Akteur, lektor sterf in Bryanston-motorongeluk

Anthony Bishop. (Foto: Figjamagency)

Anthony Bishop, ʼn Suid-Afrikaanse akteur wat bekendheid verwerf het vir rolle in Erfsondes, 7de Laan en Binnelanders en ook in verskeie plaaslike rolprente te sien was, het Maandagoggend in ʼn motorongeluk gesterf.

Die ongeluk het omstreeks 10:13 in Main-weg, in Bryanston, plaasgevind toe ʼn Volkswagen Polo, ʼn Mahindra en ʼn Toyota-bakkie teen mekaar vasgery het. Volgens ʼn Arrive Alive-verklaring is twee insittendes van een van die drie voertuie in die ongeluk reeds op die toneel dood verklaar.

Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, het aan Maroela Media gesê die oorsaak van die ongeluk word nog ondersoek. Die insittendes van die ander voertuie is lig beseer, sê hy.

Bishop was saam met sy vriendin, Nathalie Alberts, ʼn lektor van Curro- Private Kollege, in die motor toe die ongeluk plaasgevind het. Sy is ook oorlede. Dit is nie bekend wie bestuur het nie.

Steve Hofmeyr het op Twitter op Bishop se dood gereageer. “So geskok. RIV broer, heer, akteur, kunstenaar: Anthony Bishop. Ons gebede gaan uit aan jou, Yvonne.” Yvonne de Freitas is Bishop se ma.

Verskeie ander bekendes het ook hulle medelye op sosiale media uitgespreek, onder meer Nick Boraine. “[Ek] is ongelooflik hartseer om van Anthony Bishop se afsterwe te hoor – ongelooflike talent, groot hart, vol liefde. Dit was ʼn voorreg om saam met jou te kon werk oor al die jare. Rus in vrede,” het hy getwiet.

In ʼn verklaring het die Curro-groep gesê dat hulle hartseer is om van Alberts se afsterwe te hoor. Sy was sedert April vanjaar by dié instelling. “Sy het ʼn onvergeetlike indruk gemaak op haar leerders en haar kollegas. Sy sal deur almal wat haar geken het, gemis word.”

Die groep het berading aangebied aan enige leerders of personeellede wat dit nodig sou kry.

Bishop se begrafnisdiens sal Saterdag in Milpark plaasvind. Hy was 48 jaar oud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

francois joubert ·

Die Toyota bakkie het hul motor met ‘n helse slag getref volgens die foto. Kanse is skraal dat die insittendes van die motor so ‘n slag van die kant af sou oorleef soos in hierdie geval. Bitter hartseer.

Trojaanse Donkie ·

Daar is omtrent altyd ,n bakkie betrokke as dit nie ‘n minibus is nie.
Kyk maar net hoe bestuur bakkie bestuurders ! altyd in die regterbaan op die snelweg besig om die voorhom te forseer om pad te gee of ek ry sommer bo-oor jou. As jy ‘n nutsvoertuig /bakkie bestuur en jy lees dit en kyk hoe ry jy en die andeer op die pad!

Anton Steyn ·

RIV Nathalie, waar ons jou moes geluk wens met jou verjaardag, was ons gedwing om jou te groet. My innige meegevoel aan beide families.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.