Ál meer ouers kies nou ’n vorm van tuisonderrig

tuisskoolonderrig.jpg

Argieffoto

Karin van Oostrum, uitvoerende hoof van die Pestalozzi Trust, sê dié regsfonds vir tuis- en burgerlike onderwys word sedert verlede week oorval met navrae oor tuisonderrig.

Dit volg ná Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, op 19 Mei gesê het ouers kan tuisonderrig as ʼn opsie oorweeg as hulle nie gemaklik daarmee is om hul kinders volgende maand terug skool toe te stuur nie.

Motshekga het in haar aankondiging dat die skole op 1 Junie vir gr. 7- en gr. 12-leerders sal heropen, gesê die Suid-Afrikaanse Skolewet maak wel voorsiening vir tuisonderrig. “Jy moet jou kind egter by die onderwysdepartement registreer vir tuisonderrig,” het sy gemaan.

Haar departement het intussen in die Staatskoerant aangedui dat vroeëkinderontwikkelingsentrums, gr. R, 3, 6, 10 en gr. 11 op 6 Julie na die skool sal terugkeer en gr. 4, 5, 8 en gr. 9-leerders sal op 3 Augustus by die skool terugverwag word. Die datums vir die terugkeer van gr. 1 en gr. 2 is nog nie gepubliseer nie.

Ouers wat wel besluit om nie hul kinders terug skool toe te stuur nie, kan tussen tuisonderrig en aanlyn onderrig kies. Tuisonderrig behels dat die ouer voltyds verantwoordelik is vir hul kinders se skoolopleiding, en self die onderrig verskaf of ʼn tutor hiervoor gebruik. By aanlyn skole, wat ook as “virtuele skole” bekend staan, bestuur onderwysers die leerder se studies oor ʼn afstand binne ʼn gestruktureerde kurrikulum.

Volgens Suid-Afrikaanse wetgewing moet kinders onder die ouderdom van 15 jaar in die een of ander vorm skoolgaan.

Bouwe van der Eems, die voorsitter van Homeschoolers SA, het ook bevestig sy organisasie word oorval met navrae sedert die minister se aankondiging verlede week.

Hy het die departement egter aangemoedig om ʼn nuwe metode in te stel wat ouers toelaat om vinniger vir tuisonderrig te registreer. Aansoeke vir tuisonderrig kan elektronies by die departement van basiese onderwys gedoen word met vorms wat van sy webwerf afgelaai word. Volgens die aansoekproses moet ʼn ouer vorige verslae, immuniseringsertifikate, weeklikse roosters en ʼn uiteensetting van termyne per jaar indien, wat 196 onderrigdae per jaar en die leerprogram insluit. Dit kan tot 30 dae neem om hierdie aansoek te verwerk, maar dit is gratis.

Volgens Van Oostrum is daar ʼn angstigheid by ouers wat navrae doen oor dié roete van onderwys, veral omdat hulle twyfel of hulle wel die vermoë het om hul kinders self tuis te leer.

“Ek het begrip hiervoor, maar ouers moet onthou hulle is uitmuntend gevestig om hul kinders self te leer. Niemand ken jou kind so goed soos jy nie. Boonop ondervind ons dat kinders tot 50% meer leer omdat hulle in hul eie ouers se geselskap is waar ʼn volwassene, wat hulle ken, die kind onderrig.

“Onthou, kinders gaan in elk geval leer of daar ʼn boek voor hulle is, of nie.”

Sy het ouers aangemoedig om soveel moontlik inligting oor tuisonderwys in te win voordat hulle hul kinders daarvoor registreer.

“Ouers moet ʼn tuisonderwysbenadering vind wat die beste by hulle en hul kind se behoeftes sal pas. Sluit by tuisonderwysgroepe aan en woon geleenthede en webinare by om vooraf inligting oor verskillende benaderings en diensverskaffers in te samel.”

Waar begin ʼn mens met tuisskool?

