Al meer kommer oor geweld teen vroue en kinders

nee-beteken-nee-maboneng-2016-11

Onderklere is vandag oor Maboneng, Johannesburg heen opgehang as deel van ʼn bewusmakingsveldtog oor verkragting tydens die 16 dae van aktivisme teenoor vroue en kinders wat tot 10 Desember plaasvind. Die 3 600 stukke onderklere is verteenwoordigend van die sowat 3 600 verkragtings wat daagliks in Suid-Afrika voorkom en dit is net die sake wat aangemeld word. Foto: Simeme Kodi Govender/Facebook.

Een uit elke ses vroue in Suid-Afrika word gereeld deur ’n lewensmaat aangerand. In minstens 46% van die gevalle mishandel dié mans ook die kinders in die huis, sê dr. Lerato Dikobe-Kalane, ’n direksielid van PsychMG (Psychiatry Management Group).

Die bekende veldtog, 16 dae van aktivisme teen geweld teenoor vroue en kinders, vind vanjaar van 25 November tot 10 Desember plaas. In die lig daarvan sê Dikobe-Kalane dat maatskaplike diensverskaffers en die samelewing in geheel die probleem daadwerklik moet aanpak, en dié wat weerloos is ten opsigte van sulke mishandeling en geweld moet beskerm.

Sy sê statistieke skep glad nie ʼn rooskleurige prentjie nie. ’n Onlangse Optimus-studie oor die seksuele mishandeling van kinders bevind dat een uit elke drie jong Suid-Afrikaners teen die ouderdom van 17 die een of ander soort seksuele mishandeling ervaar het. Dié studie is die eerste van sy soort oor die omvang en uitwerking van die seksuele mishandeling van kinders in Suid-Afrika.

Dikobe-Kalane sê talle gevalle word ongelukkig nie aangemeld nie. Dit ry ’n behoorlike begrip van die werklike omvang van voorvalle van mishandeling en geweld in die wiele.

“Baie vroue weet steeds nie wat hul regte is nie, terwyl ander nóg geweld deur die oortreder vrees indien hulle regsoptrede sou probeer instel. Dit word vererger deur die inwerkingstelling van die nuwe Wet op Gesinsgeweld. Baie vroue verstaan dit nie behoorlik nie. Daar is ook wydverspreide nievoldoening aan die wet op die vlak van polisiestasies, waar gevalle van gesinsgeweld nie na wense aangeteken word nie.”

Sy sê die voorkoms van geweld het ’n negatiewe uitwerking op vroue se fisieke, geestes-, seksuele en voortplantingsgesondheid. Dit kan hulle ook meer aan MIV blootstel.

“Gesinsgeweld kan aanleiding gee tot depressie, posttraumatiese stres, slaapsteurings, eetsteurings, emosionele nood, dwelm- en drankmisbruik en selfmoordpogings.”

Ander uitwerkings op algemene gesondheid is onder meer hoofpyn, rugpyn, buikpyn, fibromialgie, maagderm-aandoenings, beperkte beweegbaarheid en swak algemene gesondheid. Seksuele geweld, veral in die kinderjare, kan later in die volwasse lewe tot ’n toename in rook, dwelm- en alkoholmisbruik en riskante seksuele gedrag lei.

“Kinders wat grootword in gesinne waar geweld voorkom, kan etlike gedrags- en emosionele afwykings toon. Dit kan later ook met die uitvoering of ervaring van geweld verband hou. Geweld teen ’n intieme lewensmaat kan ook verband hou met hoër baba- en kindersterftalle en -siektes weens diarree, wanvoeding, en so meer.”

Volgens Dikobe-Kalane is daar ongelukkig geen enkele rede wat as die belangrikste dryfkrag agter mishandeling en geweld aangewys kan word nie.

