Al groter druk op parlement om virtuele reëls aan te pas

Die parlement in Kaapstad. (Foto: ANA)

Druk op die parlement deur verskeie politieke partye is besig om toe te neem om die gebruik van virtuele platforms aan te pas of te verminder sodat meer konvensionele vergaderings kan plaasvind namate die land na laer vlakke van die afsonderingstydperk beweeg.

Die verbod op byeenkomste met meer as 50 mense en die probleme met binnelandse lugreise het daartoe meegewerk dat die parlement ʼn virtuele stelsel vir komiteevergaderings en openbare insette ontwikkel het, asook ʼn hibridiese stelsel vir byeenkomste van die Nasionale Vergadering (NV), met sommige LP’s aanwesig in die vergadersale van die parlement in Kaapstad en ander wat aanlyn inskakel.

Tydens ʼn vergadering van die NV se programkomitee hierdie week het lede van die ANC, EFF, IVP en UDM gewaarsku dat ʼn persepsie by arm, swart Suid-Afrikaners aan’t ontstaan is dat die parlement elitisties word omdat jy in die aanlyn-era ʼn rekenaar, internet en bandwydte moet hê om aan die parlement deel te neem.

Baie Suid-Afrikaners het nie geld hiervoor nie en voel uitgesluit van die land se beleidsprosesse.

As voorbeeld word genoem die openbare insette wat vandeesweek in die parlementêre portefeuljekomitee oor landbou gegee is oor die Wetsontwerp oor die Opgradering van Verblyfreg op Grond – die sogenaamde Ultra-wetsontwerp.

Daar is uitgewys dat dit nie help dat net 50 mense kan byeenkom om aan die grondwetlikevereiste vir openbare insette te voldoen nie, omdat dit nie aan die Grondwet se norme voldoen nie.

Dieselfde regulasie teen die byeenkoms van meer as 50 mense is ook die rede waarom die ad hoc-komitee oor die verandering van art. 25 van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding te vergemaklik, se werk vertraag is.

Die openbare vergaderings vir insette uit die Wes-Kaap en die Oos-Kaap moet nog plaasvind, maar daar daag altyd baie meer as 50 mense op. Die vergaderings is dus voorlopig uitgestel.

Dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus, het aan die komitee gesê noudat die land vlak 2 van die afsonderingstyd ingegaan het, raak dit in elk geval tyd dat die parlement sy sittings in Kaapstad op groter skaal hervat met meer LP’s teenwoordig.

Hy het voorgestel dat daar van partye verwag word om die helfte van hul LP’s fisiek in die parlement vir sittings teenwoordig te hê.

Die adjunkspeaker, Lechesa Tsenoli, het gesê die parlement se voorsittende beamptes sal al hierdie voorstelle ernstig oorweeg en eersdaags terugvoer verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.