Al minder vullisterreine voldoen aan minimum vereistes – oudit

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

’n Onlangse oudit van munisipale vullisterreine het onthul dat slegs 24 (17%) van die 135 vullisterreine landwyd aan die minimum vereistes van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur vir Vullis voldoen. Dít vergeleke met 2019 se oudit toe 22% van vullisterreine aan die minimum vereistes voldoen het.

AfriForum, wat die oudit onderneem het, sê vullisterreine wat nie aan die vereistes voldoen nie, hou ʼn gevaar in vir die omgewing en mense se gesondheid.

“Die lae persentasie kan toegeskryf word aan verskeie probleme wat by munisipaliteite ondervind word wat dan lei tot die swak en onwettige bestuur van ons vullisterreine. Wanbesteding van fondse, swak instandhouding en ’n gebrek aan bekwame personeel is maar ’n paar van die probleme wat ons daagliks ondervind,” het Lambert De Klerk, bestuurder van omgewingsake by AfriForum, in ’n verklaring gesê.

AfriForum het Donderdag sy jaarlikse vullisterreinouditverslag bekendgestel, nadat vullisterreine in die onderskeie dorpe en stede waar AfriForum se takke geleë is, vroeër vanjaar geoudit is.

Nie een van die vullisterreine wat vanjaar in die Noord-Kaap, Vrystaat en Mpumalanga geoudit is het egter aan meer as 80% van die minimum vereistes voldoen nie.

Limpopo het slegs een uit nege vullisterreine (11%) in die provinsie wat aan meer as 80% van die minimum vereistes vir vullisterreine voldoen het.

Luidens dié verslag het 11 van die 16 vullisterreine (68%) wat vanjaar in Gauteng geoudit is, voldoen aan meeste van die minimum vereistes. In die Wes-Kaap het agt van die 19 vullisterreine (42%) aan meeste van die kriteria voldoen. Die onderskeie munisipaliteite is ook ʼn nakomingstelling toegeken op grond van hoe hul vullisterreine aan die bepaalde vereistes voldoen.

Die munisipaliteite wat die swakste gevaar het, is oorwegend in die Vrystaat geleë.

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Die Matjhabeng- plaaslike munisipaliteit (Allanridge) en Ngwathe- plaaslike munisipaliteit (Edenville) het elk 0% behaal. Odendaalsrus en Brandfort se munisipaliteite het elk ’n nakomingstelling van 2% behaal en dié van Steynsrus, Frankfort en Bothaville elkeen ’n nakomingstelling van 4%.

Die Dihlabeng- plaaslike munisipaliteit (Bethlehem) het ’n nakomingstelling van 6% behaal terwyl die Moqhaka- plaaslike munisipaliteit (Kroonstad) en Masilonyana- plaaslike munisipaliteit (Theunissen) 8% behaal het.

Die Tokologo- plaaslike munisipaliteit het die hoogste nakomingstelling in dié provinsie behaal met 52% in Dealesville en 56% in Hertzogville.

In die Noord-Kaap het die Orania- dorpsraad die hoogste nakomingstelling in die provinsie (66%) behaal, gevolg deur die munisipaliteite van Kimberley en Kuruman – elkeen met ’n nakomingstelling van 52%. Die Phokwane- plaaslike munisipaliteit in Jan Kempdorp het 0% ontvang.

Munisipaliteite in Gauteng het aansienlik hoër nakomstellings ontvang met die Ekhurhuleni- plaaslike munisipaliteit wat 91% in Brakpan, 94% in Springs, 95% in Alberton, 97% in Boksburg behaal het.

Die Stad Tshwane het 88% in Hatherley, 86% in Soshanguve, 84% in Bronkhorstspruit en 74% in Ga-Rankuwa behaal.

Die verslag toon verder dat ses vullisterreine tot niet is oor die afgelope jaar. Die meerderheid van dié vullisterreine is in Gauteng geleë.

Volgens De Klerk beteken dit dat sommige areas tans glad nie vullisterreine het nie. “Dit beteken dat daar onwettige storting gaan plaasvind,” het hy gesê.

“AfriForum is ook bewus daarvan dat sommige vullisterreine gesluit het en dat daar nie beoog word om nuwe terreine te vestig om die voriges mee te vervang nie, soos in Pretoria. Dit beteken dus daar gaan ’n toename wees in die hoeveelheid afval wat op die oorblywende terreine gestort word. Dit wek kommer omdat dié terreine ook nou vinniger gaan vol raak en moet sluit,” het De Klerk bygevoeg.

Luidens die verslag het geen enkele onwettige vullisterrein – met ander woorde ’n vullisterrein wat nie oor ’n lisensie of afvalbestuursplan beskik nie – aan die minimum wetlike vereistes voldoen nie. “Tog hou die munisipaliteite vol daarmee om dit as stortingsterreine te gebruik,” het De Klerk gesê.

Die verslag het verder getoon dat geen of min herwinning op die vullisterreine wat geoudit is gedoen word nie. “Dit dra grootliks by tot risiko’s vir mense se gesondheid en die omgewing en hierdie probleem moet dringend aandag kry,” het De Klerk gesê.

AfriForum gaan die oudit met Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bespreek en dit aan die Groen Skerpioene oorhandig vir verdere ondersoek, het die organisasie gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marius ·

Nairobi het op elke hoek ‘n beton dam waar die goed ingegooi word en dan word dit aan die brand gesteek . Dit is onhoudbaar . Ons is kort op hul hakke .

Miskruier ·

Ons hier op Modimolle het verlede week weer gestik in die giftige rook nadat die stortingsterrein aan die brand gesteek is.

Luciann ·

Dankie tog iemand doen iets hieraan! Ons wag al jare vir nuwe dumpings in Pretoria/Gauteng! Hule maak die dumpings toe en nooit nuwes oop nie!

PieterP ·

Afbreek verniel en brand, die kan hulle doen opbou en reg bestuur? Neewat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.