Al minder nuwe registrasies vir kindertoelaag

Argieffoto Foto: HeikeIr, Pixabay

Daar is al minder nuwe registrasies vir alle welsynstoelae, behalwe dié vir ouderdomstoelaag en ongeskiktheidstoelaag, blyk dit uit syfers wat in die parlement bekendgemaak is.

Die syfers is verskaf deur Susan Shabangu, minister van maatskaplike ontwikkeling, in antwoord op ʼn geskrewe vraag deur Primrose Sonti, EFF-LP van Marikana. Sonti wou by die minister weet hoe die aantal ontvangers van die onderskeie toelae verander het sedert 2015.

Die minister se antwoord, gegrond op die werklike getal uitbetalings per toelaag, was enigsins verrassend, veral wat die afname in nuwe uitbetalings van die kindertoelaag betref.

Daar is ʼn onbevestigde vermoede in sommige kringe dat arm jong vroue spesifiek swanger raak en geboorte skenk sodat hulle kindertoelae kan kry, maar die hoeveelheid nuwe registrasies vir kindertoelae het tussen 2015 en 2018 met sowat 10% afgeneem: van 907 747 in 2015 tot 818 007 in 2018.

Nog ʼn toelaag waarvan die getal nuwe aansoekers elke jaar verminder is die versorgingstoelaag. Waar die getal nuwe aansoekers in 2015 op 17 159 gestaan het, is dit nou 15 692.

Die nuwe aansoeke vir die pleegsorgtoelaag het oor die afgelope vier jaar afgeneem van 47 863 per jaar na 38 055 per jaar. Baie goeie nuus vir die belastingbetaler is dat daar basies geen nuwe aansoeke vir oorlogsveteranetoelae is nie – minder as vyf per jaar word ontvang.

Die twee toelae waarvoor nuwe aansoeke toeneem, toon matige groei. Die nuwe aansoeke om ongeskiktheidstoelae het die afgelope vier jaar toegeneem van 171 935 tot 188 793, en die nuwe aansoeke vir ʼn ouderdomstoelaag van 227 360 per jaar tot 243 069 per jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

GM ·

Hoekom is dit sulke goeie nuus dat daar nie nuwe aansoeke vir oorlogsveterane is nie? 5 ‘n jaar klink bitter min in vergelyking met die res van die toelaes wat wel uitbetaal word. Of mis ek nou iets?

Ek weet in elk geval nie of ek hul statistieke glo wat die vermindering van kindertoelae aanbetref nie. Baie kry kinders net vir daardie toelae.

Ons land kon beter na die ouermense gekyk het, en die kindertoelae op 2 per vrou vasgestel het of so iets. Weeskinders en gestremdes uitgesluit by die beperking natuurlik, vir hul kon die toelae effens verhoog word.

Jozi ·

Onmoontlik.
Ek vermoed dit mag dalk ‘n redelike indikasie wees van absolute swak dienslewering by Dept van Maatskaplike Ontwikkeling.
Hoekom (sê maar) 20 nuwe aansoeke per dag prosesseer as jy vir dieselfde salaris per maand 5 aansoeke per dag registreer?
Is mos nou nie asof daar al ooit ‘n gevoel van dringendheid in die werksplek was nie.
Gaan orals so – Binnelandse Sake, Verkeersafdeling, Dept van Arbeid, SARS…….
Wag net vir teetyd, etenstyd, nog ‘n teetyd en dan hoogtepunt van die dag – tjailatyd.

Maak tog sin ·

Die hoeveelheid jongmense wat ‘n salaris verdien en belasting betaal neem tog weldra toe, so alhoewel dit verbasend is, moet ‘n mens dit as ‘n tree in die regte rigting sien. Mits dit natuurlik nie deur onbevoegdheid veroorsaak is nie.

Sune van Heerden ·

Dagsê Benita
Dankie vir jou boodskap.
Die vermoede bestaan inderdaad by sekere persone, as ons maar net kyk na die kommentare op berigte op Maroela Media waar lesers daaroor bespiegel. Hierdie berig voer egter juis aan dat hierdie inligting van die teendeel spreek . Ons bied dus nie hierdie “onbevestigde vermoede” as feit aan nie.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Benita Williams ·

Suné, ek dink jy sal saamstem as ek sê woord keuse maak saak. Dit maak veral saak in die een sin teks wat saam met die artikel titel gepromoveer word op Facebook.

“Onbevestigde vermoede” is baie meer neutraal as “ongegronde aanname” of “algemene misvatting”.

Die artikel dui aan dat toelaag registrasies afgeneem het maar dit word nie oortuigend aangebied as bewys om die foutiewe aanname te weerlê nie.

Wanneer n berig n wanopvatting ophaal en dit nie dan uitdruklik weerlê nie, is die media besig om met mense se opinies te speel. Chris en Bles van voor af. Die potensiele gevolge is net heelwat meer strak.

‘n Paar ander “onbevestigde vermoedens” later en nou sit die wêreld met Brexit, Masels en Christchurch.

Sune van Heerden ·

Dagsê Benita

Die “onbevestigde vermoede” verwys na persone wat beweer dat arm jong vroue spesifiek swanger raak en geboorte skenk sodat hulle kindertoelae kan kry. Dit verws nie na die afname in toelaagregistrasies nie.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.