Al meer donkies vir vel geteiken

Argieffoto (pullmanphotography.co.uk)

Namate die donkiebevolking in Suid-Afrika afneem heers kommer oor die slagting van donkies in Suid-Afrika en die onwettige uitvoer van hul velle na China.

China het in 2019 reeds met meer as vyf miljoen donkievelle handel gedryf.

Volgens AFP word donkievelle gebruik om ʼn tradisionele Chinese medisyne genaamd ejiao te maak, wat gesog is onder die Chinese middelklas.

Die gesondheidsvoordele van ejiao is klaarblyklik soortgelyk aan produkte wat van renosterhorings verkry word. Dit word onder meer as ’n bloedverdunner gebruik of as ’n afrodisiakum aangewend.

Maroela Media het vroeër berig die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het meer as ses jaar gelede begin met die ondersoek na die donkievelhandel toe groot hoeveelhede donkievelle wat nie verklaar kon word nie, op verskeie plase aangetref is.

Later is vasgestel dat die velle gebruik word om ejiao te maak. Die donkies word soms lewend afgeslag.

Die onwettige donkievelhandel is ’n bedreiging vir plaaslike ondernemings in Suid-Afrika wat met donkiemelk handel dryf, veral omdat die donkiebevolking aan’t afneem is.

’n Onlangse studie deur navorsers aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) het bepaal dat die donkiebevolking van 1996 (210 000 donkies) tot 2019 (146 000 donkies) met sowat 30,5% afgeneem het.

Hoe meer die donkiebevolking boonop afneem, hoe meer styg die pryse van donkies.

Jesse Christelis, medestigter van die Donkey Dairy, sê ’n donkie sou vyf jaar gelede sowat $30 (sowat R479) op ’n veiling haal. Nou kos hulle sowat $125 (sowat R1 995) elk.

Dit word steeds as ’n redelike winskoop in China beskou, waar donkievelle wat in 2018 vir $473 (R7 549) verkoop is, nou vir $1 160 (R18 512) verkwansel word.

Die ejiao wat uit hierdie velle vervaardig word, kan tot $360 per kilogram (R5 745 per kilogram) beloop.

Suid-Afrika voer jaarliks sowat 10 500 donkievelle wettig na China uit, maar in werklikheid is die getal heelwat hoër as die onwettige uitvoer bygereken word.

Daar is vanjaar reeds twee vragte donkies by die Lesotho-grens onderskep en die NDBV het meer as ’n jaar gelede ook ’n vrag met 1 000 donkies van ’n wrede einde gered.

Diefstal

Grace de Lange van die NDBV sê die vereniging gaan uit sy pad om weerlose donkies te red en koop ook donkies op veilings om só te keer dat donkievelhandelaars die opgeveilde donkies koop.

Kleinboere, wat die diere nodig het om hul produkte te vervoer, sukkel ook met die diefstal van donkies.

Ashley Ness, ’n inspekteur by die Highveld Horse Care Unit, ’n perdewelsynsagentskap aan die buitewyke van Johannesburg, sê veediefstaleenhede moet meer proaktief wees.

Manketsi Tlhape, die LUR vir landbou in Noordwes, sê hulle “ondersoek al die aangemelde veediefstalvoorvalle”.

Donkieboere soos Christelis het egter beperkte opsies om hul kudde teen diewe te beskerm. “Ons het elektriese heinings, alarms en ons donkies het ook mikroskyfies ingeval hulle gesteel word,” sê hy.

Donkiemelk

Daarteenoor is die mark vir produkte wat donkiemelk gebruik (onder meer seep en room) nog in sy kinderskoene. Die grootte van die wêreldwye donkiemelkmark sal na verwagting net $16 miljoen (R255 miljoen) teen 2026 bereik.

Suid-Afrika het tans twee donkiemelkerye, maar volgens kenners sal hulle dalk nie lewensvatbaar wees as pryse vir die diere aanhou styg nie.

Daar word geglo donkiemelk antioksidante, antimikrobiese en antidiabetiese eienskappe bevat.

Donkiemelk is veral in aanvraag onder mense wat aan ekseem en psoriase ly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Burgermeester ·

Niks goeds kom van die ANC, … hulle het ons land vir ‘n pot lensie sop verkoop. Dit is die ANC wat China by die voordeur laat inkom het, en nou vernietig hulle als, want hulle aanvraag sal nooit bevredig word nie.

Di ·

So waar! ANC is DIEP in die skuld by CHINA daarom maak hulle nes hulle wil in ons land. Gaan SA nog onder ons alies uitverkoop met al die lenings wat hulle aangaan

Swerwer ·

Arme Ou Langore, die verdomde skrefiesoë sal die hele natuur nog uitroei met hul mengsels.

Toy ·

Raak die mensdom nou heeltemal mal, wat gaan aan dat alles so uitgeroei word. Roei die misdaad liewers uit. Dit is wreed.

JohanR ·

Altyd China. Perlemoen, renosters, oliphante, donkies, valvisse, honde, katte ens….altyd die Verre Ooste. Die mense vreet enige ding!

Andries ·

“Die gesondheidsvoordele van ejiao is klaarblyklik soortgelyk aan produkte wat van renosterhorings verkry word.”
” Daar word geglo donkiemelk antioksidante, antimikrobiese en antidiabetiese eienskappe bevat.”
Is die een nie soos die ander? Omdat die Chinese die boonste een gebruik of die 2 melkerye die onderste stelling gebruik?

Nico ·

Dit is medikasie wat nie gaan werk nie, ook in Suid Afrka gebeur dit.

annie ·

Die Sjinese gaan op hul tv-programme so tekere oor hul eie natuur en diere maar gee geen g’n snars om vir ander kulture s’n nie. Selfs die see word leeg geskep vir hul oordadige eetgewoontes en medisynetjies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.