Akwarium, kabelspoor binnekort terug op lys van lekkerdoendinge

(Foto: TMACC)

Die afsonderingsregulasies is verslap en talle Suid-Afrikaners wat die afgelope paar maande dalk in hul huise vasgekeer gevoel het, gryp elke geleentheid aan om uit te kom.

Sluit gerus weer Kaapstad se kabelkar by jou dinge-om-te-doen-lysie in.

Die Table Mountain Aerial Cableway Company (TMACC) het die afgelope week aangekondig die kabelspoor heropen op 1 September vir alle toeriste.

(Foto: TMACC)

“Net betyds vir toerismemaand het Suid-Afrikaners nou die geleentheid om hul land én sy ryk, uiteenlopende nasionale skatte te verken. Ons nooi besoekers om een van ons eie Nuwe Sewe Wonders van die Natuur te kom beleef,” het Wahida Parker, besturende direkteur van TMACC, gesê.

Die kabelspoor is elke dag in September van 08:00 tot 15:00 oop.

“Ons doelwit is om te verseker dat elke besoeker ʼn belewenis van wêreldgehalte het wanneer hy of sy die erfenis en natuurskoon van Tafelberg geniet. Ons het elke moontlike stap gedoen om die gesondheid en veiligheid van ons besoekers en personeel te verseker.”

Die kabelspoor het tydens die afsonderingstydperk hard gewerk om alle soorte veiligheidsprotokol voor te berei.

ʼn Maksimum van 26 mense, asook die kajuitmeester, word per rit toegelaat om sosiale afstandhandhawing te verseker. Geen besoeker sal sonder ʼn masker toegelaat word nie en die kabelspoor sal elke 24 uur diep gereinig word. Die kajuite sal ná elke rit ontsmet word en handontsmettingsmiddel word by die stasies voorsien.

(Foto: TMACC)

Nadat die afsonderingsregulasies vandeesweek verder verslap is, kan besoekers nie net versnaperinge en wegneemetes koop nie, maar ook bier en wyn by die restaurante.

Kontantlose kaartjieverkope word aangemoedig en kaartjies sal voortaan aanlyn gekoop kan word, sonder dat ʼn kaartjie uitgedruk hoef te word. “Nie net hou dit higiëniese voordele in nie, dit pas ook in by ons langtermyn-omgewingstrategie om nie meer papier te gebruik nie.”

En as jy in afsondering verjaar het, onthou om jou gratis kaartjie te eis. Dié kaartjies kan tot twee weke ná die kabelspoor heropen, opgeëis word.

(Foto: Twee Oseane-akwarium/Facebook)

Ná die maande lange afsondering heropen die Twee Oseane-akwarium óók op 1 September sy deure vir besoekers. Die akwarium is weeksdae van 09:30 tot 18:00 oop en naweke en vakansiedae van 09:00 tot 18:00.

Voor die afsonderingstydperk was die Twee Oseane-akwarium in sy 25 jaar lange geskiedenis nog net een enkele dag gesluit en daar heers groot opgewondenheid om besoekers terug te verwelkom.

Akwariumlede kan selfs vroeër by hul gunsteling-seediere ʼn draai gaan maak. Dié lede kan reeds van Vrydag 28 Augustus die akwarium besoek.

Die restaurant en die akwariumwinkel is gereed vir besoekers.

(Foto: Twee Oseane-akwarium/Facebook)

“Ons is verheug om eindelik toestemming van die regering te kry om ná vyf maande weer ons deure te heropen,” het Michael Farquhar, uitvoerende hoof van die akwarium, gesê.

“Die akwarium gaan nou weer gons van geesdriftige besoekers wat die skoonheid en towerwêreld onder die water ontdek. Nou kan ons weer ons doelwit bereik om oseane te red en besoekers te inspireer.”

Die akwarium het ook streng gesondheidsmaatreëls ingestel om besoekers veilig te hou.

Aanlyn kaartjie-aankope word aangemoedig en daar sal kontaklose betaalpunte by die akwarium se kaartjiekantoor beskikbaar wees. Besoekers sal vir Covid-19-simptome gesif word en alle besoekers moet ʼn masker dra.

Besoekersgetalle word beperk tot 50% van die akwarium se kapasiteit.

Sommige van die akwarium se uitstallings, soos die deurkruiptonnels en kinderspeelplek, bly in die belang van gesondheid tydelik gesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sarel ·

Nou sal hulle seker weer vir ‘n rukkie aan die Binnelandse Toeris kyk.

Africangrey ·

Sarel, as jy van gauteng is, kom besoek my eie handgemaakte aquarium en kabelkarretjie wat ek gedurende lockdown (ek het baie tyd gehad) gebou het!!!

Africangrey ·

Haai dis nou n jammerte, gedurende inperking het ek my eie aquarium gebou met n kabelkarretjie om daar uit kom, toe, as gevolg van covid verloor ek my werk ek kort nog net die safety belts, sodra ek die bydrae van die government ontvang wat na my kant toe moes gekom het gedurende lockdown? Dan stel ek my plekkie oop vir public, dis sommer hier in gauteng, almal is welkom!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.