‘Al herstel ons self, moet munisipaliteite opdok’

Een van die vele slaggate wat gevul is. Foto: AfriForum

Een van die vele slaggate wat gevul is. Foto: AfriForum

Nadat die burgerregte-organisasie, AfriForum, se gemeenskapstrukture verlede week straatligte, slaggate, vullisterreine, begraafplase en parke in dorpe landwyd skoongemaak en/of herstel het, gaan die onkoste hiervoor nou van munisipaliteite teruggeëis word.

Dié stap is fase 2 van AfriForum se inisiatief, wat bekend staan as 10 Dae van Selfstandigheid, wat van 28 September tot 8 Oktober van stapel gestuur is.

Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof, het fase 2 van die inisiatief Donderdag aangekondig.

Volgens Kriel is staatsverval op plaaslike regeringsvlak só drasties dat gemeenskappe die vermoë moet skep om hul lewenstandaarde wat openbare ruimte betref te behou. “Dit verg egter bykomende geld, tyd en moeite deur die gemeenskappe. Daarom is dit belangrik om steeds plaaslike owerhede aanspreeklik te hou. Fase 2 van die selfstandigheidsprojekte gaan hierop fokus,” het Kriel gesê.

AfriForum gaan spesifiek poog om geld wat deur gemeenskappe bestee is deur middel van gesprekke, onderhandelinge en regsaksie van plaaslike owerhede te verhaal.

Die burgerregte-waghond se nagenoeg 150 gemeenskapstrukture het verlede week meer as 200 projekte landwyd uitgevoer:

  • Nagenoeg 135 ton teer is gebruik om 4 000 slaggate te herstel.
  • 845 ton rommel en vullis is verwyder.
  • 200 straatligte is herstel.
  • 2 000 bome is geplant.
  • 16 begraafplase is skoongemaak.

AfriForum het as deel van die veldtog ʼn nasionale patrollie, wat as Operasie Misdaadvry bekend staan, van stapel gestuur om dorpe en landelike gemeenskappe te beveilig. Meer as 3 000 mense van 127 gemeenskapsorganisasies het hieraan deelgeneem.

“AfriForum sal aanhou om gemeenskappe te mobiliseer en sodoende ʼn omgewing skep waarbinne ons lede en landgenote vry, veilig en voorspoedig kan leef,” het Kriel gesê.

Kriel het ʼn beroep op gemeenskappe landwyd gedoen om AfriForum-takke se voorbeeld te volg. “Selfdoen is beter as niksdoen, en indien landsburgers slegs agteroor gaan sit en oor die situasie kla, gaan die land bloot net verder verval,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Griki ·

Ek weet nie of julle sal slaag om die geld te verhaal nie, maar dis ‘n bakgat projek. Baie, baie dankie aan almal wat deelgeneem het. Geseend is julle.

Ai tog ·

Wondelik dankie vir die voorbeeld wat julle stel. Stem 100% saam

Mooi so ·

Kudus vir almal wat hul weg ooosien om ons land in stand te hou.

Hendrik ·

Dis tyd dat munisipale bestuurders as individue verantwoordelik gehou word vir hierdie kostes.

Ronnie ·

Ek wil sommer skree: Give that man a Bells! Dankie, Afriforum.

Sollie ·

Baie goed gedoen, maar ek dink om die geld terug te kry is ‘n geval van “skryf op jul mae en vee met jul hemde af”!

Grassie ·

Ek ondersteun Afriforum se inisiatief 100%. Ek hoop net hulle looi die munisipaliteite goed om die geld terug te kry, anders gaan daardie amptenare ook baie tevrede wees want dit beteken hulle kan nog meer leeglê en nog meer geld in hul eie broeksakke steek.

GPC ·

Ek steun julle ten volle. Om die geld terug te verhaal is ‘n uitstekende idee anders gaan Munisipale tariewe net soos gewoonlik nog opgaan sonder dat enige dien gelewer word. ten minste kan die inwoner darem weet dat die “verhogings” vir ‘n beter doel gaan nl. selfdoen dienslewering. Ons as inwoners het geen se oor munisipale spandering nie, en as Afriforum dmv wetboeke die manne kan dwing, hoekom nie.

Johan 2 ·

Wonder wat sal ou Dr. Piet van WITS se kommentaar nou wees?

Winston ·

Puik Afriforum en GROOT DANKIE aan elkeen wat deelgeneem het!! Ek sit net my geld op wenperde!!!

Jaco Grobler ·

Ek dink weer nie dit sal te moeilik wees om die kostes terug te eis nie, dit is egter waarvoor die plaaslike owerhede geld van sy inwoners ontvang, ek dink so hofgeding sal maklik swaai teen die plaaslike owerheid, en sal meer duidelikheid gee oor hoe sulke toekomstige probleme gaan afspeel, of hoe dit moet hanteer word om kompensasie te geregtig. Of die owerheid nou die geld gaan oorbetaal is ‘n ander saak. Hulle sou egter dom wees as hulle dit nie doen nie, want ek het al na Afriforum se kostes gekyk, en dis heeeeeeelwat goedkoper as die koste waarteen die owerheid self of ‘n kontrakteur dit kan/sou doen.

Johannes Meintjes ·

Die goeie en praktiese voorbeeld van burgerlike samewerking op die vlak van plaaslike regering is nou tasbaar gestel. Nou kan (moet!) dit verfyn word tot belastingbetalersverenigings en GPF samewerking as standaard werkwyse landswyd. Belastingbesteding en ander kosteverhaalings verdien sekerlik ‘n dringend en meegaande her-ontwerp.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.