Alberton-ongeluk: Trokbestuurder al voorheen skuldig aan strafbare manslag

'n Foto van Dinsdag se toneel. Foto: Ridz @ridz801/Twitter

‘n Foto van Dinsdag se toneel. Foto: Ridz @ridz801/Twitter

Die vragmotorbestuurder wat in hegtenis geneem is ná Dinsdag se noodlottige kettingbotsing op die N12 in Alberton, Johannesburg, is al voorheen aan strafbare manslag sowel as roekelose of nalatige bestuur skuldig bevind.

Isaac Wade Maruding (44) het Donderdag in die Palm Ridge-landdroshof verskyn op vier aanklagte van strafbare manslag en ʼn aanklag van roekelose of nalatige bestuur.

Staatsaanklaer John Ntuli het aan die hof gesê die staat moet nog vasstel of Maruding se lisensie ná sy vorige skuldigbevindings teruggetrek is.

Daar word vermoed dat hy tronkstraf opgelê is vir albei oortredings. Die staat het aansoek gedoen dat die man vir ʼn skedule vyf-oortreding verhoor word, omdat hy reeds twee skuldigbevindings het.

Die hof het ook aangehoor dat die beskuldigde Dinsdag ná die ongeluk nie op die toneel was nie. “Hy is Woensdag by sy huis in Potchefstroom in hegtenis geneem,” het Ntuli gesê. Hy het gesê die staat moet nog vasstel of die moontlikheid bestaan dat hy van die toneel gevlug het.

Intussen het Maruding se regspan Donderdag in die hof van die saak onttrek. Gerhard Louw en Deon van Staden het aan die hof gesê hulle het nie opdrag ontvang om Maruding verder te verteenwoordig nie. Maruding het aan die hof gesê dat hy sy eie prokureurs sal aanstel vir sy borgtogaansoek.

Die saak is tot 22 Oktober uitgestel wanneer hy na verwagting om borgtog gaan aansoek doen.

Vier mense is dood en 16 mense is ernstig beseer nadat Maruding se vragmotor Dinsdag tydens spitsverkeer in ongeveer 50 voertuie ingeploeg het.

Klik hier om foto’s van die ongeluk te sien.

Klik hier om ʼn video te sien wat ná die ongeluk geneem is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nina

Reeds voorheen aangekla EN skuldig bevind; en tog is hy op die pad agter ‘n massiewe voertuig se stuurwiel. WOW!

Nina

MAROELA, ek wil graag weet hoekom bykans AL my kommentare verwyder word of glad nie geplaas word nie! Daar was geen rassisme of enige iets anders in EEN van my plasings nie.

Marlene

Die vragmotors gee niks om nie. Hull is groot so jy moet padgee. Ek was in so storie by Van Reenens pas en die vragmotor het ons afgestoot moes in die aan komende verkeer ry gelukkig het die aankomende verkeer gesien wat gebeur en het links gegaan. Toe ons verder ry kom ons weer by die vragmotor en ek se vir my man ry net. En so waar as wragtig op die afdraande doen hy dit weer. Ek het sy nommer gevat en sy maatskappy gebel en dit was n maatskappy in Standerton en die operations manager se hy kan… Lees meer »