Alberton-ongeluk: Bestuurder sê hy is onskuldig

'n Foto van die ongelukstoneel

‘n Foto van die ongelukstoneel

Isaac Wade Maruding, die vragmotorbestuurder wat glo verlede Dinsdag se noodlottige kettingbotsing op die N12 in Alberton, Johannesburg veroorsaak het, voer aan hy is onskuldig.

Maruding het Woensdag in die Palmridge-landdroshof aansoek gedoen om borgtog, waartydens hy sy onskuld in sy beëdigde verklaring voorgehou het.

Staatsaanklaer John Ntuli het sy borgtogaansoek teengestaan en gesê die beskuldigde, ʼn getroude pa van twee kinders, is ʼn vlugrisiko. Hy voer aan Maruding het van die ongelukstoneel gevlug sonder om die saak by die polisie aan te meld. “Hy is eers ʼn dag ná die ongeluk in hegtenis geneem. Sy optrede kom neer op ontduiking. Ons gaan aanvoer dat hy van die toneel gevlug het,” het Ntuli gesê.

Ao. Joas Phokungwane, ʼn ondersoekbeampte van die polisie, het tydens die aansoek getuig. Hy het aan die hof gesê Maruding was nie ná die ongeluk op die toneel nie, en daar was geen bewyse dat hy na ʼn hospitaal geneem is nie.

Die hof het ook gehoor dat Maruding voorheen skuldig bevind is aan roekelose of nalatige bestuur en strafbare manslag terwyl hy in die 1990’s as ʼn taxibestuurder in Viljoenskroon in die Vrystaat, waar hy woon, gewerk het.

Ntuli het gesê om hom op borgtog vry te laat, sal die regsisteem ondermyn en die verkeerde boodskap aan oortreders stuur. Hy het verder aangevoer die beskuldigde gebruik sy bestuurderslisensie om ʼn bestaan te maak, en die moontlikheid bestaan dat hy die veiligheid van die publiek in gedrang gaan stel indien hy vrygelaat word.

Landdros Samuel Hlubi het die saak tot 27 Oktober uitgestel wanneer Maruding sal hoor of sy aansoek suksesvol was.

Hy is op 15 Oktober in Potchefstroom in hegtenis geneem nadat hy die vorige dag tydens spitsverkeer in 48 voertuie ingeploeg het. Die botsing het drie mense se lewens geëis en 16 mense beseer. Daar is aanvanklik berig dat vier mense in die ongeluk dood is, maar volgens bewysstukke wat Dinsdag aan die hof voorgehou is, is drie mense dood. Twee is op die toneel dood, en een persoon is in die hospitaal oorlede.

Sy klagstaat is daarvolgens aangepas en hy staan nou tereg op drie aanklagte van strafbare manslag en ʼn aanklag van roekelose of nalatige bestuur.

Lees alles, en sien beeldmateriaal van die Alberton-ongeluk hier.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

NV ·

Nee die bestuurder is nie onskuldig nie. As jy met ‘n vragmotor ‘n lang afdraande aanpak, sorg jy dat jy so vinnig as moontlik in eerste rat kom, want as ‘n vragmotor begin spoed optel is remme nie voldoende om dit te stop nie. Jy sorg dat jy nie jou remme nodig het nie.

christell ·

Stem volkome saam. Laat hy solank sit. Mens sien op ‘n daaglikse basis hoe hulle die verkeersreels oortree. En durf jy net dit waag om hulle attend te maak oor hul bestuursvernuf, is die gort gaar. Ek wonder daagliks waar is die verkeers-beamptes! Heel moontlik besig met hulle eie onderhandelinge. ‘n Mens moet eet jy weet.

scalla ·

Nou wonder ek net as hy onskuldig pleit, wie het die lorrie bestuur, van die toneel verdwyn, ek dink daar was iets ander betrokke.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.