Aktiewe deelname aan SBL-verkiesings bemoedigend

(Argieffoto: Unsplash)

ʼn Gees van gesonde demokratiese deelname kenmerk vanjaar se skoolbeheerliggaamverkiesings, het die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), Vrydag gesê.

Dié verkiesings vind elke drie jaar plaas en skole het tot 31 Maart vanjaar om dit af te handel. Meer as 250 000 SBL-lede moet verkies word by die land se 22 511 openbare skole.

“Ons ontvang baie goeie terugvoer van talle van ons lidskole oor gemeenskappe wat baie meer betrokke is as in vorige verkiesings.

Dit is wonderlike nuus, veral in die lig van die talle uitdagings wat vanjaar op onderwys wag,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas.

Volgens hom is dit duidelik dat al meer skoolgemeenskappe eienaarskap neem.

“Dit gee gestalte aan die gees van die Skolewet, wat bepaal dat openbare skole ʼn gemeenskapsbate is wat deur ʼn gemeenskap bestuur word.”

“Die beheerliggaamverkiesing is ʼn demokratiese proses. Daar is geen plek vir hekwagters, hetsy in persoon of in die vorm van ongeskrewe reëls en persepsies oor prosedures nie. Die meeste provinsies het behoorlike verkiesingsregulasies gepubliseer, wat die prosedures en rolle duidelik uiteensit.”

Elkeen het ʼn rol

Dit is uiteraard belangrik dat alle rolspelers in die verkiesingsproses weet wat van hulle verwag word.

Deacon sê skoolleiers se rol in die verkiesing is hoofsaaklik kommunikasie oor die proses op hul amptelike kommunikasieplatforms. Uittredende beheerliggame se funksies sluit weer in om die verkiesingsproses te beplan en daaraan uitvoering te gee.

Die proses word dan afgesluit met ʼn behoorlike oordragvergadering saam met die nuwe beheerliggaam.

Deacon sê in hierdie stadium word aanvaar dat beheerliggame reeds op die datum en formaat van die verkiesing besluit het.

“Buiten vir die proseskommunikasie, speel die skool ook ʼn belangrike rol in die bemarking van die verkiesing. Die skool moet ook, sodra die kandidate benoem is, al die kandidate op gelyke wyse aan die skoolgemeenskap bekend te stel.

“Fedsas verwelkom goeie, gesonde demokratiese prosesse en verkiesings om die beste moontlike leiers vir ons skole te verkies. Goeie skoolleiers sal hierdie energie en momentum positief in belang van hulle skool ontgin.”

Deacon meen aktiewe deelname aan beheerliggaamverkiesings was vir lank afwesig.

“Ons is baie bly om te verneem dat ouers en gemeenskappe buite die skool se amptelike strukture kommunikeer, werwing doen en moontlike kandidate voorstel.

“Dit is belangrik dat ons sterk kandidate benoem en in groot getalle opdaag om te stem. Dit is per slot van sake hierdie beheerliggame wat met die gevolge van die Bela-wet gaan handel.”

Opleiding belangrik

Fedsas het Vrydag opnuut benadruk hoe belangrik goeie beheerliggaamopleiding is, sodat lede hul pligte deeglik en doeltreffend kan uitvoer.

“Ons versoek ons lede om seker te maak dat die beheerliggaam en bestuurspanne goed toegerus is vir hul taak. Fedsas het deeglike, beproefde opleidingsprogramme en talle ander hulpbronne om beheerliggame by te staan.”

Fedsas het vroeër gesê dat vanjaar se verkiesings maak of breek vir onderwys in Suid-Afrika is, veral in die lig van die omstrede Bela-wetgewing wat in ʼn gevorderde stadium is.

Dié wetgewing bevat talle veranderinge wat skoolgemeenskappe gaan stroop van hul sê in hoe openbare skole bestuur word.

Vir meer inligting oor die SBL-verkiesing asook Fedsas se opleidingsprogramme en ander hulpbronne, besoek www.fedsas.org.za.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.