Akteur sterf in kapingsdrama: Uitslag van vingerafdrukke bekend

Dumi Masilela (Foto: Twitter)

Nuwe bewyse in die Dumi Masilela-moord bewys glo die skuld van minstens een van die twee verdagtes in die saak.

Masilela (29), ʼn akteur in die gewilde e.TV-sepie Rhythm City, is verlede maand in die middernagtelike ure in Tembisa in Gauteng gekaap en geskiet en is later in die hospitaal dood.

Die Benoni-landdroshof het Vrydag gehoor vingerafdrukke wat in die gekaapte voertuig was waarmee die verdagtes glo die aand van die kaping en moord gery het, verbind Mfundo Nkosi met dié voorval.

Nkosi en Bongani Masombuka is verlede maand in hegtenis geneem.

Lumka Phoswa, die staatsaanklaer, sê ʼn tweede stel vingerdrukke wat ook in die voertuig was behoort vermoedelik aan die derde verdagte wat tans in aanhouding is by die Germiston-polisiestasie. Dié verdagte is in hegtenis geneem omdat hy in besit was van die vuurwapen glo wat glo gebruik is om op Masilela mee te skiet.

Konst. Mthokozisi Ngwenya, die ondersoekbeampte, het aan die hof gesê Nkosi het tydens ʼn ondervraging erken dat die verdagte by die Germiston-polisiestasie die skote tydens die voorval afgevuur het.

Phoswa het gesê dié man het vroeër geweier dat sy vingerafdrukke geneem word, maar dat hy met dié nuwe bewyse nou deur die hof verplig sal word om sy samewerking te gee. Sy naam sal weerhou word tot hy in die hof gepleit het.

Die saak sal weer op 21 September voor die hof gebring word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.