Sy het die volgende vier stappe vir ouers aanbeveel wat nou graag kinders tuis wil onderrig:

Sluit aan by die Pestalozzi Trust. “Die trust sal jou ondersteun en jou kinders se reg op onderwys beskerm. Tuisonderrig is wel wettig volgens die Suid-Afrikaanse Skolewet, maar ons ondervinding is dat die staat nie baie vriendelik is teenoor tuisskoolleerders nie,” sê Van Oostrum. Lede van die trust ontvang ʼn noodnommer wat hulle kan gebruik indien hulle in konflik sou kom met owerhede oor die tuisonderwys.

Gee kennis aan jou kind se skool. “Sommige skole vereis ʼn maand kennisgewing, en ander kan tot ʼn termyn vereis. Die skool moet ook sy begroting laat klop en die nodige beplanning doen; hou dit in gedagte veral as jy ook jou kind in Januarie weer by sy of haar ou skool wil inskryf,” sê sy. Van Oostrum maan egter: Indien jy wel besluit om jou kind terug te neem, moet jy met die skoolhoof gesels sodat jy kan seker maak wat die vereistes vir hertoelating is en wat die skool gaan benodig om jou kind in die regte graad te plaas.

Organiseer jou kind se leermateriaal. Talle skole het reeds leermateriaal verskaf en ouers kan dit gebruik om hul kinders verder tuis te onderrig. Van Oostrum sê egter as jy besluit om jou kind weer na die formele onderwysstelsel terug te neem, moet jy ʼn kurrikulum kies wat jou kind aan die einde van die jaar van ʼn rapport voorsien. “Tuisskoolgevalle kies nie noodwendig altyd ʼn leerplan wat rapporte, eksamens en toetse verskaf nie, ons werk eenvoudig tot ʼn kind iets verstaan. Dit is ʼn heeltemal ander soort werkswyse, maar ons laat elke individuele gesin sy eie keuse hieroor maak. Die Pestalozzi Trust kan gesinne bystaan as hulle raad benodig oor die regte kurrikulum.”

Van Oostrum voeg by dat tuisonderrigleerders by die onderwysdepartement geregistreer moet word. “Baie tuisskoolgevalle verkies egter om dit nie te doen nie omdat amptenare ʼn tuisbesoek moet doen vir die registrasie, maar die kriteria vir so ʼn besoek word nie uiteengesit nie, en ons beskou dit as ʼn oortreding van ons regte. Dit is egter elke ouer se eie keuse om te besluit wat reg is vir hul kinders.”

Van Oostrum sê ouers wat nog raad oor tuisonderrig wil hê, kan gerus na die Pestalozzi Trust se podsendings luister, of aansluit by Facebook-groepe soos Homeschooling in South Africa of Home Education.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Hennie ·

Jy sit 10 weke met jou kinders by die huis en nóu skrik julle wakker? Julle is T. I.E.N maande agter!

marius ·

Graad 1 en 2 gaan nie terug nie of spring hulle sommer van graad R na Gr 3 ? Hierdie mense werk vir die publiek maar beskou hulself as gode terwyl hul niks anders is as apologetiese verskonings is , wat betaal word deur verguisdes wat bloedsweet , en vergaan juis as gevolg van hul sotlike optredes ! Hulle is nie verhewe bo ander nie en niks anders as werkers van die inwoners van die land nie . Dit geld vir alle staatsinstellings !

Agge nee ·

En so tree Lesufi se meesterplan in werking. So vinnig as wat jy jou kind de-registreer, so vinnig vul hy die spasie met ‘n townshipkind. As jy jou kind wil terugkom, is sy spasie gevul en staan jy verstom dat jy so netjies uitoorlê is, en dit deur Lesufi.

