Akteurs sleep SAUK hof toe

Die veteraanakteur Hans Strydom. (Foto: Facebook)

ʼn Groep bekende akteurs wend hulle tot die hof vir klein eise om agterstallige betaling, wat die SAUK hulle vir heruitsendings skuld, te eis.

Die veteraanakteur Hans Strydom, ʼn medestigter van die Suid-Afrikaanse Akteursgilde (SAGA), het gesê ingevolge hulle kontrakte met die openbare uitsaaier kry die hoofspelers in ʼn produksie 25% van hulle oorspronklike betaling (aangepas met inflasie) vir ʼn program wat in spitstyd heruitgesaai  word en 15% van hulle oorspronklike vergoeding as dit buite spitstyd was.

“Dit is geld waarmee akteurs moet oorleef wanneer hulle tussen produksies is. Heruitsendings beteken daar word minder nuwe produksies vervaardig en dit beteken minder inkomste vir akteurs. Dit is dus belangrik dat daar vir heruitsendings betaal word,” het Strydom gesê.

Volgens hom het die SAUK vir 20 jaar beëdigde verklarings van akteurs aanvaar oor hulle oorspronklike vergoeding, omdat die uitsaaier self – al is dit sy verantwoordelikheid – nie die kontrakte en besonderhede bygehou het nie.

Argieffoto

Strydom sê dié praktyk het egter verander en die SAUK weier nou om beëdigde verklarings te aanvaar. “Jy kan nie só ʼn reël maak nie. ʼn Beëdigde verklaring is aanvaarbare getuienis in ʼn hof en as jy dit wil betwis, moet jy kan bewys dat dít wat daarin staan, onwaar is.

“Dit val op dowe ore. Hulle luister nie,” het Strydom gesê.

Hy het gesê ʼn reeks soos Koöperasiestories is sowat dertig jaar gelede al vervaardig en dat die betrokke akteurs dikwels nie meer hulle oorspronklike kontrakte het nie.

Die twaalf akteurs, met altesame 25 eise tussen hulle, vra nou die hof vir klein eise om die SAUK te dwing om hulle beëdigde verklarings te aanvaar. Die hof vir klein eise se jurisdiksie strek net tot R20 000.

Amor Tredoux. (Foto: Facebook)

Van die akteurs betrokke sluit in Paul Slabolepszy (Konsternasie oppie Stasie), Warren Masemola (Ses’Top La), Amor Tredoux (Rasdien), Mortimer Williams (Rasdien), asook Sylvaine Strike (Suburban Bliss).

Die sake word vanaand en môreaand in die Hillbrow-landdroshof aangehoor.

“Ek voel baie goed oor ons vooruitsigte in die hof. Die SAUK het nie ʼn voet om op te staan nie,” het Strydom gesê.

Strydom het gesê hulle het hulle ook reeds tot die kantoor van die openbare beskermer gewend en gevra dat sy ingryp by die algemene hantering van heruitsending- en eksploiteringsgelde vir Suid-Afrikaanse akteurs.

Strydom, self ʼn voormalige staatsaanklaer en landdros, voer al jare lank ʼn stryd om behoorlike vergoeding vir akteurs te verseker.

Die akteur Jack Devnarain, voorsitter van SAGA, het gesê die SAUK se benarde finansiële posisie dra waarskynlik by tot die probleem, maar is nie die enigste oorsaak daarvan nie.

Hy het gesê burokratiese rompslomp en ʼn hoë personeelomset by die openbare uitsaaier, beteken dat prosesse wat bespreek word, selde behoorlik afgehandel word voordat ʼn nuwe aanstelling die proses weer van voor af laat begin.

Paul Slabolepszy. (Foto: paulslabolepszy.com)

Aobakwe Sekwati, wat die herhalingsgeld vir die SAUK administreer, wou by navraag nie kommentaar lewer nie. Sekwati het gesê hy sal die SAUK se saak in die hof stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Johan Swart ·

Ek besit nie n skottel of tv-stel van 2001 af nie….ek kyk nie na die propoganda nie..kry vir jou internet,dan sien jy wat werklik in die wêreld om jou aangaan…bly weg van sosiale media…dis sosialisties.

Anoniem ·

Vroeer jare het ons nie van hierdie dinge gehoor nie ai dis hartseer hoe n kand agter uitgaan!!!

Josef ·

@Anoniem, vroeer jare het ons nie daarvan gehoor nie want die internet was nie daar nie.

Karl ·

Net omdat ons nie daarvan gehoor het nie, beteken nie dit het nie gebeur nie.

marous ·

Wat gaan hulle kry ? Ou lang speel plate in ‘n stoor dalk ?

patriot ·

Josef… vroeer jare het ons nie van dit gehoor want dit het nie gebeur nie… Vroeer jare was die mense betaal wat hulle toegekom het. En terloops, daar was koerante en tv nuus wat die dekking gegee het wat die SAUK nie meer onpartydig doen nie.

Tienie ·

Mooi so Hans.

Melk hulle. SABC en kyknet laat veel te wense.

Krap in mekaar se asblikke….

VanAfrika ·

As oud landros ken Hans die wette, SAUK gaan kort end trek.

Hans ·

Na die strooptog, is daar natuurlik geen geld oor nie!!! Hoe kry jy geld uit die strooptogte? Daai manne het die Porches en Mercs al vrot gery. Om iets van hulle te eis.,. daar sal dadels van kom!!

Stan ·

Sekerlik kan mens net een keer betaal word vir jou werk.
Die goeie ou SAUK het mos betaal vir die produksies en is nou die eienaars daarvan. As konsultant kan ek nou nie my kleinte dagvaar omdat hulle steeds die werk waarvoor ek reeds betaal is steeds gebruik nie.

Thomas ·

Hul is kunstenaars. As een voorbeeld, maatskappye betaal geld om advertensies te lug tydens heruitsendings. Die kunstenaars moet daarin deel. As ‘n radiostasie ‘n liedjie speel, betaal hul daarvoor.

Elna ·

Ek stem roer hulle. Laat hulle huil oor die witskip wat sink in hierdie land. Dis hoekom alles ten modder gaan in die land.Dis in elk nie meer die moeitewerd om eers tv te kyk nie
Ek lees eerder my Maroela media elke dag dis vir my van beter nut. My oe kry oefening en die nuus is baie meer van waarde as op tv. Dankie Maroela media vir julle nuus wat julle elkedag pligsgetrou aan ons verskaf. Sterkte aan alle akteurs met julle eisse teen die SABC.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.