Al meer SA’ners belê só in die buiteland

Argieffoto.

Die aantal Suid-Afrikaners wat deesdae besluit om eerder in die buiteland te belê, neem snel toe.

Volgens Magnus Heystek, direkteur van Brenthurst Wealth Management, het sy maatskappy reeds honderde rekeninge vir kliënte geopen wat besluit om hulle geld na die buiteland te skuif.

Maroela Media het met Heystek gesels om uit te vind hoekom so baie Suid-Afrikaners verkies om dit te doen, of dit wel so maklik is en of dit iets is wat enige iemand kan doen.

“Hierdie is ʼn aanbeveling wat ons reeds die afgelope sewe jaar vir ons kliënte doen. Ek het dit met my eie geld gedoen toe die rand nog ongeveer R7 teen die dollar was en dit het my tot groot voordeel gestrek,” sê Heystek.

Volgens hom kan enige Suid-Afrikaanse belastingbetaler jaarliks ʼn R1 miljoen na die buiteland neem.

“Dit is deel van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se enkel- diskresionêre toelae, maar ʼn mens kan selfs tot R10 miljoen met die SAID se toestemming uitvat. Dit behels egter heelwat meer papierwerk om dit te doen.”

Volgens Heystek is dit so eenvoudig soos om ʼn paar vorms in te vul, jou dollars te koop en oorsee te stuur.

“Jy kan jou geld oorsee hou deur vir jouself ʼn bankrekening in Mauritius te open. Al die eiland se grootste banke het kantore in Sandton en Kaapstad en Suid-Afrika se eie banke soos Absa en Standard Bank bedryf ook reeds sake daar. Investec is al vir 20 jaar in dié land.

“Sodra jy ʼn bankrekening geopen het, skaf jy ʼn debietkaart aan en jy hou jou geld in dollars, of selfs ponde of yen.”

Heystek sê mens het ʼn minimum belegging van R100 000 nodig om dit te doen.

“So hou jy jou sowat $6 983 in die rekening en sal jy met jou debietkaart by enige handelaar kan koop wat Visa of Mastercard aanvaar.

“Dit is bykans asof jy ʼn toeris is wat in Suid-Afrika rondloop.”

Heystek sê ook elke keer wat die rand verswak, sal dit jou tot voordeel strek. “Ek het al tot 7% per jaar verdien deur niks anders te doen as om my geld in dollars te hou nie.”

Hy meen nog ʼn voordeel is dat geld wat in die buiteland is, uit die hande van die staat of tesourie gehou word.

“Die staat kan nie jou rekening sluit of selfs nog strenger valutabeheer instel nie. Valutabeheer is destyds in Zimbabwe ingestel waar die staat sy inwoners verplig het om net met Zimbabwiese dollars te koop.”

Heystek sê verder Suid-Afrikaners se leefstyl word hoofsaaklik deur die rand-dollar-wisselkoers bepaal. “Dink maar net aan die koste van ʼn selfoon, rekenaar of oorsese vakansie – Suid-Afrikaners betaal eintlik wat dit in dollars werd is.

“Die inflasiekoers van 5% is ook nie vir my ʼn akkurate weerspieëling van die werklike koste van hierdie produkte nie.”

Heystek meen dit kan jou ook help as jy ʼn dispuut met die SAID het. “Hulle beleid is jy betaal eers en baklei later, in die tussentyd word jou rekening leeggetrek. Dieselfde kan gebeur met die Reserwebank wat kan besluit om jou bankrekening te sluit.”

Hy sê die groot vraag is: Hoekom sal enige iemand al hulle geld net in een land wil hou?

“Mauritius is deesdae ʼn gunsteling omdat al meer Suid-Afrikaners daar woon, werk of hulle ondernemings daarvandaan bedryf. Jy kan egter jou geld na Birmingham of selfs die Isle of Man neem as jy dit sou verkies.

“Suid-Afrikaners kyk na ons plaaslike ekonomie en wil nie meer al hulle eiers in een mandjie plaas nie. Mense se houding hieroor het in die afgelope vyf jaar handomkeer verander; waar hulle vroeër gesê het hulle is lojaal aan Suid-Afrika, is hulle nou werklik bekommerd oor die land se vooruitsigte.”

Heystek gee toe dat daar koste aan die verskuiwing van jou geld sal wees en dat jy dit in berekening moet bring. Hy sê die besluit moet ook deel uitmaak van jou langtermynbeleggingsbeplanning. So ʼn skuif moet nie net uit vrees of woede gedoen word nie.

“Eerstens moet ʼn mens onthou daar is koste daaraan verbonde om rande te verkoop en dollars te koop. Dit is gewoonlik ʼn 1%‑fooi en ʼn mens sal nie hiervan kan wegkom nie.

“Verder gaan jy bankkoste vir jou bankrekening in Mauritius betaal. Die eiland se struktuur van bankkoste is min of meer dieselfde as in Suid-Afrika. Ek betaal tans ongeveer $35 per maand vir my rekening.”

