Al 98 Numsa-lede in hegtenis geneem

Numsa-betogers Foto: numsa.org.za

Numsa-betogers Foto: numsa.org.za

Altesaam 53 stakende Numsa-lede is Dinsdag in Gauteng in hegtenis geneem op aanklag van openbare geweld.

“Die polisie het 13 lede van Numsa in Brakpan aangekeer en 40 mense in Germiston op moontlik aanklagte van openbare geweld, het lt.genl. Solomon Makgale, woordvoerder vir die polisie, gesê.

Altesaam 28 betogers is vroeër in Gauteng in hegtenis geneem en 17 in die Wes-Kaap sedert lede van die National Union of Metalworkers of SA (Numsa) in die metaal- en ingenieursbedryf begin staak het.

“Altesaam 98 mense is landswyd in verband met dié staking in hegtenis geneem,” het Makgale bygevoeg. “Sewe sake is in KwaZulu-Natal aangemeld. Die polisie beskik oor kringtelevisiebeeldmateriaal wat moontlike verdagtes uitgeken het. Die polisie is op hul spoor.”

Ander provinsies word ook geteister deur die betogings, maar daar is nie nog gevalle van geweld of ander verwante misdade aangemeld nie.

Makgale het gesê die nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega, het ‘n vergadering met Numsa se leierskap versoek om haar kommer oor die sporadiese geweld uit te spreek. Castro Ngobese, woordvoerder vir Numsa, het lede vroeër gemaan om gedissiplineerd te staak.

Seifsa, die werkgewersorganisasie, het gesê voorvalle van intimidasie en beskadiging van eiendom is aangemeld. “’n Maatskappy in Alrode het sy werknemers huis toe gestuur vir hulle veiligheid en ‘n maatskappy in Dunswart het skade aangemeld,” het woordvoerder Ollie Madlala gesê.

Die staking het op 1 Julie begin en Numsa eis ‘n salarisverhoging van 15% met R1 000 as behuisingsubsidie in ‘n eenjaarooreenkoms. Numsa eis ook dat die gebruik van arbeidsmakelaars afgeskaf moet word.

Seifsa het Donderdag ‘n driejaarooreenkoms van tussen 8% en 10% aangebied vir verskillende vlakke werknemers in die eerste jaar. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AmY ·

Hoop hulle almal gaan ‘n rekord teen hulle name hê.

Sal wil sien watter maatskappye gaan hulle dan in diens neem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.