Al minder SA’ners vertrou polisie

(Argieffoto: Maroela Media)

Suid-Afrikaners se vertroue in die polisie het die afgelope twee dekades drasties afgeneem en het verlede jaar ʼn skokkende laagtepunt van 27% bereik. Dit beteken net ʼn kwart van Suid-Afrikaners het aangedui dat hulle die polisie vertrou of ten volle vertrou.

Die departement van wetenskap en innovasie, in samewerking met die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), het dié statistieke Woensdag bekendgemaak. Die bevindings is gemaak deur jaarliks onderhoude met tussen 2 500 en 3 200 Suid-Afrikaners landswyd te voer.

Hiervolgens het die gemiddelde vlak van landsburgers se vertroue tussen 1998 en 2021 met 15 persentasiepunte, van 46% tot 27% gedaal. Die skerpste daling het tussen 2010 en 2013 voorgekom, toe die persentasie Suid-Afrikaners wat gesê het hulle vertrou die polisie, van 41% tot 28% gedaal het.

Navorsers skryf dié tendens toe aan die Marikana-slagting, toe polisie in Augustus 2010 talle stakende mynwerkers doodgeskiet het.

Vertroue het daarna weer effens begin styg en in 2015 het 38% Suid-Afrikaners aangedui dat hulle die polisie vertrou.

“Dit wil ook nie voorkom of die polisie se hantering van die Covid-19-pandemie, inperkingsregulasies en voorvalle van polisiebrutaliteit ʼn noemenswaardige uitwerking op mense se vertroue in die polisie gehad het nie, aangesien 34% van mense in 2020 gesê het hulle vertrou die polisie.”

In 2021 het die publiek se vertroue in die polisie egter tot ’n laagtepunt van 27% gedaal. Navorsers glo dié daling kan gekoppel word aan die Julie-onluste verlede jaar toe Zuma-ondersteuners amok in KwaZulu-Natal en Gauteng gesaai het. “Baie mense het die polisie se swak prestasie tydens die onrus gekritiseer.”

Vertroue in polisie per provinsie

Daar is ’n beduidende verskil in die persentasie vertroue in die polisie in verskillende provinsies.

Volgens die statistieke het net 30% van die volwasse publiek in Gauteng vertroue in die polisie. In 2021 het net 19% van mense in Gauteng die polisie vertrou. In die Wes-Kaap, Noordwes en KwaZulu-Natal vertrou 36% van mense die polisie.

Die grootste afname in polisievertroue tussen 2020 en 2021 is in die Wes-Kaap opgemerk, waar die persentasie mense wat die polisie vertrou met meer as 20 persentasiepunte, van 43% tot 22%, gedaal het.

Faktore wat polisievertroue beïnvloed

Volgens die navorsers het vorige misdaadervarings ’n duidelike impak op landsburger se vertroue in die polisie. Diegene wat onlangs ’n slagoffer van misdaad was, het aansienlik laer vlakke van vertroue in die polisie getoon. Vrees vir misdaad het ’n soortgelyke uitwerking.

“Hoër vlakke van vrees word ook geassosieer met laer vertroue in die polisie. Dit sluit in vrees om in die donker te stap asook misdaadspesifieke vrese, waaronder bekommernisse oor huisroof of gewelddadige aanranding,” lui die verslag.

“Diegene wat ’n negatiewe ervaring met die polisie en hul reaksie op misdaad gehad het, het laer vertrouevlakke as dié wat wel met die polisie se optrede tevrede was. Vertroue in die polisie blyk ook om te verminder in gevalle van polisiemishandeling of -mislukking.

“Persepsies van polisiekorrupsie en dat die polisie mense sonder respek hanteer, het ook ’n sterk negatiewe uitwerking op die polisievertroue.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

36 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andries

In praktyk kom SA menseregte neer op ‘n groen lig vir misdaad. Wat help dit om die Polisie te vertrou?

Diline

Die rede dat mense nie polisie vertrou nie is omdat die meeste van hulle self deelneem aan kriminele aktiwiteite, rassistiese houdings betoon, onbevoegdheid om die werk te doen en party bloot net te SLEG om te werk. Sommige mense wat ‘n geval rapporteer word self ‘n slagoffer van die polisie!

Kokerboom

Die SAPD benodig RADIKALE EKONOMIESE TRANSFORMASIE…MAAR die President het NIE die visie of guts of oortuiging om dit ten uitvoer te bring!

Johan

Wat doen die Polisie nou weer…o ja daai klomp wat vir die politici werk.

huisvanisrael

Ek sou graag hulle wou vertrou, maar sit iemand in ‘n magsposisie en die kanse is omtrent honderd persent dat hulle dit sal misbruik. In Suid-Afrika kry die polisie persoonlike bevrediging daaruit om mense te mishandel en te verkleineer.