Hy sê jy sal ook ʼn bedrag moet betaal aan die persoon wat jou help om jou bankrekening oorsee te open. “Ons maatskappy se gelde beloop tans sowat R3 000 juis omdat daar soveel papierwerk aan die proses verbonde is. Baie mense het al gesê hulle sal dit self doen, maar kom dan later terug en vra ons om daarmee te help.”

Heystek meen ook ʼn mens moet onthou dat hierdie nie jou eerste of enigste belegging kan wees nie.

“Daar is mense wat ek sal afraai om die roete te volg. Die eerste groep is mense wat direk van hulle belegging as ʼn inkomste afhanklik is. Ek dink aan iemand wat ongeskik verklaar is by die werk. So ʼn persoon moet eerder sy R1 miljoen in Suid-Afrika belê en ʼn opbrengs van 9% op sy kapitaal verdien.

“Die tweede groep wat dit liefs nie moet doen nie, is iemand wat omgekrap gaan wees elke keer as die rand rondspring. Dit is nie ʼn belegging vir iemand wat sensitief vir wisselkoerse is nie.”

Heystek beveel Suid-Afrikaners aan om drie jaar se inkomste te spaar en ʼn noodfonds op te bou. Die beleggings moet vir eers in Suid-Afrika bly en enige belegging kan daarna gebruik word om geld na die buiteland te skuif.

  • Kontak Brenthurst Wealth Management vir meer inligting oor hoe om jou geld na die buiteland te skuif.
  • Maroela Media is nie ʼn geregistreerde finansiële raadgewer nie en dra geen verantwoordelikheid vir finansiële besluite wat ná die lees van hierdie artikel gemaak word nie. Indien jy jou geld in die buiteland wil belê, moet jy ʼn geregistreerde finansiëlediensteverskaffer vir advies kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Geld wat stom is. ·

Beste raad ooit. Veral in die lig van die nimmereindigende eetlus van die huidige regering.

Jan Karsten ·

Was 14 jaar in VSA, my vrou het in die bank gewerk. Rente koerse wissel tussen,. 5% en 3%. Groot beleggings van $200,000 en op kan 3% verdien. Al 3 jaar terug, so weet nie huidiglik nie.

D Meyer ·

1) Verdeel jou geld tussen meer as een maatskappy wat jou belange in buiteland bestuur bv 20 % per maatskappy/bank 2) oorweeg verskeie vorme van beleggingsprodukte wat in buiteland bele en waarvan elk sy eie voor- en nadele het bv a) beleggingstrusts en -maatskappye wat in wereldwye aandelefondse bele, maar wat vanaf n belastings vesting soos Guernsey, Isle of Man ens af bedryf word en wat geskei is van jou naam en boedel (dus kan SARS nie hul hande op opbrengs le nie) b) buitelandse pensioen trusts wat vererfbaar is sonder belastingimplikasies vir erfgename c) buitelandse polisprodukte en Suid Afrikaanse polisse wat enige plek ter wereld kan uitbetaal d) rentes op bankrekeninge is baie laag en moet slegs as instrument beskou word waaruit jy daagliks na oorplaas om vanaf te leef. Wees versigtig om te bele in lande wat deel is van die Suider Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap wat saamwerk en saamgesnoer is in terme van belastingwetgewing. Hiermee se ek nie, moet gladnie in Mauritius bele nie. Waag n deel van jou kapitaal in die sirkus wat hulle Suid Afrika noem, maar nie te veel nie.

Swartwolf ·

Het Magnus se raad gevolg. Pensioen onttrek, belasting betaal en US$ gekoop en bele in Guernsey to ZAR 11 teen US$ was. Amper al 50% van belasting teruggemaak met bate groei en ZAR verswakking. En dis net 18 maande. Grootste voordeel is geld is weg van cANCer se slymerige hande. ” The first principle of building wealth is preserving wealth”. Dankie Magnus vir jou raad.

Alet ·

Hi Swartwolf, ek weet ek kan ‘n Isle of Man rekening deur Standard Bank oop maak maar deur watter bank werk ek om ‘n Guernsey rekening oop te maak.

Maljan ·

Dit sal verseker die gulsige ANC kan nie hande daarop lê nie. Maar al die moeite vir TOT 7%? Nee wat.

Smirre ·

Hier is ‘n voorbeeld: Daar is net 2 tipes ex Rhodesiers-die wat hul geld uitgekry het, en die wat nie. Leer eerder uit daai voorbeeld. Kan mens enige Afrika regering vertrou met jou geld ?

Martin ·

Ongelukkig verhoed my werkgewer my om nou aanspraak te maak op geld in my aftreefonds. Mens sien daagliks hoe die geld minder word, maar jou hande is afgekap. Is daar dalk iemand wat raad het? Is daar enigsins ‘n manier om dit, wat huidig beskikbaar is, te kan onttrek. Ek praat van ‘n aftreefonds…nie ‘n pensioenfonds nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.