Ál minder huiwerig oor Covid-19-entstof

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: GCIS)

Ál minder Suid-Afrikaners is huiwerig oor die Covid-19-entstof, met ʼn groot aantal volwassenes wat ten gunste daarvan is om ingeënt te word.

Meer as ʼn derde van dié wat ten gunste is van die inenting, het dit egter nog nie self ontvang nie.

Wit Suid-Afrikaners verkies egter steeds om die entstof op ʼn afstand te hou en is onder die land se bevolkingsgroepe wat die meeste teenkanting rakende die entstof toon.

Só wys ʼn nuwe studie wat onlangs deur die Universiteit van Johannesburg (UJ) se sentrum vir maatskaplike verandering gedoen is. Dit is in samewerking met die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing se afdeling vir ontwikkeling en ʼn etiese en bekwame staat gepubliseer.

Meer as 6 600 Suid-Afrikaners van verskeie ouderdoms- en rassegroepe het tussen Oktober en November verlede jaar die aanlyn opname op die Moya Messenger App voltooi.

Luidens die bevindinge het entstofhuiwerigheid onder die steekproef effens afgeneem van 28% in Julie verlede jaar tot 25% aan die einde van dieselfde jaar.

Hoewel die vlak van entstofhuiwerigheid in die algemeen stabiel is onder die bevolking, wys die navorsing dat daar verskeie verwikkelinge onder die jonger garde se denkwyse hieroor is.

Die vlak van entstofhuiwerigheid onder diegene tussen 18 en 24 jaar oud het met 16% afgeneem, terwyl 25- tot 34-jariges 9% minder huiwerig is om die inenting te kry. Dit het egter stabiel gebly in ouer ouderdomsgroepe.

Entstofhuiwerigheid onder wit volwassenes, wat in vorige rondes van die studie die meeste teen die entstof gekant was, het wel met 18% afgeneem. Ten spyte hiervan wys die opname dat wit mense se teenkanting teen die entstof steeds hoër is as dié van swart, Indiër- en Asiatiese groepe.

Die studie het bevind die rede vir teenkanting jeens die entstof is weens verskille tussen generasies, ʼn tekort aan kennis oor die entstowwe, ʼn gebrek aan politieke vertroue en sosio-ekonomiese omstandighede.

“Inentingsgetalle is die hoogste onder diegene wat in voorstede woon, en die laagste in informele nedersettings en landelike gebiede.

“Diegene wat hulself beskou as goed ingelig oor die inenting, is ook meer geneig om hulle te laat inent.”

Ten tyde van bogenoemde bevindings het 38% van volwassenes aangedui dat hulle bereid is om die Covid-19-entstof te neem, maar nog nie daarby uitgekom om dit te doen nie.

Deelnemers het ook ʼn reeks ander redes gelys waarom hulle nog nie ingeënt is nie.

Altesame 23% van volwassenes wat nie ingeënt is nie, maar graag wil, weet nie waarheen om te gaan om ingeënt te word nie.

Altesame 17% van diegene wat wel weet waar om ingeënt te word, sê dat dit ʼn groot uitdaging is om by inentingsfasiliteite uit te kom weens die koste verbonde aan reis na sulke fasiliteite (17%) en die beperkte tyd tot hul beskikking (16%).

“Hoewel die navorsing daarop dui dat daar ʼn aantal struikelblokke vir mense is wat wel ingeënt wil word, is daar steeds ʼn groot groep mense (28%) wat ten gunste van die inenting is, maar nie hierdie struikelblokke ervaar nie.

“Die vraag is dus: Waarom het die mense wat gewillig is om ingeënt te word, dit nog nie gaan doen nie?” lui die verslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Pieter ·

Dink die laaste sin verduidelik alles. Mense is nie gewillig nie,

krodedil ·

Waarom het die mense wat gewillig is om ingeënt te word, dit nog nie gaan doen nie?” Die regte rede is want hulle wil nie regtig nie. want MEER is teen die enting. Misleidende artikel wat nie die ware feite deurgee nie.

Witwax ·

Ek wil graag weet wat is die voordeel vir n persoon self om die inspuiting te kry.

Groen Ghoen ·

Dit is baie goed vir die gesondheid: Veral die gesondheid van die farmaseutiese maatskappye, die hele Covidinfrastruktuur van toetsers, asook die media wat vrees en bewing moet aanjaag.

Haan ·

Hoe anders gaan ons dan weer lekker sport kan kyk, en basiese vryhede terug kry?? (sarkasties)

Karel Kobus Kruger ·

Ek was op geen stadium huiwerig nie. Huiwerig bereken onseker. Ek was van die begin af doodseker ek wil dit nie hê nie.

Danny ·

“Die vraag is dus: Waarom het die mense wat gewillig is om ingeënt te word, dit nog nie gaan doen nie?” lui die verslag.

Ek wil die navorsing SIEN. Na hierdie huidige TOETS FASE waarop almal so gewillig is om proefkonyne te wees…

piet ·

Dit raak bietjie moeilik om die meer as 1,2 miljard (1 200 000 000) dosisse wat al suksesvol ter wereld toegedien, is te betwis. LOL

Jedi Knight ·

En mense soos ek wat glo dat die entstof redelik veilig is, maar nog steeds nie belangstel nie? Bloot omdat ek die virus nie as dodelik genoeg beskou nie. Veral ook omdat ek al covid gehad het en my simptome baie matig was.

