Aktrise Mary Twala oorlede

Mary Twala (Foto: Twitter/ANA)

Die portefeuljekomitee oor sport, kuns en kultuur het Saterdag sy meegevoel betuig met die afsterwe van die aktrise Mary Twala (80).

Beauty Dlulane, voorsitter van die komitee, het gesê die komitee stuur sy innige meegevoel aan die familie, vriende, kunsgemeenskap en alle Suid-Afrikaners. “Ons is baie hartseer oor die nuus van haar afsterwe in ʼn tyd wanneer die kunste in ons land en die wêreld onder geweldige druk is vanweë die koronavirus. Sy was ʼn legende wat Suid-Afrikaanse televisieskerms dekades lank opgehelder het,” het Dlulane gesê. “Dit is nie ʼn tyd om hartseer te wees nie. Kom ons vier die tyd wat ons dié legende by ons gehad het en deel haar met die wêreld.”

Twala was bekend vir haar rolle in die rolprente Sarafina (1992), Hector and the Search for Happiness (2014), en The Dark Tower (2017). Sy was ook te sien in Leading Lady (2014) en Frank & Fearless (2018) en in die televisiereekse Die Sonkring II, Generations en The No. 1 Ladies’ Detective Agency (2008). Sy is in 2011 vir die Afrika-rolprentakademietoekenning vir beste aktrise in ‘n ondersteunende rol genomineer. Sy was die moeder van Suid-Afrikaanse akteur Somizi Mhlongo.

Pres. Cyril Ramaphosa het ook sy meegevoel betuig met haar afsterwe. Hy het in 2019 die Orde van Ikhamanga (silwer) aan haar oorhandig. Die nasionale orde is die hoogste eer wat ʼn Suid-Afrikaanse landsburger kan ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.