Al meer diefstal, vandalisme aan Eskom-netwerk

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom.

Eskom sê hy is uiters bekommerd oor ʼn toename in diefstal en vandalisme van sy infrastruktuur in Gauteng tydens die staat van algehele afsondering.

Die voorvalle het die afgelope paar dae gelei tot verskeie kragonderbrekings in die provinsie.

“Die diefstal en vandalisme aan toerusting en die netwerk lei nie net tot onderbrekings wat groot ongerief vir die publiek veroorsaak nie, dit het ook ʼn geweldige negatiewe uitwerking op ons bedrywighede en pogings om ʼn noodsaaklike diens aan inwoners te lewer,” het Motlhabane Ramashi, senior bestuurder van bedryf en instandhouding in Gauteng, gesê.

Eskom sê hy werk nou saam met wetstoepassers om die misdadigheid te probeer stuit.

Ramashi het ʼn beroep op die publiek gedoen om “eienaarskap van die kragnetwerk te neem deur dit te help beskerm”.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het intussen aan eNCA gesê dit gaan veel langer duur om die skade wat die afgelope dekade weens korrupsie en staatskaping aan die netwerk aangerig is, te herstel.

Suid-Afrika is sedert Vrydag in ʼn staat van algehele afsondering en het die afgelope paar weke nog geen beurtkrag ondervind nie. Die vraag na elektrisiteit het sedert die staat van algehele afsondering ook beduidend afgeneem.

Weens die staat van algehele afsondering is die meeste bedrywighede in Suid-Afrika opgeskort. Dit het ook die vraag na krag beduidend laat daal. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

De Ruyter het aan eNCA gesê die kragvoorsiener gebruik die inperkingstydperk om belangrike korttermyn-instandhouding te doen.

“Ons dink ons gaan uit die afsonderingstydperk kom met ʼn vloot wat meer betroubaar en voorspelbaar is.

“Daar is egter steeds baie herstelwerk wat voorlê weens 10 jaar se verwaarlosing,” het De Ruyter gesê.

Hy het gesê nagenoeg 10 000 Eskom-werkers sit hulle werk in die veld voort. Daar was nog geen voorvalle van Covid-19-besmettings onder dié werkers nie. Die drie Eskom-werkers wat wel die virus opgedoen het, was administratiewe werkers wat voor die afsonderingstydperk siek geword het.

Volgens De Ruyter sal beurtkrag tot naastenby  2021 se winter met Suid-Afrikaners wees. Die instandhoudingsagterstand sal hopelik teen daardie tyd ingehaal wees.

  • Enige verdagte bedrywighede kan by Eskom se oproepsentrum by 086 037 566 of by die teenmisdaadnommer 0800 112 722 aangemeld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Shady

Dankie ou Andre

Pieter

10 jaar se verwaarlosing van instandhouding. Natuurlik is daar bonusse betaal van ons elektrisiteitsbydraes oor hierdie tydperk. Bonusse om nie jou werk te doen nie en die ekonomie te saboteer agv kragonderbrekings. Tyd om hierdie bonusse en goue handdrukke terug te vra en beslag op bates te lê indien sulkes dit nie kan terugbetaal nie. Vervolg ook diegene wat laks was maar hul sakke volgepomp het. Sirkus.

Genis

Ek haal my hoed af vir u Andre..sterkte, en noem asb net n graaf n graaf

Scalla

Dit is nie diefstal nie, dit is sabotasie en terroriste wat dit doen

Astrain

Dankie vir u gróót taak ~ ons waardeer u moedigheid!