Akteur James Alexander verloor kankerstryd

James en Anel Alexander. (Foto: Verskaf)

Die akteur James Alexander het Vrydagaand sy stryd teen kanker verloor. Hy was 45 jaar oud.

Sy afsterwe is deur sy agent, Carlynn de Waal-Smit, aan Maroela Media bevestig.

James, wat met die aktrise Anel Alexander getroud was, is in Januarie 2019 met kop- en nekkanker gediagnoseer en het oor die afgelope jare verskeie behandelings en operasies ondergaan.

“Hy het met dapperheid en integriteit geveg,” lui die verklaring wat aan Maroela Media gestuur is.

James is op 8 Januarie 1978 in Boksburg gebore en het in Pretoria grootgeword. Hy en Anel het mekaar in 2000 ontmoet toe hulle ʼn amateur-musiekblyspel by die staatsteater opgevoer het. Die egpaar het saam ʼn vervaardigingsmaatskappy, Scramble Productions, gestig, wat na die eerste toneelstuk vernoem is wat hul saam geskryf en in opgetree het.

Hulle het saam aan verskeie projekte en rolprente in die filmbedryf gewerk, onder meer die flieks Discreet, die Afrikaanse treffer Semi-Soet, waarin Anel ook die hoofrol vertolk het, en die rolprent Sink, wat internasionale erkenning verwerf het.

James Alexander is Vrydag (28 April) oorlede. (Foto: Verskaf)

“James het in die krag van storievertel geglo en het onverpoosd gewerk aan sy vaardighede as akteur en stemkunstenaar.

“Gedurende sy loopbaan en die laaste vyf jaar wat hy [en Anel] in Los Angeles gewoon en gewerk het, het hy die skerm met Keanu Reeves, Benedict Cumberbatch, Claire Danes, Daniel Radcliffe en andere gedeel.”

Plaaslik sal James onder meer ook onthou word vir sy rol in die sepie Binnelanders, waarin hy destyds saam met Anel gespeel het. Hy het ook verskeie Cannes Lion-toekennings as stemkunstenaar ingepalm.

Sy geliefdes sal hom onthou as iemand wat van vriendskap ’n fyn kuns kon maak, iemand met ’n skreeusnaakse humorsin en ’n aansteeklike lag. Hy sal ook onthou word vir sy toewyding aan sy familie en onwrikbare geloof.

“Almal wat die voorreg gehad het om James te ken en diep deur hom geraak is, sal saam met Anel stem dat James ’n unicorn was… enig in sy soort en die beste mens wat ek al ooit geken het.

“James het sy werk ernstig opgeneem, hoewel hy nie homself altyd so ernstig opgeneem het nie.”

James was ook ’n lid van die Suid-Afrikaanse Akteursgilde (Saga) en het deurentyd geveg vir die regte van akteurs en hul regverdige behandeling in die bedryf.

James en Anel het voor sy dood besluit om te vra dat in plaas van blomme, donasies eerder aan Saga ([email protected]) gemaak sal word.

Die familie het ook hul dank aan die Sungardens-hospies in Pretoria uitgespreek vir die ondersteuning en behandeling wat hulle die afgelope weke met deernis aan James gegee het. Donasies kan ook ter nagedagtenis aan hom aan dié hospies gemaak word.

James word oorleef deur Anel, sy ouers, Elsie en Jim, en sussie, Claire.

“Hy gaan diep gemis word. Sy geliefdes vra vir privaatheid in hierdie moeilike tyd.”

James Alexander, 8 Jan 1978 – 28 April 2023To say my heart is broken would not do justice to the 22 years we spent…

Posted by Anel Alexander on Friday, April 28, 2023

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.