Al meer partye steun veranderde SA kiesstelsel

(Argieffoto: Brendan Magaar/ANA)

Al hoe meer politieke partye spreek hulle uit ten gunste van ʼn verandering in die kiesstelsel sodat die nasionale, provinsiale en plaaslike verkiesings op dieselfde dag kan plaasvind as ʼn soort omnibus-verkiesing.

Hoewel geen politieke party al ʼn formele besluit oor die kwessie geneem het nie, maak die ANC, EFF, IVP, VF Plus en ACDP tans positiewe geluide oor ʼn verandering. Die DA is heeltemal daarteen gekant.

Daar is selfs ʼn aandrang vanuit sommige kringe in die ANC en die EFF dat volgende jaar se munisipale verkiesing uitgestel moet word tot 2024 om met die volgende nasionale en provinsiale verkiesing saam te val.

Enige sodanige poging sal egter wetsgewys op losse skroewe staan, want die Grondwet bepaal dat landwye munisipale verkiesings ten minste elke vyf jaar moet plaasvind. Die vorige munisipale verkiesing was in 2016, dus verval stadsrade se termyne aanstaande jaar.

Sedert 1910 het Suid-Afrika (soos byna alle demokrasieë wêreldwyd, maar interessant genoeg nie die VSA nie) nog altyd sy munisipale verkiesings op ʼn ander datum as die provinsiale en nasionale verkiesings gehou. In die huidige vyfjaar-verkiesingskringloop vind landwye munisipale verkiesings twee jaar ná (en dus drie jaar voor) nasionale en provinsiale verkiesings plaas.

Partye wat ten gunste is van die samevoeging van die nasionale, provinsiale en plaaslike verkiesing op een dag, voer aan dat dit baie geld gaan bespaar, vir politieke partye sowel as vir die belastingbetaler en die land.

(Foto: Maroela Media)

Teenstanders van so ʼn saamgevoegde verkiesing meen dit sal te veel organisatoriese eise stel aan die Onafhanklike Verkiesingskommissie, wat vier (in die metro’s) of vyf (in die platteland) verskillende en uiteenlopende stembriewe korrek sal moet aflewer by elkeen van die land se meer as 22 000 stemlokale. Indien nie, sal sommige uitslae ongeldig wees, wat ʼn vrye en regvredige verkiesing in die gedrang kan bring – baie gevaarlik in ʼn polities plofbare land soos Suid-Afrika.

Teenstanders van verandering wys uit dat elkeen van die land se duisende munisipale wyke ʼn unieke, korrekte stembrief moet kry, so ook elkeen van die 258 stadsrade (vir die proporsionele stem), asook elk van die land se 40 plattelandse distriksrade, elkeen van die nege provinsies. Dan kom die nasionale stembrief ook nog by – bes moontlik ʼn resep vir ʼn Babelse verwarring en ʼn mislukte verkiesing wat dan op sommige plekke herhaal sal moet word.

Dit kan die uitslae (hierdie is ʼn proporsionele stelsel, dus hang die hele verkiesing daarvan af dat letterlik elke stemlokaal klaar getel is vir elke jurisdiksie se uitslag) met weke vertraag en die land, provinsies, distriksrade en/of stadsrade weke lank sonder ʼn regering laat.

Boonop voer teenstanders aan die magdom stembriewe gaan stemmery baie vertraag en wagtyd in die kiesersry dramaties verleng omdat elke kieser nou meer stembriewe moet invul, nie deurmekaar moet raak nie en elke stembrief in die regte stembus moet plaas.

ʼn Verdere punt van kritiek op die voorgestelde verandering is dat dit die telproses eksponensieel gaan vertraag, veral omdat die rekonsiliasieproses nou vyf stembusse se stembriewe gesamentlik en afsonderlik sal moet insluit om voorsiening te maak vir kiesers wat hul stembriewe in die verkeerde stembus gegooi het.

Benewens die bydrae wat die groter volume stembriewe tot die tydsduur van die telproses maak, sal dit die moegheidsfaktor van die stemtellers selfs erger maak as wat dit tans is. Dit kan die kans op foute en korrupsie verhoog, veral as die stembusse onder die oë van die tellers, party-agente en kiesbeamptes moet uitgaan om deur ander bewaar te word terwyl die tellers, party-agente en kiesbeamptes gaan rus.

ʼn Laaste beswaar teen ʼn saamgevoegde verkiesing is dat plaaslike kwessies en kiesbeloftes vir spesifiek plaaslike probleemoplossing, gemeenskapsverbetering en nuwe projekbeplanning vir die dorp of wyk nie die nodige prominensie sal kry nie. Dit kan munisipale agteruitgang tot gevolg hê omdat die kwessies van die nasionale en provinsiale verkiesing die plaaslike kwessies sal oordonder.

Bronne in die DA het bevestig dat dié party enige poging om die verkiesings saam te voeg of die munisipale verkiesing uit te stel, in die hof sal beveg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Carina ·

Stel ‘n elektroniese stemstelsel in. Geen stem briewe nie, geen stem lokale nie. Elke stemmer gaan in op ‘n rekenaar of selfoon, tik sy ID in en as dit geldig is, kan jy voortgaan. Jy kan ook nie meer as 1x stem nie want die stelsel sal sien dat jou ID reeds gebruik is. Jy moet jou adres ook bevestig en dit sal bepaal watter stem briewe jy sal kan sien. Dan kiesjy net op die betrokke stembrief vir watter party in jou area jy stem, en dan weer dieselfde op die nasionale brief.
Daar kan dan geen duplikasies wees nie, niemand wat nie ‘n SA ID het sal kan stem nie, geen bederfde briewe, geen lang rye, almal kan dit op enige plek doen, so niemand hoef verlof by die werk in te sit nie (dis nou as hy nog ‘n werk het) en sodra die afsnytyd bereik is, kan hulle dadelik die klaar getelde stemme vir alle rade, provinsies en nasionaal sien. Geen getellery deur mense wat kan foute maak of briewe weggooi nie. En stel die stemstelsel oop vir ‘n paar dae om almal kans te gee om te stem.

Magda ·

tot 2024 – HOEKOM IS JULLE BANG VIR DIE UITKOMS NA JULLE GEMORS MET DIE COVID19 PANDEMIE – GEEN UITSTEL LAAT DIE MUNISIPALE VERKIESINGS AANGAAN. Die publiek het KLAAR gesien waar die ANC se prioriteite le – NIE BY HULLE NIE – DIE EIE EK – KORRUPT TOT OP DIE BEEN TOE – Verwyder hulle van daai stoele mense – ONS verdien beter en nie die EFF nie – n heeltemal NUWE Party waar kleur nie saak maak nie, maar kennis / eerlikheid / hardwerkende mense / mense met menslikheid/ geduld / Hospitaal personeel met menslikheid en nie net daar vir n Salaris nie / Skoon Klinieke en Hospitale / Skole met Elektrisiteit / toilette / goeie vervoer / en genoeg boeke en alles wat nodig is / Huise / Water en elektrisiteit vir almal / WERK / en GEEN KORRUPSIE VERWYDER DIE ANC / EFF ASB

Fedup ·

I’ll be having a nice cup if tea with the pope while the childish political parties fight over the sand box.
Shame. Don’t they get it. There is absolutely nothing in this mushroom country left to fight about. Voting won’t change anything at all.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.