Aktivis Ian Cameron gaan nie ‘sharrap’; nou op pad politiek toe

Die aktivis Ian Cameron gaan die politiek nou as lid van die DA betree. (Foto: Verskaf)

 Die teenmisdaad-aktivis Ian Cameron is op pad politiek toe.

Cameron het aan Maroela Media gesê dat hy as vertroulike DA-kandidaat die afgelope jaar dié party se keuringsprosesse deurloop het en nou op die DA se lys vir die Nasionale Vergadering verskyn.

Sy posisie op dié lys maak dit moontlik vir hom om as parlementslid vir die DA verkies te word. Die proses is tot dusver dig gehou en sal waarskynlik ook vir ʼn hele paar ander DA-lede nuus wees, aldus Cameron.

Die lyste is nog nie amptelik bekend gemaak nie, maar behoort binnekort beskikbaar te wees.

Cameron is geen vreemdeling vir politici trompop loop nie. Die parlement het die minister van polisie, Bheki Cele, vroeër opdrag gegee om hom om verskoning te vra ná die minister se uitbarsting by ʼn imbizo in die Wes-Kaap waar hy met ʼn swaaiende vinger vir Cameron geskreeu om te “shut up”.

Cameron, wat hom al jare lank beywer vir ʼn veiliger Suid-Afrika – en die polisieminister se kop al menigmaal geëis het – het Cele destyds gedruk oor die polisie se versuim om die plaaslike gemeenskap teen misdadigers te beskerm. ʼn Woedende Cele het uitgevaar, Cameron beveel om te sit en stil te bly – met die ganse onderonsie wat verfilm en daarna wyd versprei is.

Sy vreeslose konfrontasie van die minister het hom daarna ʼn handdruk en ʼn klop op die skouer van talle misdaadvoos Suid-Afrikaners besorg.

Politieke rol

Presies watter rol Cameron na verwagting in die DA gaan vervul, is in hierdie stadium nog onduidelik. Hy hoop egter om met polisiëring en die strafregstelsel getaak te wees, aangesien dít is waar sy kundigheid, maar ook sy hart, lê: om mense op grondvlak te dien en daar ʼn verskil te maak.

Cameron is tans die direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society en was oor die afgelope paar jaar by verskeie sake betrokke waar die groep slagoffers van geweldsmisdaad of geweld teen vroue en kinders bygestaan het. Hy is nou besig om die leisels van sy rol by Action Society oor te gee sodat hy op sy nuwe politieke toekoms saam met die opposisieparty kan fokus.

Hy beskryf sy toetrede tot politiek as ʼn “logiese volgende stap”.

“Ek is opgewonde. Almal kla altyd oor politiek, maar jy kan nie daarsonder nie. Dit speel oral ʼn rol.”

Cameron glo dat hy ʼn waardevolle bydrae tot die land deur politiek kan maak, veral vanweë sy kennis oor die polisie en misdaad in die land, en die diepgewortelde verhoudings wat hy oor die jare in veral Wes-Kaapse gemeenskappe en met lede in die polisie opgebou het.

“Ek het my lewe gewy aan die stryd vir geregtigheid vir die 30 000 Suid-Afrikaners wat elke jaar vermoor word. Ek sal die stryd voortsit as deel van die DA en aanhou werk om Suid-Afrika weer veilig te maak, die oppergesag van die reg te herstel en ons mans en vroue in blou te bemagtig om hul werk te doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.