Aktivis mág plaaseienaar se besonderhede op Facebook sit

(Foto: pixabay)

Deur Geoffrey Allsop, GroundUp  

WAARSKUWING: Hierdie berig bevat inhoud wat sommige lesers kan ontstel. 

Die appèlhof het bevind ʼn bewaringsaktivis mág persoonlike inligting oor ʼn plaaseienaar, wat betrokke is by die vang en doodmaak van sekere diere, bekendmaak. Dus word  ʼn vroeëre beslissing van die hooggeregshof hieroor nou omgekeer.

Dit kom nadat ene Bool Smuts, ʼn wildlewebewaringsgesinde, die naam, adres en telefoonnommer van ʼn plaaseienaar op Facebook geplaas het, nadat dié dooie diere in hokke op sy plaas aangehou het.

Fietsryers het in 2019 verby ʼn plaas by Varsfontein in die Oos-Kaap gery toe een van hulle twee hokke op die plaas opgemerk het. ʼn Dooie bobbejaan was in een van die hokke en ʼn dooie ystervark in een van die ander hokke. Albei hokke was in die son, sonder enige skaduwee of water en dit het gelyk of die diere weens honger of dors omgekom het.

Die fietsryer het foto’s van die dooie diere geneem en dit aan Smuts gestuur. Smuts het die eienaar van die plaas, Herman Botha, op WhatsApp gekontak en Botha het in dié gesprek gesê hy het ʼn permit om bobbejane, ystervarke en “ander ongediertes” te jag, te vang en dood te maak.

Smuts het die foto’s daarna op die Facebook-blad van sy dierebewaringsorganisasie geplaas.

Hy het ook die ligging van die plaas, Botha se adres, telefoonnommer, die adres van Botha se maatskappy en besonderhede van die WhatsApp-gesprek oor die diere geplaas. Smuts het ook ʼn foto van Botha, saam met sy toe ses maande oue dogter, gedeel.

Hy het verduidelik hoe bobbejane gevang word deur lemoene in dromme te gooi, waarin bobbejane dan klim en vasgekeer word. Die lemoene is volgens hom dikwels ook vergif.

Die plasing het verskeie Facebook-kommentare ontlok wat krities teenoor Botha was. Sommige mense het voorgestel dat sy versekeringsonderneming geboikot word, terwyl ander gemeen het die gebruik om diere te vang en dood te maak moet aan die groot klok gehang geword. Een Facebook-gebruiker het selfs gesê Botha “moet in daardie hok wees”, terwyl ʼn ander gesê het hy “moet besoek word”.

Botha het ʼn dringende aansoek in die hooggeregshof in Gqeberha gebring waarin hy die hof gevra het om Smuts te beveel om die plasing te verwyder en hom te verbied om enige lasterlike bewerings oor hom te maak.

Die hooggeregshof het hom gelyk gegee.

Die hof het Smuts beveel om die dele van die Facebook-plasing wat na Botha, sy onderneming, asook die naam en ligging van sy plaas te verwyder. Smuts het voor die bevel reeds die foto van Botha saam met sy dogter verwyder.

Regter Judith Robertson het bevind hoewel Smuts en sy maatskappy die foto’s van die dooie diere kon plaas, was hulle nie geregtig daarop om te sê dat dit op Botha se plaas geneem is nie, óf om sy identiteit bekend te maak. Volgens Robertson is dit Botha se persoonlike inligting en die bekendmaking daarvan is ʼn skending van die grondwetlike reg op privaatheid en dus onregmatig.

Sy het ook bevind die publiek het net ʼn belang by Botha se gebruik om wilde diere te vang en dood te maak en nie in sy persoonlike inligting nie.

Appèlhof besluit anders

Die foto van die dooie bobbejaan is op Facebook gedeel.

Smuts het hom tot die appèlhof gewend en aangevoer dat die plasing billike kommentaar was wat deur sy grondwetlike reg op vryheid van uitdrukking beskerm word. Hy het aangevoer die doel van die plasing was om te wys die lokvalle is “wreed, barbaars, walglik en moordend vir biodiversiteit”.

Volgens hom kan sy mening dalk aanstoot gee of sommige mense ontstel, maar dat dit nietemin deur die Grondwet beskerm word. Hy het ook aangevoer daar is geen sin daarin om die foto’s te plaas, sonder om te sê waar dit geneem of wie die lokvalle gestel het nie.

Botha het aangevoer die doel van die Facebook-plasing was om die indruk te skep dat sy vang en doodmaak van diere onregmatig is, terwyl hy ʼn permit het om dit te doen. Die doel van die plasing was om sy naam in oneer te bring, sy onderneming skade te berokken en sy familie in die gevaar te stel.

Hy het voorts gesê vryheid van uitdrukking is belangrik, maar dat dit nie beteken Smuts kan daarop staatmaak om sy persoonlike inligting te plaas of lasterlike stellings oor hom te maak nie.

Openbare kommer

Die appèlhof sê die hooggeregshof het regtens erken dat die gebruik van dierelokvalle ʼn saak van openbare belang is en dat die stemme van aktiviste soos Smuts gehoor moet word. Die hooggeregshof was egter verkeerd in die bevinding dat Smuts meer versigtig moes wees om skade aan Botha se privaatheid te beperk, en ook verkeerd in die bevinding dat die openbare belang nie genoeg rede is om Botha se persoonlike inligting bekend te maak nie.

Die regter het ook bevind die hooggeregshof het versuim om te erken dat die howe mense nie moet sensor of voorsê oor hoe hulle hul reg op vryheid van uitdrukking mag uitoefen nie.

Die appèlhof het bevind die hooggereghof se benadering tot die saak gaan die vermoë van aktiviste om te praat oor sake van openbare belang aan bande lê en die fundamentele doel van die reg op vryheid van uitdrukking ondermyn.

Botha se argument, dat die plasing sy reg op privaatheid skend, dra geen gewig nie, het die hof bevind. Botha het nooit die feit dat hy lokvalle gebruik om diere op sy plaas te vang weggesteek nie en die naam en ligging van sy plaas en onderneming was in die openbare domein.

Daar sou geen doel wees om die foto’s van die diere te plaas sonder om te verduidelik waar dit geneem en wie die lokvalle gestel het nie, het die appèlhof bevind.

Botha is beveel om Smuts se regskoste vir die hooggeregshofsaak én die saak in die appèlhof te betaal.

Die berig is oorspronklik deur GroundUp gepubliseer. Die berig is effens verkort vir publikasie op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
AW

Siek Né !!

Herman

Nou hoe mag jy iemand se persoonlike inligting en adres plaas maar nie dat iemand matriek slaag of druip nie. Dis mos dubbel standaarde. Waar kom popi in.

Marius

Bly dat reg en geregtigheid soms nog geskied.

Julius

Kan ons die aktifus se adres en foon nommer ook kry om by hom besoek af te lê?

Tipper

Siek Botha konsentreer meer op die Facebook sage as die wreedheid wat hy pleeg.