Al vier SA drenkelinge in Mosambiek gevind

Die Portugese Eiland aan Mosambiek se kus is ’n gewilde vakansiebestemming vir Suid-Afrika. Foto: MSC

Die liggame van al vier die Suid-Afrikaners wat enkele dae gelede aan die Mosambiekse kus as vermis aangemeld is, is gekry. Al vier het verdrink.

Kenny Mathivha, woordvoerder van Limpopo se premier, sê dié provinsie, met die hulp van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), die Suid-Afrikaanse ambassade en die owerheid van Mosambiek kan bevestig dat die laaste liggaam vroeg Saterdagoggend opgespoor is. Die ander drie is gister gekry.

Lesego Matsepe, Mmatholo Mogafe, David Kaise en Gregory Mfune se oorskot sal met die hulp van Dirco na Suid-Afrika gebring word. Drie van die vier oorlewendes is ook op pad huis toe; die vierde het twee dae gelede vir mediese behandeling teruggekom.

Die agt vriende was deel van ʼn groep wat op 12 Januarie na Mosambiek gereis het om een van hulle se verjaardag te vier. Die tragedie het op 14 Januarie afgespeel.

Hulle het vermoedelik ʼn boot van Maputo, die hoofstad, na die Portugese Eiland gehaal en daar in die see geswem, toe vier van hulle deur ʼn groot golf getref is en onder die water verdwyn het.

“Ons is verpletter deur die tyding en wil graag die nasionale regering, die president van Suid-Afrika en ons minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Lindiwe Sisulu, bedank vir hul flinke optrede nadat ons die berig ontvang het,” sê Stanley Mathabatha, Limpopo se premier.

Die premier het ʼn spesiale span aangewys wat gister twee van die oorledenes se naasbestaandes op Groblersdal sou besoek. Die span bestaan uit maatskaplike werkers en sielkundiges wat hulle die verlies kan help verwerk.

Die provinsie was intussen reeds in verbinding met die provinsiale owerheid in die Vrystaat, waar die ander twee slagoffers vandaankom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Anoniem ·

Hartseer ! God is so getrou en HY sal die naasbestaandes vertroos ?

Genoeg gehad ·

Al die amptenare wat Mosambiek toe was om die familie by te staan sal seker Maandag terugreis en die begrafnisse reel. Sterlte vir die familie.

Boet ·

Wens net julle Kan ook soveel doen vir al die plaas moorde maar nou ja dit laat mens dink nê. Wonder wie gaan vir al hierdie kostes betaal

Niklaas ·

Sterkte aan die naasbestaandes. Ek het net heeltyd die gevoel dat politieke amptenare skielik erg betrokke wil raak en gesien/gehoor wil word in hierdie verkiesingsjaar. Ek twyfel of dit dieselfde reaksie sou ontlok as dit blanke kinders was.

M ·

Wees bietjie meer positief Niklaas. Jy vergiftig dalk net jou eie gemoed.

Ati ·

David die ouens gaan jou mis op die Krieket veld (what a kind soul)sterkte aan al die families.Kom ons probeer ONTHOU dat hierdie oor niks Anders gaan maar oor die jong manne wat hulle lewens verloor het.jy maak daarvan wat jy wil.

Mom ·

Wat ‘n tragedie :-( David was ‘n goeie mens en wonderlike afrigter vir ons seuns. Ons kinders gaan hom mis. Ons gebede gaan uit vir die familie en vriende van al die drenkelinge. Los asb die politiek waar dit hoort. Hierdie mense het net die beste hulp verdien in ‘n tragiese situasie.

TinRSA ·

Dit is hartseer vir enige gesin om geliefdes te verloor. Mense wat nie gewoond is aan die see nie moet versigtig wees. Hoop nie daar was drank by die piekniek nie. En ek voel ook dat die bestand wat nou verleen word is bietjie meer as wat die gewone mense kan verwag. Daar is gedurende die Desember vakansie ‘n bekende persoon van ons dorp in ‘n motor ongeluk in Mosambiek oorlede maar die Premier van Limpopo het nie ‘n woord gerep daaroor nie. Nietemin was daar amper 1000 mense by sy roudiens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.