Al minder polisiebeamptes in WK

In sommige gebiede is daar net een polisieman vir elke 773 lede van die bevolking. Die ideale verhouding is een vir elke 200 inwoners. (Foto: Hansie Linde)

Dit blyk dat polisiestasies in die Wes-Kaap met al minder hulpbronne moet klaarkom terwyl die moord- en misdaadkoers in sommige gebiede toenemend styg.

Die polisie het in antwoord op ʼn parlementêre vraag deur die DA bevestig dat 71% van die provinsie se 151 polisiestasies ʼn afname in die getal beamptes wat aan dié stasies toegeken word, ervaar.

Dit beteken dat daar tans 804 polisiebeamptes minder is as die getal in 2017. In Kaapstad‑Sentraal het ontplooiing van 525 tot 425 gedaal terwyl kontakmisdaad met 30,8% toegeneem het.

Maroela Media het vroeër berig die Wes-Kaap het ook nie die aantal polisierekrute ontvang wat Bheki Cele, polisieminister, vroeër beloof het nie. Die provinsie sal slegs 1 118 rekrute vir die huidige boekjaar ontvang, wat 1 000 minder is as waarvoor aanvanklik begroot is.

Ricardo Mackenzie, die DA se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, sê die jongste syfers benadruk die ernstige personeeltekorte wat die Wes-Kaapse polisie ervaar.

In Belhar, waar poging tot moord met 162,5% toegeneem het, het die toekenning van polisiebeamptes van 103 tot 94 gedaal.

Oudtshoorn het ook ʼn skerp styging (146,2%) in poging tot moord ervaar, terwyl ontplooiing van beamptes van 310 tot 286 gedaal het. In Lingelethu-Wes, waar ses minder polisielede toegeken is, het huisbraak met 78,9% gestyg.

Mackenzie meen die verhouding van polisielede tot die bevolking skets verder ʼn donker prentjie.

“Gugulethu het byvoorbeeld een polisielid vir elke 773 lede van die bevolking. Al sluit dié verhouding gespesialiseerde eenhede uit, wys dit steeds hoe ondoeltreffend die nasionale polisie is in die toewysing van beamptes en hulpbronne aan gemeenskappe wat dit die nodigste het.”

Die ideale verhouding, soos deur die Verenigde Nasies voorgestel, is een polisieman vir elke 200 lede van die bevolking. Suid-Afrika het gemiddeld een polisielid vir elke 383 lede van die bevolking.

“Die Wes-Kaap trek beslis aan die kortste end. Dit is om dié rede dat die DA 1 056 beamptes van die provinsiale plan vir die bevordering van wetstoepassing (Leap) na misdaadbrandpunte in die Wes-Kaap ontplooi het, aangesien ons nie meer kan wag dat die nasionale regering ons gemeenskappe veilig hou nie.”

Dr. Guy Lamb, ʼn kriminoloog by die Universiteit Stellenbosch, sê daar moet egter nie net na die polisie-tot-bevolkingsverhoudings gekyk word nie, maar dat gebiede met verhoogde misdaadsyfers uiteraard meer hulpbronne moet ontvang.

“Die polisie moet meer hulpbronne toeken waar misdaad die hoogste is. As daar teen die Wes-Kaap in dié opsig gediskrimineer word, sal die regering se teikens om misdaad te bekamp, nie behaal kan word nie.”

Die polisie het met die bekendmaking van hul misdaadstatistieke vir Oktober tot Desember 2021 30 polisiestasies gelys waar die aanmelding van ernstige misdade toegeneem het. Uit dié 30 stasies was vyf in die Wes-Kaap geleë, naamlik Pacaltsdorp (32,8%), Kaapstad‑Sentraal (27,9%),

Seepunt (23,6%), Paarl (17,6%) en Harare (12,7%).

Volgens Lamb dui die toekenning van beamptes tot ʼn groot mate op die prioritisering van ʼn provinsie. Indien die nasionale regering dus nie die Wes-Kaap as ʼn prioriteit beskou nie, sal dit minder hulpbronne ontvang. Hy benadruk egter dat misdaad ook net suksesvol bekamp kan word indien beamptes bevoeg is en reg aangewend word by die stasies waar hulle ontplooi is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Harley Davidson ·

Die totale meen niks een goeie eerlike polisie beamptes is beter as 1000 van die huidige klomp in die blou uniforms

Julius ·

‘n gesonde gemeenskap het nie polisie nodig nie, kry die eers die probleem met die gemeenskap reg.

Piet ·

Nou daar praat jy nou die waarheid. Dit is die algemene probleem in die land.

Gerd Lourens ·

Polisie getalle is irrelevant, want die werksetiek ontbreek!!!!

Andre ·

Dit is net nog’n teken dat anargie vinniger as wat ons besef, die oorhand kry. Sonder om’n Einstein te probeer wees kan die gevolgtrekking gemaak word dat die volgende verkiesing die finale einde van wet en orde gaan wees

marius ·

Deel van die aanslag om die WK te breek . Dis die waarheid .

ES ·

Dit is hoekom privaatsekuriteit seevier in hierdie land. As die meerderheid van polisielede nie korrup is nie, dan kry hulle nie genoeg hulpbronne nie.

Ons het ‘n uitstekende polisiestasie maar hulle kla altyd dat daar nie genoeg hulpbronne is nie.

Andries ·

Politieke speletjies sodat mense moet keelvol raak vir die DA en die stelers in bewind kan bring.

Vernon ·

Die min aanstellings daar is dalk n deudagte plan,sodat die DA sleg lyk in n provinsie waar dit goed gaan.

domheks ·

Nou hoekom het hoedeman in die eerste plek belowe om ‘n aantal te stuur – en dan verminder sonder verduideliking? Wil he die Wes Kaap moet SLEG vertoon om die DA by te kom!

piet ·

Maak nie saak hoeveel lede daar is nie, meeste van hulle het die houding om so min as moontlik te doen. Glad nie gerat om mense te help nie, soos die res van die staatsdiens. So terloops – kyk bietjie wat verdien hierdie manne deesdae.

Misky ·

En tog is daar meer sigbare polisiëring as enige ander provinsie.

Hayntjie ·

Ons is dankbaar vir die SAPS wat sekerheidsmaatskappy se dienste aanvaar om hulle met die bestryding en bekamping van misdaad te help. Ondersoekers van misdaad gevalle moet nou net ook meer private hulp kry.

Lillian ·

En dan praat ons nie eens van die af-sleg, af-lui, af-dood lede wat net goed is vir niks nie.

Anel ·

Blanks mag mos nie in diens geneem word nie. En as die lede nou geplaas word op plekke wat hulle nie wil wees nie, dan koop hulle ontslag. Baie min wat deesdae opgelei word is beroepspolisiemanne en vroue. Net daar om ‘n werk te hê. En omdat die wat in diens geneem word so onbevoeg is, neem dit meer as 8 maande om hulle op te lei. Vroeër was 6 maande genoeg, 2 innames per jaar. En maak nie saak wie jy was nie, jy was trots op jou uniform. En ons het baie respek gehad vir die swart lede wat op Hammanskraal opgelei was. Hulle was trotse polisielede. Wat is daar om op trots te wees vandag? En kyk hoe groot moet die uniforms wees? Wie kan in elke geval respek afdwing as hulle so lyk?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.