“Die ongelyke posisie van vroue teenoor mans is steeds ʼn oorheersende faktor. Die gebruik van geweld bly ook die norm wat sowel geweld teen intieme lewensmaats as seksuele geweld teenoor ander mense (buiten lewensmaats, dus) betref. Ons het bevind dat die onderliggende redes vir sulke geweld gewoonlik skuil in laer opvoedingsvlakke, werkloosheid, die blootstelling van kinders aan mishandeling, die aanskouing van gesinsgeweld, antisosiale persoonlikheidsafwykings, misbruik van alkohol, veelvuldige lewensmaats of beskuldigings van ontrouheid asook houdings wat geweld en geslagsongelykheid aanvaar.

“Veral seksuele geweld hou verband met opvattings rakende ’n gesin se eer, ideologieë rakende manlike seksuele bevoorregting, en swak strafregtelike strawwe vir seksuele geweld.”

Dikobe-Kalane wys daarop dat meer hulpbronne nodig is om die voorkoming van mishandeling en geweld teen vroue en kinders te bevorder.

“Programme in samewerking met skole as grondslag om geweld in jeugliefdesverhoudings te voorkom, het geslaag. Die waarde daarvan in gebiede met min hulpbronne moet nog beoordeel word. Opleiding rakende geslagsgelykheid, wat kommunikasie en verhoudingsvaardighede vir paartjies en gemeenskappe bevorder, met opvoeding om drankmisbruik (en toegang tot drank) te verminder, asook beter en vanpaste kultuurmaatstawwe rakende gender toon belofte. Dit moet egter ook nog verder beoordeel word.

“Staatsdepartemente moet wetgewing aanvaar en beleid ontwikkel wat diskriminasie teen vroue doeltreffend aanspreek, geslagsgelykheid bevorder, en vroue steun en help om “vreedsamer” kultuurmaatstawwe, gegrond op wedersydse respek, te ontwikkel en toe te pas.

“Gesondheidsorg- en ander diensverskaffers moet van gesinsgeweld bewus gemaak en daaroor opgevoed word, sodat hulle die gevaartekens betyds kan raaksien en by die owerhede aanmeld.”

Sy sê slagoffers kan organisasies soos People Against Woman Abuse (POWA), Hlayisani White Door Centre, Saartjie Baartman Centre for Women and Children (SBCWC), Vukuzenzele en Mercy House nader as hulle aan geweldsituasies soos die volgende blootgestel word:

  • seksuele mishandeling (ongeag of jy en die ander persoon getroud is of nie);
  • fisieke mishandeling of aanranding (as jy byvoorbeeld geklap, gebyt of geskop word, of met fisieke geweld gedreig word);
  • skade aan eiendom of enigiets waaraan jy waarde heg;
  • bekruiping (as die ander persoon jou of jou kinders gedurig volg of nader);
  • ekonomiese mishandeling, te wete wanneer die ander persoon geld waarop jy regtens geregtig is, op ’n onredelike wyse van jou weerhou, deur
    • te weier om die huurgeld of verbandbetaling vir die huis wat julle deel te betaal of gedeeltelik te betaal; of
    • eiendom (huisraad) waarin jy ’n belang het sonder jou toestemming van die hand probeer sit;
  • emosionele mishandeling (te wete afbrekende of vernederende gedrag, onder meer herhaalde beledigings, verkleinering, vloekwoorde en dreigemente);
  • enige ander manipulerende of mishandelende gedrag wat jou veiligheid, gesondheid en welstand in gedrang bring.

Noodnommers:

  • POWA: 083 765 1235
  • Life Line:  0861 322 322
  • Child Line: 0800 055 555

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jane ·

Hoekom is die politieke partye so stil daaroor? Die regerende party? Selfs die MRK. Moet hulle nie aan die voorpunt staan nie? Nee dit word vir aktiviste en groepe gelos wat op hulle eie moet aansukkel en voor hofgeboue betoog, almal is te besig om by die trog te vreet. Die diskriminasie teen vroue by die werksplek en die marteling van vroue en kinders in hulle huishoudings is twee verskillende goed.

Maatskaplike dienste in SA is skokkend . kinders word teruggeplaas in abusive huise, omdat daar geen ander heenkome meer vir hulle is nie, kinderhuise is oorvol en sukkel finansieel .. hier is geen einde aan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.