Al hoe nader aan teiken van 300 000 inentings per dag

(Foto: Unsplash)

Volgens die departement van gesondheid is Suid-Afrika al hoe nader aan die teiken van 300 000 inentings per dag wat pres. Cyril Ramaphosa daargestel het.

Die departement het Woensdag die portefeuljekomitee oor gesondheid op hoogte gebring van die vordering van die landswye inentingsveldtog.

“Die verskaffing van die voorraad entstof is redelik stabiel,” het minister Joe Phaahla gesê. “Ons het ʼn voldoende voorraad entstof en menslike hulpbronne. Ek kan met vertroue sê dat ons in hierdie stadium voldoende kapasiteit het om die entstof toe te dien.” Dit sluit staat- en privaat fasiliteite en onafhanklike aptekers in wat entstof toedien.

Phaahla het gesê sy departement is bewus van die uitdaging wat vals nuus oor entstowwe stel en werk aan sy kommunikasiestrategie om dit te takel.

Dr. Nicholas Crisp, adjunk- direkteur-generaal van die departement, het gesê die jongste data wys dat sowat 267 000 mense oor die afgelope 24 uur ingeënt is. Dit kom ná die regering die inentingsveldtog ook oopgestel het aan enigiemand bó 18.

Meer as 11 miljoen entstowwe is tot dusver ingedien en meer as 5 miljoen volwassenes is nou ten volle ingeënt in Suid-Afrika. Meer vroue as mans is ingeënt, het Crisp bygevoeg.

Tshilidzi Munyai, waarnemende voorsitter van die komitee, het gesê dit is belangrik dat mense ingeënt moet word. “Die inenting is veilig en baie doeltreffend om ernstige siekte en selfs dood weens Covid-19 te voorkom. Die land moet gereed wees voor die vierde golf ons tref.”

Die komitee is bemoedig deur die vordering wat gemaak is. Lede van die komitee het benadruk dat inentings die primêre metode gaan wees om die bevolking te red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.