Die getal hoërskoolleerders wat kies om vakke soos rekeningkunde, wiskunde en fisiese wetenskap te neem, daal deurlopend en behoort waarskuwingsligte by die departement van basiese onderwys én die regering te laat flikker.
Nomsa Marchesi, DA-woordvoerder oor basiese onderwys, sê die Skoolvakverslag vir 2019 wys die getal leerders wat dié vakke neem, daal sedert 2015. “Die getal leerders wat dié vakke slaag, is selfs minder,” het Marchesi gesê.
Die getal studente wat wiskunde neem het van 263 903 in 2015 na 222 034 in 2019 gedaal. Net 121 179 (54,6%) studente het wiskunde vanjaar geslaag, teenoor die 58% die vorige jaar. Net 35% het boonop meer as 40% vir wiskunde behaal, teenoor die 37% in 2018.
Die getal studente wat fisiese wetenskappe neem het gedaal van 193 189 in 2015 na 164 478 verlede jaar. Slegs 124 237 (75%) van hulle het geslaag.
Die getal leerders wat rekeningkunde neem het met amper die helfte gedaal van 140 474 in 2015 tot 80 110 verlede jaar. Slegs 62 796 (78,4%) van hulle het die pas afgelope rekeningkunde-eksamen geslaag.
Sleutelvakke | |||
Getal leerders in 2015 | Getal leerders in 2019 | Getal leerders wat slaag (2019) | |
Wiskunde | 263 903 | 222 034 | 121 179 |
Fisiese wetenskap | 193 189 | 164 478 | 124 237 |
Rekeningkunde | 140 474 | 80 110 | 62 796 |
“Ons werksmag ondervind ʼn groot tekort aan ingenieurs en gesondheidswerkers, [studierigtings] waarvoor wiskunde en wetenskap nodig is. Die departement het kennis geneem van die neiging, maar die dalende syfers oor die afgelope vyf jaar is ʼn duidelike aanduiding dat niks gedoen word om die situasie om te keer nie,” het Marchesi gesê.
Die DA pak die skuld hiervoor op minister Angie Motshekga en sê dit is dalk tyd vir haar om die tuig neer te lê sodat vars idees Suid-Afrika kan help om die gehalte van sy onderrig reg te ruk en aan die behoeftes van die ekonomie kan begin voldoen. Motshekga het tydens die aankondiging van die matriekuitslae Dinsdag gesukkel om die getal R1 763 000 uit te spreek.
Marchesi sê ten spyte van enorme begrotingsbeperkings styg die gehalte van onderrig in die DA-geleide Wes-Kaap. Die provinsie spog met die grootste getal onderskeidings en die klas van 2019 se voorste drie studente kom uit die Wes-Kaap.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
16 Kommentare
Meer of minder? Ek dink die titel is verkeerd.
En die rede daarvoor?: daar is nie meer bevoegde onderwysers wat hierdie vakke kan aanbied nie. Gee die onderwysers beter opleiding en die kinders sal beter vaar! Al hoe meer ouers moet by oud/afgetrede onderwysers om hulp aanklop vir ekstra klasse sodat die kinders die inhoud kan probeer verstaan, want die meeste jonger onderwysers van vandag weet self nie wat in die vak aangaan of hoe om die vak aan te bied nie!! Dis belaglik om die minste daarvan te sê.
Dit sal nogal interessant wees om so n ontleding te sien van vakke wat die duisende “studente” op universiteit neem.
As ek so na ou angie en zuma se wiskunde luister is dit beter die leerders bly weg van wiskunde af
Jammer weer net ‘n diagnose maar nie ‘n oplossing nie: “Onderwysers wat hierdie vakke aanbied, is in aanvraag in die privaatsektor en hulle skroom nie om te loop as hulle die geleentheid kry nie. Werksomstandighede in die onderwys het onhoudbaar geword weens die verval in gesinstrukture en die kulturele verskille wat ons gehoop het versoenbaar sou wees. Dit is ‘n trajek waarin ons uit onkunde beland het en onvoorspelbaar was. Die wrange vrugte is reeds sigbaar op bykans elke lewensterrein denkbaar. Ons en ons kinders pluk reeds die vrugte, saam met die res van die burgers van Suid Afrika.