Al-Kaïda soek steeds losprys vir Pierre Korkie

Pierre Korkie

Pierre Korkie

Die Gift of the Givers het Dinsdag gesê Al-Kaïda-militante eis steeds ʼn losprys vir Pierre Korkie.

“Ons het verlede Maandag terugvoer ontvang,” het Imtiaz Sooliman, hoof van die stigting, in ʼn verklaring gesê. “Al-Kaïda wil steeds die losprys hê. Hulle kan nie ʼn uitsondering maak vir ʼn Suid-Afrikaner nie, anders sal hulle ʼn uitsondering moet maak vir die ander drie gyselaars van ander nasionaliteite wat hulle in aanhouding het.”

Sooliman sê dit is nie bekend of die oorspronklike losprys van R32.5 miljoen onderhandelbaar is nie.

Korkie en sy vrou Yolande is in Mei 2013 in Taiz, Jemen, ontvoer. Sy is vrygelaat en het op 13 Januarie na Suid-Afrika teruggekeer. Die Gift of the Givers het Yolande se vrylating help bewerkstellig.

Die stigting het gepoog om deur internasionale media met Al-Kaïda kontak te maak. Anas al-Hamati, die stigting se kantoorbestuurder in Jemen, moes aan die einde van Januarie uit Jemen vlug nadat Al-Kaïda hom daarvan beskuldig het dat hy die losprys gesteel het.

Stamleiers tree intussen as tussengangers op en het Maandag met Al-Kaïda vergader. “Daar is geen duidelikheid oor Pierre se gesondheid nie. Hulle het net gesê as ons die geld nou oorhandig, kan ons Pierre nou kry,” het Sooliman bygevoeg. “Ons moet nou bepaal wat ons volgende stappe gaan wees.”

Die stamleiers het op 25 Februarie bepaal dat Korkie steeds leef, maar dat hy baie siek is. “Sy gesondheid is so swak dat hy glad nie meer kan hoor nie. Die groep kommunikeer met hom deur boodskappe te skryf.” -SAPA

Lees alles oor Pierre Korkie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.