Ál meer SA’ners oorleef op skuld

(Foto: iStock)

Ál meer Suid-Afrikaners wend hulle tot persoonlike lenings om die pot aan die kook te hou en Suid-Afrikaners wat meer as R20 000 ʼn maand huis toe vat, skuld dikwels meer as twee keer wat hulle in ʼn maand verdien. Die hoeveelheid skuld wat aangegaan word, het ook amper verdubbel.

Dít is van die bevindings van DebtBusters se skuldindeks vir die tweede kwartaal van 2023. Die data is verkry vanaf aansoekvorms om skuldberading.

“Die gemiddelde hoeveelheid geld wat geleen word, het sedert 2016 met 78% toegeneem en 95% van verbruikers wat tydens die aangewese tydperk aansoek gedoen het om skuldberading, het ʼn persoonlike lening gehad,” sê Benay Sager, hoof van DebtBusters.

Onversekerde skuld was ook 26% hoër as in 2016. “Dit word ál duideliker dat verbruikers van onversekerde skuld gebruik maak om hul inkomste aan te vul. Gevolglik moet hulle ʼn groter deel van hul inkomste opsy sit om hierdie skuld af te betaal,” sê Sager.

Luidens die indeks het Suid-Afrikaners wat gedurende die tweede kwartaal aansoek gedoen het om skuldberading, gemiddeld 66% van hul maandelikse inkomste gebruik om hul skuld af te betaal. Dié wat minder as R5000 of meer as R35 000 ʼn maand verdien het, het tot 71% van hul inkomste aan skuld en die rente daarop bestee.

“Die styging in die rentekoers beteken boonop dat dit ál moeiliker is vir verbruikers om hierdie skuld af te betaal.”

Die rentekoers het van 8,3% in die vierde kwartaal van 2020 tot 12,2% in die tweede kwartaal van 2023 toegeneem.

Die indeks het ook bevind Suid-Afrikaners wat meer as R20 000 ʼn maand huis toe vat, se skuld-tot-inkomste-verhouding is 150%, terwyl dit vir die groep wat R35 000 of meer elke maand in die sak steek, 189% beloop. Dié verhouding verskil ook afhangende van skuldenaars se ouderdom. Dit wil voorkom of die verhouding van skuld tot inkomste toeneem soos skuldenaars ouer word. Só is die skuld-tot-inkomste-verhouding vir Suid-Afrikaners jonger as 25 maar 66%, terwyl dit vir dié tussen 45 en 54 jaar 144% is.

Volgens die organisasie word Suid-Afrikaners se groeiende skuldlas grotendeels gedryf deur stygende inflasie.

“Hoewel werklike inkomste 1% meer is as in 2016, het inflasie die afgelope sewe jaar met 39% toegeneem. Dit beteken verbruikers se koopkrag het met 38% afgeneem,” sê Sager. Hy verwys dan ook spesifiek na die styging in die prys van petrol en elektrisiteit, wat albei die afgelope sewe jaar amper verdubbel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die regime verstaan nie die tipe dinge nie. Hulle reken dit gaan goed. Tik…tak…die bom gaan bars.

annie ·

Ons sosialistiese regeringsleier soos Mantashe van die kommunistiese arm weet nie van armoede nie en huil al die pad na die bank. Cyril spandeer miljoene op wild en sy swaer kan ok nie juis kla nie. Julius skreeu rooi moord maar sy bank kla ook nie oor sy beursie nie. Cyril stel net nog mense aan vir groot monde en salarisse. Die res sal in 2024 maar weer stem vir hul ryk base.

melaney ·

En hoe oorleef werkloses? Deesdae staan van hulle reg voor ons hek en skreeu om finansieële hulp of werk. En die anc spog dat dié probleem beter word?

Jacobus ·

Dit is presies waar hierdie kommunistiese ANC bende die SA burgers wil he, en op die ou einde afhanklik van die staat dmv SASSA.

Papsak ·

Ons kan nie anders om so te leef nie die regering behandel ons so hulle bly ons straf en dit vir niks ons niks aa n hulle gedoen nie ons skuld hulle niks nie

SwartBees ·

Hoe anders gaan ons kos op die tafel sit want die regering tap ons leeg.

bolletjie blom ·

Hoe dan anders die regering maak dit vir ons haas onmoontlik om te oorleef met alles wat so duur is. Petrol pryse, kos pryse en nog baie ander goed. Hulle probeer jou leeg tap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.