nywerheid, dr. Rob Davis, en amptenare van die departement van handel en nywerheid vergader. Belangrike terugvoering is tydens die vergadering gegee. Solidariteit het ook reeds met verteenwoordigers van die Amerikaanse owerhede in verbinding getree.

“Solidariteit gaan alles moontlik doen om te help om die volhoubaarheid van die plaaslike staal- en aluminiumbedryf te verseker en om werksverliese te probeer voorkom,” het Croucamp afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

kobus ·

Dis die ANC se skuld nou moet almal swaar kry.nou moet solidariteit planne maak.maar die ANC skep net tot daar niks oor is nie.suid afrika is die volgende zimbabwe

Mrs H ·

Hierdie is die idiale geleentheid vir USA en Solidariteit om met SA regering oor een te kom met staal belasting vrystelling, mits ware eerlike demokrasie ingestel word in SA deurdat onvolhoubare, ondemokratiese, sosialistiese wette soos Affirmative Action en Black Empowerment weggemaak word. Dat daar daadwerklik aan SA kriminele, infrastruktuur onderhoud, algemene lewensonkostes vir SAners en plaasmoorde prioriteit aandag en aksie gegee sal word. Dat regerende individue en parlementslede hul uitbuitende salarisse sal hersien en verminder na n eerlikke verdiende en redelikke bedrag. So ook die hoeveelheid individue in regering wat verminder kan word.

Chris Ws ·

Daar kom dit nou!’n Bedekte vorm van sanksies!Dis net die begin die’!Donald Trump is slimmer as wat meeste mense dink.

Hoe anders is Solidariteit ·

Kyk net hoe opbouend anders solidariteit is as die ander vakbonde wat net kan staak.

jaco ·

eers gaan Solidariteit Amerika to om die SA regering daar amper the “verkla”, en nou dat Amerika vir SA “straf” met die invoertariewe op SA staal, is dit ook nie goed genoeg vir Solidariteit nie.

Kannaland ·

Regeringsonderhandelaars is slim genoeg om dit te hanteer en in perspektief te sien.

Kryger ·

Ja Jaco, praat jy wat grond onteiening ondersteun! … askies, raak ek nou deurmekaar tussen “jaco” en “ANC” soos jy deurmekaar word tussen “Solidariteit” en “Afriforum”.

Gemaskerde Sopbeen ·

Is dit wat Solidariteit nou voorstel en doen NIE die regering se plig NIE? Betaal ons nie die regering van die dag goeie geld om hierdie pligte uit te voer nie?…………..maar nou moet ons hoor Solidariteit doen die werk?

Wonder ·

Ja, die be-pluste Vront hardloop al weer met `n boksie plysters rond en soek brownie points. Die mikro party met `n potpouri van als en nog wat.

PC ·

Stem saam met Jaco. Vra vir optrede teen S A en as dit begin gebeur dan huil ons.

Gerhard ·

Sommige Afrikaners sal moet leer dat jy opofferings sal moet maak om die ANC se hel te oorleef.

JPV ·

Die anc gespuis het die bed opgemaak en nou moet ons almal daarin slaap……! Moenie Solidariteit of enige iemand anders die skuld gee. Go Trump!

Hendrik ·

Die Gupta tipe staatskaping het al lankal begin toe die regering Yskor aan Mital verkoop het. Daarna het Pretoria en VanderBijl Yskor toegemaak met reuse werksverliese. Trump kyk goed na Amerika en die werkloosheidsyfer is daar die laagste sedert 1973. Hoe beskerm S.A hulself in die klerebedryf bv. teen Chinese storting? Miskien moes S.A regering ook nie die ambassadeur onttrek het vanaf Israel nie met Palistynse kwessie.

hendrik ·

Hendrik, jy vra hoe beskerm SA hulself in die klerebedryf? Maklike antwoord; hul ken niks anders as om te staak nie. die op die ander en nou kla hulle land en sand.

bgj van der westhuizen ·

dit is uit en uit die anc regering se skuld moet nie die hand wil byt at jou voer nie

Boerseun ·

Die is in reaksie op n paar dinge wat die ANC doen. Afriforum gaan vra vir hulp, nou kla julle oor die hulp. Die druk wat die wereld kan uitoefen is sanksies, en ongelukkig gaan dit almal affekteer. Dink julle sanksies in die 80’s het nie die massas armer gemaak nie?

