Al meer bedrogsake teister lewensversekeringsbedryf

(Foto ter illustrasie)

Net soos sakeondernemings uiteindelik ’n verligting in die Covid-19-wurggreep begin voel, slyp bedrieglike booswigte op hul beurt hul tande al hoe meer om munt uit die lewensversekeringsbedryf te slaan. Soos in 2020 was dit verlede jaar weer ’n geval van die een se dood is die ander se bedrog.

Vals eise het nie net ’n nadelige uitwerking op die versekeringsbedryf nie, maar verbruikers wat hul premies elke maand getrou betaal, trek noustrop as premies jaarliks verhoog (moet) word. Die toename in bedrieglike eise beïnvloed ook die spoed waarteen versekeraars betalings aan begunstigdes kan maak, aangesien versekeraars gedwing word om meer tyd te bestee om eise na te gaan. Dit raak veral begrafnisdekkingeisers wat vinnige toegang tot dié geld broodnodig het.

Volgens die Vereniging vir Spaar en Belegging van Suid-Afrika (Asisa) is begrafnisversekering weer boaan die bedroglys, gevolg deur doodsdekking, ongeskiktheidsdekking, hospitaalkontantplanne en afleggingsdekking.

Altesaam 4 287 bedrieglike eise ter waarde van R787,6 miljoen is in 2021 aangemeld, wat aansienlik hoër is (34%) as die 3 186 eise ter waarde van R587,3 miljoen in 2020. Die algehele waarde van bedrieglike en oneerlike ongeskiktheidseise in 2021 was R195,9 miljoen, en R128,2 miljoen vir begrafniseise.

Asisa skryf die hoër bedrogsyfer nie net aan meer oneerlike bedrywighede toe nie, maar glo ook dit is danksy die inwerkingstelling van meer meganismes om vals eise(rs) aan die kaak te stel. Sowat R608 miljard aan “eerlike eise” is in 2021 uitbetaal, het Megan Govender, sameroeper van Asisa se forensiese staande komitee, gesê.

Volgens Govender word nuwe maatreëls deurlopend deur die langtermynversekeringsbedryf ingestel om versekeringsbedrog te bekamp, waaronder die gebruik van kunsmatige intelligensie, datadeling vir vroeë opsporing en die uitbreiding van forensiese veldondersoeke.

“In 2020 het die langdurige inperkings forensiese ondersoekers verhinder om fisiek in die veld uit te gaan, wat ’n belangrike rol speel om sindikaatbedrywighede te onthul en ander wandade soos verdagte onnatuurlike sterftes van nader te bekyk. Teen 2021 was ons veldondersoeke grotendeels terug na normaal, en die sukseskoers word in hierdie statistieke weerspieël,” het Govender gesê.

Govender waarsku diegene wat versekeringsbedrog oorweeg dat lang tronkstraf of ’n stewige boete hul voorland is. Hy het gewys op die onlangse saak waarin Rosemary Ndlovu ses keer lewenslange tronkstraf opgelê is nadat dié voormalige polisiebeampte verskeie familielede laat vermoor het sodat sy by die begrafnisdekkinguitbetalings kon baat vind. Net so het ’n pastoor en sy vrou in die Wes-Kaap verlede jaar tronkstraf gekry omdat hulle polisse op kerklede se lewens uitgeneem het. Hulle het beplan om met behulp van ’n huurmoordenaar munt uit dié sterftevoordele te slaan.

Volgens Govender was KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en Gauteng in 2021 vir die meeste bedrieglike lewensversekeringseise verantwoordelik, onderskeidelik 998, 972 en 682.

In een van die grootste vals eise in 2021 het ’n lewensversekeraar ’n eis van R8,7 miljoen vir skielike erge demensie ontvang, slegs een maand nadat dié polis uitgeneem is. Die eis is deur die polishouer se broer ingedien wat volmag gehad het. ’n Forensiese ondersoek het aan die lig gebring dat die polishouer ’n ernstige beroerte gehad het voordat die polis uitgeneem is en glad nie in staat was om te kommunikeer nie. Al die handtekeninge op die polis was boonop vervals.

In ’n ander geval het ’n verpleegster ’n ongeskiktheidseis ter waarde van R1 miljoen ingedien en beweer dat sy MIV by die werk opgedoen het nadat sy met ’n besmette spuitnaald in aanraking was. Sy het selfs ’n positiewe MIV-toetsuitslag as bewys ingedien. Die verpleegster het by nadere ondersoek erken sy het die bloed van ’n besmette persoon gebruik en is vyf jaar tronkstraf opgelê, opgeskort vir vyf jaar, asook ’n boete van R10 000 of ses maande tronkstraf.

In April vanjaar is ’n 60-jarige vrou en haar 26-jarige neef in Mthatha vasgetrek nadat hulle versekeringsbedrog ter waarde van R600 000 gepleeg het. Die twee booswigte het ’n oorlede familielid se handtekening op Old Mutual-versekeringsvorms vervals.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.