Ál meer leidrade oor Pta-huis waar drie sterf

‘n Roudiens vir Chariska Kloppers is Donderdag gehou. (Foto: Facebook)

Daar is steeds talle tergende vrae oor wat presies verlede week in ʼn huis in Menlopark in Pretoria gebeur het en wat uiteindelik tot die raaiselagtige dood van drie mense gelei het.

Die liggame van Theo Kleynhans (60), Mario Pretorius (23) en Chariska Kloppers (30) is Saterdag in die huis in die ooste van die stad gekry.

Wat hulle dood veroorsaak het, is in dié stadium steeds ʼn raaisel.

Mike Bolhuis, ʼn private ondersoeker wat deur Pretorius se familie aangestel is om die verloop van gebeure op die dag uit te pluis en te help vasstel wat uiteindelik tot die drie se dood gelei het, sê mense was aanvanklik huiwerig om met inligting oor die sogenaamde partytjiehuis na vore te kom.

Mario Pretorius (23).

Bolhuis sê hulle het die afgelope week egter al hoe meer inligting versamel, ook van mense wat in die buurt woon, oor wat die afgelope paar jaar oënskynlik agter geslote deure aangegaan het.

“Ons wag nog vir die uitslae van onder meer die toksikologie-ondersoek,” het hy gesê.

Bolhuis sê hulle deel alle inligting met die polisieondersoekers.

“Drie mense is dood. Ons doel met die ondersoek is om misdaad te voorkom. Mense moet waaksaam wees sodat só iets nie weer gebeur nie,” sê Bolhuis.

Hy sê mense het in die afsonderingstyd wat weens Covid-19 ingestel is, al hoe meer private partytjies begin bywoon. Hy het ook ʼn beroep op mense gedoen om versigtig te wees wat hulle by kuierplekke of private partytjies inneem.

Theo Kleynhans. (Foto: Facebook)

Kleynhans en Pretorius was kollegas by ʼn eiendomsonderneming. Kloppers het glo toevallig by die huis beland nadat die groep vroeër saam by ʼn restaurant gekuier het.

ʼn Roudiens vir Kloppers, ʼn ma van drie kinders, is Donderdag gehou.

Die polisie het vroeër gesê ʼn geregtelike doodsondersoek word na die voorval gedoen.

Maroela Media het Vrydag ʼn navraag aan die polisie gerig om vas te stel of die nadoodse ondersoeke op die drie oorledenes al afgehandel is, en wag op terugvoer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Annelize

Eerlikwaar, ek dink ons gaan ons hande saamslaan as daar eendag uitsluitsel kom oor wat verlede Vrydag by daardie huis gebeur het, en wat oor die algemeen dalk by daardie huis aangegaan het.

Francois

Ek stem. Mense verander en na n drankie of twee gooi mens gewoonlik als oorboord, veral as jy nie n drinker is

Josua

Wat ek nie verstaan nie is dat wanneer toetse op mense uitgevoer moet word soos in die geval om te bepaal wat moontlik hul dood kon veroosaak het so lank draai??? Ek is jammer om dit hier te noem maar dis net ongelooflik hoe vining Covid toetse bekend gemaak word dan praat ek van duisende toetse maar n week is nou al verby en steeds geen uitslag vir die drie mense se dood gelewer nie, word Covid toetse nie ook in Labratoriums uitgevoer nie, dit laat mens die egtheid van covid toetse ten sterkste bevraagteken????? Maak nie saak wat in… Lees meer »

Anton

Het Bolhuis al ooit ‘n saak opgelos?

Casper

Forensiese toetse word slegs by die forensiese laboratorium gedoen en hulle is lugjare agter met D NA en DNS ondersoeke.