Al hoe meer wil entstof hê

Navorsing wys dat al hoe meer bereid is om die entstof teen Covid-19 te ontvang. (Foto: Michele Spatari/AFP)

Al hoe meer Suid-Afrikaners is bereid om die entstof teen Covid-19 te ontvang – en dít selfs voor die derde vlaag van koronavirusinfeksies Suid-Afrika getref het.

Volgens die jongste NIDS-Cram-opname* wat in April en Mei vanjaar gedoen is, het die aankoms van entstof ʼn nuwe era in Suid-Afrika se stryd teen Covid-19 ingelui. Die fokus het verskuif van om die virus in bedwang te bring na pogings om die virus heeltemal te stuit.

In die jongste opname het navorsers bevind tot 76% van Suid-Afrika was in Mei vanjaar bereid om die entstof te ontvang, ʼn styging van die 71% van mense wat vantevore bereid sou wees om ingeënt te word, sou die entstof vir hulle beskikbaar wees.

Die opname het bevind die helfte van mense wat in Februarie/Maart nog huiwerig was om die entstof te ontvang, het nou van plan verander en is bereid om ingeënt te word toe hulle in April/Mei daaroor uitgevra is.

Hoewel mense aandui dat hulle bereid is om die entstof te ontvang, het veel minder egter reeds vir die entstofprogram geregistreer.

“Gedragstudies wys daar is dikwels ʼn groot gaping tussen bedoelings in reaksie op ʼn opnamevraag en die uiteindelike keuses en gedrag van individue. Ons kan nie aanvaar dat bedoelings outomaties gaan oorskakel in gedrag nie. Die gaping kan dalk verklein met ʼn afname in onsekerheid en vrees terwyl die program momentum kry en ʼn groeiende getal eerstehandse entstofervarings verkeerde verwagtinge regstel.”

Die navorsers het bevind gegewe onsekerheid oor die afleweringsdatums van entstof, logistieke kommer en voortgesette huiwering om die entstof te ontvang, lyk dit toenemend onwaarskynlik dat die virus teen die einde van vanjaar in bedwang gaan wees.

Die grootste redes vir mense se huiwering om die entstof te ontvang, is kommer oor die newe-effekte (31%), mense wat nie glo dat dit werk nie (21%) óf die feit dat hulle nie entstof in die algemeen vertrou nie (18%).

Die studie het egter ook bevind die meeste mense met chroniese siektetoestande, asook ouer mense (dus mense met ʼn groter gevaar om ernstig siek te word of te sterf weens die virus) is meer bereid as die res van die algemene bevolking om die entstof te ontvang.

Jonger mense (18-24 jaar) is egter veral huiwerig om die entstof te ontvang.

Die studie het ook bevind dat tot 42% van Afrikaanssprekendes steeds huiwerig was om die entstof te ontvang. Dit is veel hoër as die nasionale gemiddeld van 29%.

Die navorsers het bevind die uitslae – wanneer na respondente se taal gekyk word en die oorheersing van Afrikaans in die Wes- en Noord-Kaap – dui ook daarop dat respondente in dié twee provinsies gemiddeld groter huiwering het om die entstof te ontvang.

Huiwering per provinsie:

  • Wes-Kaap: 42%
  • Noord-Kaap: 41%
  • Limpopo: 22%
  • Noordwes: 26%
  • Gauteng: 28%

Naweke pootjie program

Nic Spaull, een van die hoofnavorsers, sê hulle het ook gevind een van die faktore wat Suid-Afrika se maatskaplike en ekonomiese herstel terughou, is die versuim om die entstofprogram behoorlik oor naweke vol te hou.

“Deur die gemiddelde entstofkoers van die Vrydag voor en Maandag ná [ʼn naweek] te gebruik, word geraam dat ʼn bykomende 1,3 miljoen bykomende entstowwe tussen 17 Mei en 5 Julie vanjaar toegedien sou kon word as entstof op Saterdae en Sondae, asook op die vakansiedag op 16 Junie beskikbaar was,” het die navorsers bevind.

Die gebrek aan inentings oor naweke word bestempel as ʼn “beperking” op Suid-Afrika se entstofprogram.

“Hoewel entstofvoorraad aanvanklik die grootste beperking vir die inwerkingstelling van die program in Suid-Afrika was, is dit nie meer die geval nie.

Teen die einde van Junie vanjaar het Suid-Afrika 7,4 miljoen dosisse entstof gehad, maar net drie miljoen daarvan toegedien. Die hersiening van inligting van die nasionale departement van gesondheid oor die getal entstowwe wat per dag toegedien word, dui daarop dat daar geen inentings oor naweke gedoen word nie.

Ronelle Burger, een van die navorsers, sê mense kan aangemoedig word om die entstof te ontvang deur meer inligting oor entstofveiligheid beskikbaar te stel en vertroue daarin te wek.

Hindernisse om die entstof te bekom moet ook uit die weg geruim word. Dit kan insluit deur-tot-deur-programme vir registrasies, inentings oor naweke, asook die oprig van inentingsentrums naby mense se woonplekke om reiskoste te verminder.

“Om mense te motiveer is nie genoeg nie. Ons moet dit so maklik moontlik vir mense maak om hul bedoelings in optrede om te skakel.”

  • *Nids-Cram, oftewel die National Income Dynamics Study – Coronavirus Rapid Mobile Survey (NIDS-CRAM), doen opnames onder ʼn nasionaal-verteenwoordigende groep oor ʼn wye verskeidenheid van onderwerpe, waaronder hul huishoudelike welstand, die ontvang van toelae, asook hul kennis en gedrag met betrekking tot Covid-19.

Deel van: SA-nuus

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
minniemuis

Daar was groot huis moles – Oupa se nee vir die entstof en Ouma se ja asb. Ouma het hare gekry en Oupa was baie kwaad. Ongelukkig kry albei toe die positiewe uitslag – Oupa is na Pappa God toe en Ouma het net n ewense seer keel gehad. Ek gaan Ouma volg sodra ek kan.

Rian

.

Susan

Mense sonder mediese fondse moet nie outomaties na staatshospitale gestuur word nie. Ek kan nie sien hoekom nie, aangesien dit gratis is vir almal. As almal na apteke kan gaan, sal meer mense vir inentings gaan. Ek het gegaan en vir 3 ure buite in die parkeerarrea gestaan en wag. Die inenting het my nie geaffekteer nie, maar vanwee die feit dat ek geneig is tot lae bloeddrruk, het my bloeddruk daarnie nag drasties laag geval, en 3 dae later is dit nog steeds nie 100% nie. Baie mense het nie die tyd of is nie gesondsheidsgewys in staat om… Lees meer »

Andre

Ek kry nêrens die syfers wat jy na verwys in die jongste Nids-Cram verslag van hierdie week nie. Ander media praat van die Afrikaner skeptisisme wat gedaal het na 32%. Die SA skeptisisme syfer van 29% kom uit die vorige verslag, dit is nou op 20%.

Agietjie

Dit is ‘n mooi ideaal om naweke en vakansie dae in te ent. Maar wie gaan dit doen?
Gespesialiseerde spanne is nodig, mense wat risikos loop

Die huidige spanne is reeds oorwerk. Hulle word onttrek uit hul normale dagtaak en hulle moet daarna hulle “gewone werk” na ure op datum bring. Daar is waarskynlik nie die wil of die geld om ekstra mense op te lei en oortyd te betaal nie.