Hans Hartzenberg ·

Ek weet nie wat die bohaai daaroor is nie BEE geld mos ook in die staal bedryf

Grassie ·

Die ANC-regering het gister hul ambassadeur in Israel herroep uit protes teen Israel se optrede waar hulle hul grens beskerm teen ‘n aanslag van Hamas. Hulle weet Amerika is ‘n groot vriend van Israel en ondersteun Israel se optrede. Nou staan hulle bakhand by Amerika vir ‘n aalmoes en is verbaas en ontevrede omdat daar nie ‘n paar pasellas in daardie bakhande gegooi word nie. As die ANC nie hul arrogansie teenoor Amerika staak nie gaan daar nog in daardie bakhandjies gespoeg word.

Klipkop ·

Hoekom moet ons altyd probeer om met ander lande maatjies te wees? Ja ek weet ons het mekaar nodig in die wereldekonomie. Kan ons nie ons eie produkte verwerk en dan uitvoer nie? Dit skep ook werk en sekerlik ook inkomste? Kyk wat het gebeur met ons wapentuig gedurende die sanksies in die 80’s. Wil ons nie,kan ons nie of wil ons net kla omdat kla, kla is? Vra maar net. Dalk kan ‘n kundige ons raad gee.

marous ·

SA is deurtrek van ongeregverdige belastings en heffings op invoer produkte . Trump word nou geteiken omdat hy dieselfde doen ? Toe Obama dit wou doen omrede dept van Min handel en Geen nywerheid gesit en slaap het , is dit afgelag ? Dit is tyd dat hierdie landjie se regeerders moet besef dat hulle tot die laagste op die finansiele voedselketting gevorder het in ‘n kwarteeu en geensins geag word as bydraers vir ekonomiese welvaart nie. Daar is ook geen vooruitsig dat dit in lig eeue gaan verbeter nie .

Klaar met Solidariteit ·

Skande, Solidariteit. Sal julle nie weer ondersteun nie! Julle kla oor omgekeerde rassisme, maak dit wêreldwyd bekend en noudat die VSA die “guts” het om SA iewers by te kom, wil julle dit verhoed! Hoeveel wittes is steeds in diens by al hierdie staalmaatskappye wat julle nou so voor wil veg??? Nooit weer ondersteun ek een van julle veldtogte nie!

Albaster ·

Jy moet die saak in perspektief sien. Die tariewe gaan ons persoonlik baie hard slaan. Daar is beter maniere om n land te straf, gaan lees op oor ‘smart sanctions’.

Mrs H ·

Jy klink baie, nee jy is erg deurmekaar verward, siestog. Jy sal wel later sien, verstaan en dalk partytjie toe kom as jy nie te skaam voel nie.

LEES! ·

WOW. LEES iemand ooit die berig voor julle kommentaar lewer? Die invoertariewe het in werking getree op 23 Maart 2018. Dis nou al mid Mei, Kallie en kie is NOU in Amerika. Die tariewe op SA word nie opgehef nie oor 1 rede, en niks anders nie, die SA regering wat nie SAAM met die VSA gestem het in resolusies by die VN nie. Dit was die maastaf van Trump. As julle die vele media berigte gevolg het sou julle dit geweet het. As julle die artikel GELEES het en julle breinkrag ingespan het, sou julle dit ook besef het. Dit het absoluut NIKS te maak met Kallie en kie wat NOU in die VSA is nie, die besluit is maande tevore al geneem!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.