Martie ·

Ek is nie huiwerig nie.
Ek wil nie die inenting he nie. Punt

Hein ·

Daar word nie meer mense ge jab nie meer mense koop die serts en dan wys dit as ente. Dieselfde soos wat mens in kar ongeluk sterwe dan wys die dood sertifikaat covid. Dis Afrika waar ‘n reel is sal ‘n bribe wees

VaalDonkie ·

Wat hulle nie noem nie is dat die swart, bruin en Indier groepe OOK net so huiwerig is. Die dat net 35% van die volwasse bevolking gewaks is. Ek meen dink daaraan: die witmense is maar, wat, 10% van die bevolking? So as net 35% van die volwassenes inge-ent is, dan beteken dit die ander is ook nie baie lus vir die ding nie. Selfs al was elke liewe wit volwassene ge-ent, beteken dit slegs 25% van die nie-wittes is ge-ent. En as geen wittes ge-ent is nie, beteken dit slegs sowat 40% van nie-wittes is gewaks.

VaalDonkie ·

Ek het Delta oorleef en net ‘n paar dae ‘n seer keel gehad en erg gehoes en genies. Dit was nie baie aangenaam nie, maar hier sit ek nou en gee my mening elke dag oor die waks. Waarom moet ek ingespuit word? Ek het dan alreeds die ding gehad en immuniteit ontwikkel. Ek het selfs neutraliserende teenliggaampies in my neus en keel wat keer dat ek dit kan versprei. En as ek Delta oorleef het, sal ek Omikron OOK oorleef as hy om een of ander rede verby my teenliggaampies kom. En in elk geval, hoe gaan ‘n Alfa-variant inspuiting wat twee jaar oud is my beskerm teen die variant wat hulle in die winter gaan loslaat?

VaalDonkie ·

Ekskuus, laat ek tog maar net byvoeg dat ek ‘n vriend aan COVID verloor het (heel moontlik ook Delta) en ek nie dink dis ‘n grap nie. Maar noudat ek hom oorleef het, het ek mos geen rede om te ent nie.

Marianna ·

Die mense wat gaan ent is die wat nou gedwing word en vrees hulle gaan hulle werk verloor. Dit gaan glad nie omdat hulle wil nie. Nou is daar nog twee soorte vaccines vir SA goedgekeur en die mense moet gespuit word. Daar word net vir die mense die ‘voordele’ uitgewys. Vertel my van ‘n dokter, of die media, radio, TV ons vertel van die nadele. Nie een nie.

Pietertjie ·

Die “navorsing” onderskei nie tussen mense wat ten gunste van inenting met enigiets is, en diegene wat ten gunste van inenting is, maar gekant is teen iets waarvan die inhoud onbekend, en die effektiwiteit en nagevolge nie bevestig kan word nie. Laasgenoemde word maar net oor die boeg van “anti-vaxxers” gegooi.

Karen ·

Nee, al goe meer mense se regte word ontneem en MOET vir die inenting gaan.

Chris ·

Pieter slaan die spyker op die kop – meeste mense het al bewus geword van die moontlikheid dat jy nie jou arbeid sal kan verkoop, en dalk nie sal kan koop indien jy nie die spuit neem nie. Soos uit die 2018 opskrif wat volg blyk dit naby te wees (Gaan Google dit) “A NEW BIOMETRIC IDENTITY PLATFORM PARTNERED WITH THE GATES-FUNDED GAVI VACCINE ALLIANCE AND MASTERCARD WILL LAUNCH IN WEST AFRICA AND COMBINE COVID-19 VACCINATIONS, CASHLESS PAYMENTS, AND POTENTIAL LAW ENFORCEMENT APPLICATIONS” Enigeen wat bogemelde ontken is kortsigtig. Waar het ek dit al gehoor – jy sal nie kan koop of verkoop indien jy nie … .

Lood ·

Ek dink nie die “navorsing” is ‘n goeie weerspieëling van die werklike situasie nie. Daagliks kry ek met meer en meer mense te doen wat nie meer gebreinspoel is nie en nie die inspuiting wil hê nie. Selfs mense wat reeds ingespuit is sê dat hulle geen verdere inspuiting wil hê nie. Mense begin raaksien wat die gevolge van die inspuiting is.

Nico ·

Nou word jy gedwing om die gemors in jou liggaam in te spuit indien jy oorsee wil gaan, ons vlieg die einde Mei Duitsland toe, so ons moet dit vat.

Robert ·

Gekookte navorsing om mense te oortuig… niks anders as propoganda nie.

ENFM ·

Sal graag die metode, die vraelys en die rou data van hierdie navorsing wil sien. Wat was die insluitingskriteria en uitsluitingskriteria? Hoe groot is die steekproef en is dit verteenwoordigend van die populasie? Neem aan die protokol is goedgekeur deur ‘n wetenskaplike komitee en etiekgoedkeuring is verkry?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.