Aktiewe, maerder, lang vroue word veel ouer

Argieffoto: Pixabay

Vroue wat ʼn hoë ouderdom wil bereik – 90 jaar of ouer – se kanse is veel groter as dié van mans indien hulle ʼn gesonde gewig op 70 het, ʼn langer statuur het en hulle ʼn uur se oefening elke dag gedoen het.

Dié verband tussen gewig en lengte geld egter nie soveel vir mans om ʼn baie hoë ouderdom, wat as 90 jaar gesien word, te bereik nie. By mans tel oefening meer.

Volgens ʼn studie wat pas in die Journal of Epidemiology & Community Health gepubliseer is, word oefening vir beide geslagte met ʼn lang lewe verbind. Mense word deesdae wel ouer, maar dit blyk dat ʼn plato bereik is, weens toenemende vetsug en onaktiwiteit.

Vorige studies het na die verband tussen gewig, jou liggaamsmassa-indeks (BMI), oefening en ouderdom gekyk, maar die meeste studies het net na mans gekyk, of beide geslagte se data saamgegooi. Mans en vroue se lewensduur verskil weens hormone, gene en leefstyl.

Argieffoto: Pixabay

Om te kyk wat presies dit is, het kenners van Nederland die data van 120 000 mans en vroue bekyk wat sedert 1986 ingesamel is. Destyds was die mense tussen 55 en 69 jaar oud. Hulle wou sien of daar ʼn verwantskap is tussen gewig, lengte, en oefening – en wie leef die langste – nadat alle ander negatiewe faktore uitgeskakel is.

Uiteindelik het 7 807 mense besluit om deel te neem aan dié deel van die studie (dit was deel van ʼn groter nasionale studie). Mense is gemonitor totdat hulle 90 is, of tot met hulle dood.

Altesame 433 mans (16,7%) en 944 vroue (34,4%) uit 7 807 het 90 jaar oud geword.

Die vroue was gemiddeld langer as die ander wat nie so oud geword het nie, en het minder as die ander geweeg in 1986, en daarna. Hulle het ook min gewig aangesit deur hulle lewe, sedert hulle 20 jaar oud was. Die wat 8 kg of minder sedert hulle twintigs aangesit het, het die langste geleef.

Argieffoto: Pixabay

Die vroue van 1,75 m lank, of selfs langer, se kanse was 31% groter om 90 jaar oud te word, as dié wat 1,60 m lank was. Maar vir mans is daar nie so ʼn verband gesien nie.

By die mans was daar wel ʼn verskil: Die wat 90 minute se oefening per dag gedoen het, se kanse om 90 jaar oud te word was 39% groter as dié van mans wat 30 minute oefening per dag gedoen het. Maar by vroue was dit nie die geval nie – 60 minute oefening per dag was net reg.

Hoewel die studie observasies gemaak het, en nie die oorsaak bepaal het nie, is dit beduidend genoeg om ʼn verskil tussen mans en vroue aan te dui, asook die rol wat jou leefstyl speel.

Aan jou lengte kan jy niks doen nie, maar jou gewig en die oefening wel. Die bevinding is dat ʼn beduidende verwantskap bestaan tussen vroue se gewig en hoe lank hulle lewe.

Gebruik dié skakel om jou BMI te bereken:

https://www.nhlbi.nih.gov/health/educational/lose_wt/BMI/bmi-m.htm

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut-wetenskapjoernalis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anneli ·

Ek stem 100% saam met jou! In ons samelewing is mense oor 90 jaar bitter eensaam.

Oud word vir mans – geen melkterte ·

Dus as mans oud wil word moet hulle baie oefen en al die koeke en terte uitlos.

Stuiwer ·

Gene moet ook in ag geneem word. Sommige mense is gelukkig en bly hulle hele lewe lank maer. Ander diëet tot hulle blou is in die gesig en verloor niks nie. Ek sukkel om die verband te trek tussen lengte, gewig en lewensverwagting. Natuurlik kan jy siektes opdoen omdat jy ongesond eet, maar daar is ook siektes wat geneties van aard is, bv. diabetes en hoë kolesterol. Ek neem aan dat die mense wat aan die opname deelgeneem het, perdfris en gesond was toe hulle daarmee begin het en so gebly het? Ek glo wel dat jy jou lewenskwaliteit kan verbeter deur gesond te eet en te oefen, maar of dit jou tot op 90 kan laat lewe? Ek twyfel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.