Ál meer klagtes teen dié banke ingedien

Argieffoto.

Die banke-ombudsman het verlede jaar meer formele klagtes as ooit tevore vanaf ontevrede bankkliënte ontvang. Verlede jaar het amper 5 000 kliënte (4 936) by die banke-ombudsman gekla oor diens wat hulle by banke kry. Altesaam 7 717 formele sake is geopen. Dit is 8,5% meer as die 7 115 klagtes in 2018, wat ʼn vorige rekord was. In bitter min van dié gevalle is egter in die kliënt se guns beslis.

Daar was ook ʼn 49%-toename in die aantal oproepe wat die ombud se inbelsentrum in 2020 ontvang het (39 239), teenoor die aantal oproepe in 2018 (26 970).

Die meeste van dié sake (93%) is in dieselfde jaar nog afgehandel. In net sowat ʼn kwart (28%) van gevalle het die ombudsman in die klaer se guns beslis.

In een só ʼn geval het ʼn kliënt al sy pensioengeld verloor toe geld via aanlyn bankdienste uit sy beleggingsrekening na bedrieërs se rekening oorgeplaas is. Die bank (wie se naam nie bekend is nie) het volgehou dat die kliënt wetend of onwetend sy persoonlike bankbesonderhede aan bedrieërs bekendgemaak het. Die ombudsman het egter bevind dat die kliënt se oorspronklike ooreenkoms met die bank behels dat geld slegs aan hom persoonlik by ʼn banktak uitbetaal kan word, en dat transaksies op sy belegging nie via die internet mag geskied nie. Die kliënt het ʼn ooreenkoms met die bank aangegaan, waarvolgens 60% van die gesteelde bedrag (R640 000) aan die kliënt terugbetaal sou word.

Capitec Bank (Argieffoto)

Banke wat die meeste klagtes ontvang het, was FNB (2 197), Standard Bank (1 572) en Capitec Bank (1 259). Die ombudsman wys egter in die verslag daarop dat die aantal klagtes nie noodwendig ʼn aanduiding is van die bank se sukses of hantering van sy kliënte nie, aangesien daar ʼn groot verskil is in banke se grootte, kliënteprofiel en die dienste wat hulle lewer. Al die banke behalwe Absa het ʼn toename in die aantal klagtes sedert 2019 gesien. Discovery Bank het die grootste persentasie toename in klagtes ondervind, van vier klagtes in 2019 na 75 klagtes in 2020, wat ʼn toename van 1 700% verteenwoordig. Capitec het die naasgrootste toename in klagtes beleef. Dié klagtes het amper verdubbel, van 763 in 2019 na 1 259 in 2020.

Die meeste van die klagtes wat in 2020 aanhangig gemaak is, het gehandel oor lopende rekeninge (19%), internetbankdienste (13%) en persoonlike lenings (11%). Klagtes oor internetbankdienste het egter die afgelope twee jaar drasties afgeneem. In 2018 het dit 22% van die klagtes uitgemaak.

Die meeste klaers was ouer as 40 en woon in Gauteng (50%), die Wes-Kaap (17%) en KwaZulu-Natal (12%).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Corne123 ·

Wel die nie so eenvoudig nie mens sal ook moet kyk na hoefeel het ledetal geroei sal graag wil sien wat is persentasie van klante wat kla of dit op og af is dan ook watter soort klagtes speel ook n groot rol dink ek

Dr Pieter ·

FNB het geen fasiliteit om gehoorgestremde kliënte te help nie, alles moet per telefoon gedoen word. Hulle sogenaamde “chat” is ‘n klug.
Ek moes onlangs weer sake met hulle doen en hulle dring aan ek moet hulle bel. Ek stuur ‘n e-pos om te sê ek kan hulle nie bel nie, ek is doof. Hulle antwoord: “No problem, we will phone you.”

Juliet ·

Ek kan regtig Nedbank se Money App aanbeveel. Hul chat funksie is uitstekend. Dis soos om op Whatsapp met ‘n kenner te praat. Ondersoek dit bietjie.

Juliet ·

Ek kan regtig Nedbank se Money App aanbeveel. Hul Chat funksie is uitstekend. Dis soos om op Whatsapp met ‘n kenner te praat. Ondersoek dit gerus.

Francois ·

Meeste van die sake is gewoonlik die gebruiker wat nie luister na die raad wat uitgedeel word om die slenters te vermy nie. ‘n Groot klomp gebruikers is Internet en rekenaar ongeletterd, maar karring voort op die platforms. Gebruikers soek die vinnige aksie van internet banksake, maar hoort eenvoudig net nie op die platforms nie. En, ja die banke kort ook n skop onder die jis, om hulle sekuriteit te verskerp. As iemand nie eens weet wat regskliek met die muis doen nie, dan hoort hulle nie agter n sleutelbord nie.

Racheltjie Debeer ·

Ek kan nie glo dat Standardbank nie heel bo aan die lys is nie. Ons sukkel al 2 jaar met Standard Trust om my skoonpa se boedel af te handel, hulle is absoluut pateties en totaal onbevoeg. Ek het ook eindelose probleme gehad met my seun se studie lening.
Die groot verskoning: Covid-19. Ek is jammer, maar dis net ‘n gerieflike verskoning vir uiters swak diens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.