Albert Fritz afgedank

Albert Fritz, die Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, is Dinsdag afgedank. (Foto: ANA)

Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, het die trekpas gekry.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het Dinsdag gesê hy het die besluit geneem om Fritz uit die provinsiale kabinet te verwyder nadat hy die finale verslag van adv. Jennifer Williams, wat ʼn onafhanklike ondersoek na die bewerings teen Fritz gedoen het, ontvang het.

Fritz is in Januarie geskors weens bewerings van onder meer seksuele misbruik teen hom.

Williams se verslag is Sondagaand aan Winde oorhandig.

Sy het in die verslag onder meer bevind dat daar genoeg geloofwaardigheid is in die bewerings van seksuele wangedrag en drankmisbruik en dat daar ook genoeg bewyse is dat Fritz ʼn omgewing geskep het wat bevorderlik is vir seksuele wangedrag deur hom, of om jong vroue seksueel uit te buit.

“Ek het die inhoud oorweeg en ʼn vergadering met adv. Williams en ons eie regspan het gistermiddag plaasgevind. Ons het die verslag bespreek en het meer duidelikheid gevra,” sê Winde.

“Nadat ek versigtig deur die verslag gewerk het, is dit duidelik vir my dat mnr. Fritz nie ʼn geskikte persoon is om enige posisie in my uitvoerende raad te beklee nie. Hy is dus verwyder,” sê Winde.

Die premier sê hy is woedend oor wat lyk na bevestigbare voorvalle van ernstige seksuele wangedrag deur Fritz, onder omstandighede wat opsigself onvanpas was. Dit word boonop vererger omdat die wandade glo gepleeg is deur iemand wie se plig dit was om jong mense en gemeenskappe te beskerm. “Dit is ʼn skokkende skending van sy ampseed en die beginsels van ons konstitusionele demokrasie,” sê Winde.

Hy sê dit is ook ʼn herinnering dat geslagsgeweld op alle vlakke van die samelewing voorkom en dat almal – van president, tot premier, uitvoerende hoof, ma, pa, broer, suster of vriend, ʼn rol het om te speel om dit te beëindig.

“Ons erken die dapperheid van die klaers wat na vore gekom het en groot angs moes deurmaak. Dit is belangrik dat die manier waarop die bewerings hanteer word, hulle nie ontmagtig nie.”

Williams het in haar ondersoek gekyk na die bewerings van vier klaers wat Winde genader het. Die advokaat het uiteindelik altesame 18 getuies, wat die klaers insluit, uitgevra. Dit het ook onderhoude met Fritz en getuies wat hy benoem het, ingesluit.

Tydens die ondersoek het die getuies onder meer foto’s, e-posse, video’s, SMS-boodskappe en korrespondensie voorgelê wat oorweeg is.

Fritz het die geleentheid gehad om op die bewerings teen hom te reageer – hy het dit ontken – en het ʼn opsomming van die bewerings teen hom en ʼn stel algemene vrae wat uit die ondersoek gespruit het, ontvang. Hy het volledige antwoorde daarop verskaf.

Williams het bevind die “individuele klaers” se weergawe van gebeure stem heelwat ooreen, is heel moontlik en word op verskillende maniere gestaaf. Hoewel hul verhale verskil, is dit volgens Williams ʼn aanduiding dat daar nie ʼn sameswering teen Fritz is nie. Daar is wel ooreenkomste in die verskillende weergawes.

Williams het bevind die bewyse dui op ʼn voortgesette kultuur van die seksuele objektivering van vroue wat in die departement werk, wat boonop in stand gehou is deur ʼn onbetwisbare magsbalans. Sy ouderdom, magsposisie, politieke verbintenisse en geslag gee Fritz ʼn magsvoordeel, maar hy “blyk onbewus te wees van die magsdinamika wat ʼn rol speel in sy interaksie met jong vroulike interns of personeellede”.

Winde sê dit lyk of daar genoeg bewyse is om ʼn strafregtelike ondersoek teen Fritz van stapel te stuur en die premier sal vandag weer met die klaers vergader om sy steun te gee, sou hulle kies om aanklagte aanhangig te maak.

Die polisie het reeds ʼn ondersoek aan die gang gesit, maar ʼn klaer is nodig vir die ondersoek om te vorder. ʼn Derde persoon kan nie namens ʼn klaer strafregtelike aanklagte aanhangig maak nie en die deel van persoonlike inligting en besonderhede in die verslag – sonder die duidelike toestemming van die klaers – sal hulle ontmagtig.

Die klaers het tot dusver nie strafregtelike klagte aanhangig gemaak nie en het ook gevra om anoniem te bly.

“Ek gaan voort om die klaers aan te moedig om die polisie te vertrou en ʼn strafregtelike ondersoek moontlik te maak en ek sal hulle die versekering gee dat ek hulle sal ondersteun,” sê Winde.

Anroux Marais sal intussen as LUR vir gemeenskapsveiligheid waarneem tot die pos permanent gevul kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Wielspore ·

Drankmisbruik en seksuele wangedrag loop hand aan hand en persone wat hulle hieraan skuldig maak mag nie toegang kry tot die openbare sektor waar jong mense is werk. Albert Fritz moet sy kop in skaamte sak en ek hoop dat geregtigheid sal geskied, seksuele misbruik kan nie ongestraf verby gaan.

Misky ·

Welgedaan Mnr. Winde. Hoop ons president sien hoe dit veronderstel is om gedoen te word.

Jaco ·

So sulke goed gebeur sowaar ook onder top politieke ampsdraers van die hoogheilige DA met hulle sogenaamde “skoon regering”. Nou wonder ek net, gaan Fritz uiteindelik ook skotvry uit dié ding kom, of is dít net ‘n voorreg vir die ANC?

Chris dupreez ·

Ten minste doen die ,,hoogheilige,, DA iets aan die saak.

SlinkseKoljander ·

Ek dink mense lees jou stelling verkeerd, daai voorreg is behou net vir die ANC

JohanR ·

Moenie gryp waar jy nie mag gryp nie. Vewag oor soe ses weke waaneer die krisis soe bietjie bedaar het sal Fritz iewers anders aangestel word teen ‘n jaarlike salaris van R2 000 000. DA word nou net soos die ANC met sy kaders…..

JohanR ·

Sean – as jy nie meer ‘n werk by die DA het nie, loop jy oor na die ANC en siedaar jy het ‘n werk!

Casper ·

Mnr.Winde,dankie vir jou dapper maar ferm optrede teen die seks behepte lummel en bewys tog mede lesers verkeerd dat hy nie herontplooi gaan word nie.Daar moet strafregtelike klagtes volg.Hy is nie te oud nie,kyk maar wat het met ou Bobbie Hewit gebeur.

Oom ·

“Fritz is in Januarie geskors weens bewerings van onder meer ‘seksuele misbruik’ teen hom”??? Nou wie het hom “misbruik”? Verderaan in die berig word die ‘n ander storie vertel.

Leon ·

Gaan binne vgl week by cope aansluit en dan verkondig hoe hy nie met die DA saamstem ens. Wys net nogmaals dat daar geen integriteit bestaan in politiek. Dit laat vraag onwillekeurig bestaan of “SULKE PERSONE” enige gewete het.

Papsak ·

Ek se nie my President nie maar ja SA se president hoop hy sien en leer hoe dit gedoen moet word

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.