Al-Basjir-sage: Hof vra dat klagte teen regering oorweeg word

Omar al-Basjir, president van Soedan

Omar al-Basjir, president van Soedan

Die hooggeregshof in Pretoria het die nasionale direkteur van openbare vervolging Woensdag versoek om die moontlikheid van strafregtelike klagte teen de regering rakende die Omar al-Basjir-sage te oorweeg.

“Pres. Basjir se vertrek uit die land ondanks die uitdruklike bevel van Sondag 14 Junie, kom neer op nienakoming van daardie bevel,” het regterpresident Dunstan Mlambo namens ʼn volbank regters gesê. “Om hierdie rede vind ons dit raadsaam om die nasionale direkteur van openbare vervolging te nooi om te oorweeg of strafregtelike prosedures geskik sal wees.”

Mlambo het verlede week gesê die hof soek ʼn verduideliking oor hoekom al-Basjir toegelaat was om die land te verlaat ondanks ʼn tussentydse hofbevel wat dit verbied het.

“Ons versoek dat ʼn beëdigde verklaring binne sewe dae by die registrateur van die hof ingedien moet word oor die tyd wanneer hy weg is en die plek van ingang of toegang wat hy gebruik het,” het Mlambo aan William Mokhari, die regering se regsverteenwoordiger, gesê.

“Hoe is dit moontlik dat pres. Al-Basjir en sy gevolg van Sandton na die Waterkloof-lugmagbasis gereis het sonder die wete van die respondente (regeringsbeamptes)? Hoe is dit moontlik dat die Soedanese vliegtuig van die Waterkloof-lugmagbasis opgestyg het sonder dat die respondente geweet het of pres. Al-Basjir aan boord is of nie? Hoe kan die vliegtuig laatmiddag in die Soedan land as dit nie teen middagete vertrek het nie? Die antwoorde is vanselfsprekend,” het Mlambo gesê.

Al-Basjir word beskuldig van oorlogsmisdade, misdade teen die mensdom en volksmoord in die Soedan se westelike Darfoer-gebied. Twee lasbriewe vir sy inhegtenisneming is in 2009 en 2010 uitgereik. As ʼn lid van die internasionale strafhof was Suid-Afrika verplig om al-Basjir aan die hof uit te lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

gert ·

Van wanneer af is Thuli Madonsela die Nasionale Direkteur van openbare vervolging?

Sune van Heerden ·

Dagsê Gert

Ons vra om verskoning oor die flater. Die fout het tydens die teksversorging ingesluip. Ons het die berig gewysig. Dankie dat jy ons daarop gewys het!

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.