Akteur sterf in kapingsdrama: Landdros bevraagteken bewyse

Dumi Masilela (Foto: Twitter)

Die landdros in die saak teen twee mans wat na bewering verbind kan word met die kaping van en moord op die Rhythm City-akteur Dumi Masilela (29), het die bewyse wat deur die staat voorgehou is tydens die twee se borgtogaansoek bevraagteken.

Maroela Media het vroeër berig Masilela en ʼn vriend is in Augustus in die middernagtelike ure in Tembisa in Gauteng gekaap. Masilela en sy vriend het van die kapers probeer ontsnap deur weg te jaag, maar hy is in die proses noodlottig gewond. Die akteur is die volgende oggend ná ʼn paar uur in die hospitaal oorlede.

ʼn Gesteelde Jeep Wrangler [wat glo tydens die kaping gebruik is] is glo in Mfundo Nkosi en Bongani Masombuka se besit gevind. Daar is glo ook ʼn ongelisensieerde vuurwapen in hul besit gevind.

Hulle staan tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede. Landdros Elmari Schutte was opsigtelik geïrriteerd toe sy konst. Mthokozisi Ngwenya vra watter bewyse die polisie het wat Nkosi en Masombuka aan die moord en poging tot kaping van Masilela verbind.

Ngwenya het gesê hy wag steeds vir die resultate van die vingerafdrukke wat van die Jeep geneem is om te bevestig dat dit aan Nkosi en Masombuka behoort.

Die voertuig is glo in Ekurhuleni gesteel. Ngwenya het vroeër gesê ʼn man met die naam Trevor Shabangu is op 2 Augustus in Daveyton in die agterste sitplek van sy Jeep Wrangler ingedwing. Volgens die konstabel het ses mans met Shabangu weggery. Hulle het hom glo na ʼn kitsbank in Tembisa geneem waar Nkosi glo geld onttrek het. Shabangu se onttrekkingslimiet was R5 000.

Ngwenya het gesê die voertuig is die volgende dag opgespoor en vingerafdrukke is geneem. Volgens hom het Nkosi homself aan die polisie oorgegee nadat Masombuka in hegtenis geneem is en glo ʼn bekentenis afgelê rakende kaping.

“Is die Jeep-erkenning verbind aan die moord op Masilela?” het Schutte gevra. “Ja,” het Ngwenya geantwoord.

Volgens Ngwenya het Nkosi tydens die bekentenis die naam van ʼn ander man genoem wat glo deel was van die groep wat glo die skote afgevuur het wat tot Masilela se dood gelei het. Ngwenya het ook gesê ʼn man is in hegtenis geneem vir die besit van ʼn ongelisensieerde  vuurwapen nadat hy deur Nkosi geïdentifiseer is. Die verdagte kon egter nog nie aan die noodlottige skietery van Masilela verbind word nie.

Schutte het Ngwenya gevra of die koeël wat in Masilela gevind is, verbind kan word met die vuurwapen wat in die verdagte se besit gevind is. Ngwenya het gesê hy is nie seker nie.

Schutte het die saak uitgestel om tyd te bied om die resultate van die vingerafdrukke wat in die Jeep geneem is te verkry.

Lumka Phoswa, staatsaanklaer, het die media verbied om foto’s van die beskuldigdes te neem omrede hulle dalk nog in ʼn uitkenningsparade moet verskyn.

Die saak is tot 8 September uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

tamboti ·

Nog ‘n geval waar SAPD se werk toetaal slordig en onvolledig is, ook die van die staatsaanklaer en speurhoof van die betrokke stasie, hulle sit seker en eet KFC tewyl “konstabel” die hof en ons belastinggeld mors!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.