Trotse Boervrou ·

Jy slaan die spyker op die kop! Net so is die plan vir die res van die land. Ek haat dit om dit te sê maar ons is gevang met ons broeke op die enkels. Hier is ook ‘n groter mag agter alles. Hul gaan egter weldrae besef dat dit die grootste fout van hul lewe was. Ons het hul nog aan die gang gehou. Nou is daar niks. Ons kan weer opstaan. Hulle kan nie en hulle sink nou vinnig.

Anel ·

Dit is nou presies hulle plan. Maak die blanke ouers, veral die Afrikaanse ouers bang. Hulle hou hulle kinders by die huis. Volgende word net gesê daar is nie genoeg Afrikaanse kinders in die skool om dit te regverdig nie en daar is dit ‘n swart, engelse skool en jou kind het nie meer plek nie. Dink baie mooi. Julke gaan nie die kinders vir ewig by die huis kan hou uit vrees vir’ ‘n virus nie. Die lewe gaan aan, met virusse, baie van hulle, en al. Onthou, die Afrikaaner is’ ‘n baie sterk spesie. Ons is uniek. Min kry ons onder. Ons staan weer op. Kom, nou is dit tyd om weer te wys dat ons ons nie laat onderkry deur’ ‘n komunistiese regering nie. Dat ons ons nie laat bangpraat deur onbewyste bewerings nie. Sterkte.

Erik ·

Ek is nogal nie ‘n voorstander van tuisonderrig nie. Ek voel die ‘sagte vaardighede’ wat ‘n kind in ‘n hoofstroomskool leer is veel meer werd as sy akademiese welvaard. Om te leer om met ‘n wye verskeidenheid persoonlikhede oor die weg te kom, om te leer dat jy nie altyd dinge teen jou eie pas kan doen nie ens. gaan baie handig gepas kom as jy begin werk.

Daar is ‘n plek vir tuisonderrig in sekere gevalle, maar uit my ondervinding is kinders wat tuisonderrig word dikwels sosiaal wanaangepas en sukkel om in die samelewing, waarvan hul wel eendag deel sal moet word, aan te pas. Weereens net my opinie, joune mag verskil.

Jaco ·

Kennisse van my se oudste seun is deur die gewone skool. Rook, drink, party tot laatnag en uiters disrespekvol wees teenoor sy ouers het alles deel van sy leefwyse geword (hy het darem ‘n paar later bedaar).
Uit vrees dat hulle jongste seun ook al hierdie “sondes van die wereld (dit was die ouers se presiese woorde) sou aanleer, het hulle hom tuisonderrig gegee.
En vandag, op ouderdom 21 het hy nog nie matriek voltooi nie en al die “sondes van die wereld” oorheers maar sy lewe ook.

Oujongvrou ·

As ek jonger was met kinders wat skoolgaan het ek tuisonderrig permanent gedoen. Geen geboelie, geen oorvol klaskamers. Geen 20 jariges in klas en les bes geen skoolfooie.

Blommekind ·

My kinders tuisonderig al vir die laaste 7 jaar. Hulle is gelukkig, leer hard en is beslis nie wanaangepas nie. Dit is die beste besluit wat ons ooit geneem het. Dit is harde werk en ouers moet 100% daar wees maar op die oueinde is dit die moeite werd.

PH ·

Daar gaan almeer aanlyn-skole ontstaan wat in die buiteland erken sal word. Ons ondervinding het gewys dat dit goed kan werk.
Sosiale aanpassings kan op ander maniere benader word , bv met private sportklubs.
Tuisonderrig is baie veeleisend vir die ouers met kleiner kinders.

Jack ·

Dit beteken net een ding. Die staat het die skole nodig vir die massas en daarom sal die staat uit sy pad gaan om jou te help om jou kind by die huis te hou. Aan die positiewe kant dink ek dis n absolute wenner want sal daar minder probleme huistoe gedra word vanaf die skool. Die sport gaan egter n knou kry maar ook daarvoor kan klubs gestig word met professionele afrigting. Dis die toekomspad vir ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.